Ek kom op ‘n stuk af wat ek in Februarie 2020 geskryf het en nooit geplaas het nie. My 3 was toe graad 1, 5 en 7. Ons roetine het intussen in nuwe voue geval. Soos die kinders ouer word pas ons immers aan. Tog dink ek daar is ander wat waarde kan vind in hoe ons roetine vir daardie ouderdomme gelyk het.
Een van die vrae wat gereeld op duik is hoe om verskillende ouderdomme saam tuis te leer. Natuurlik is daar verskillende maniere om dit aan te pak, maar ek deel graag wat vir ons werk. Dit is juis ook een van die redes waarom ons tuisonderrig doen op die manier wat ons doen.
Die basis van ons leer word gebou op literatuur of te wel voorlees van goeie boeke. Dit is egter nie bloot vir die lekker daarvan nie! Taal vorm die fondament waarop alle leer gebou word. Kinders kan nie leer as hulle nie begrip van die taal het nie. Beide lees begrip en luister begrip. Dit strek verder as net tale of leervakke. Selfs vir wiskunde is dit krities.
Dit is juis leesbegrip wat menigte kind met wiskunde pootjie. Hulle moet immers eers weet wat gevra word. Die vrae raak ook meer uitgebrei. Dikwels sal kinders die eerste helfte van die vraag lees en korrek bereken, maar dan nie die laaste deel lees nie. En sodoende die hele pot mis sit.
Hier is ‘n vinnige voorbeeld. Die som van 3 opeenvolgende getalle is 33. Bereken watter 3 getalle dit is. Wat is die produk van die 3 getalle?
‘n Kind moet weet wat beteken opeenvolgende en produk om net te begin om die vraag aan te pak. Dikwels sal hulle die 3 getalle bereken, maar dan nooit die produk uitwerk van die 3 getalle nie.
Natuurlik om so saam vir die kinders te lees hoef ek nie soos ‘n afkop hoender tussen hulle 3 rond te spring om elk se eie werk te dek nie. Nie dat daar nie ook sulke oomblikke is nie (maar dit is baie minder as by van die ander benaderings).
Ek is seker baie van julle wonder steeds wat ek bedoel as ek sê ons benadering is gebou op literatuur. Dit is vir my makliker om julle ‘n kykie in ‘n week by ons huis te gee. Dalk gee dit julle ‘n beter idee hoe ek verskillende ouderdomme saam te leer.
Die vorige week was ons middel van die kwartaal “af week”. In so ‘n week is ons fokus op eksperimente en kunsvlyt en as ons iewers agter geraak het kan ons werk in haal in die week (ons was mooi op datum so ons kon regtig rustig wees). Ons het die 1ste les uit Flying Creatures of the Fifth Day se eksperimente gedoen. Lekker gelees en skep en sommer net bietjie ontspan.
En toe die nuwe week met nuwe entoesiasme aangepak.
Maandag
Dis ‘n koel reëndag in die kaap en my 3 benut die kans om in te lê. Waar hul gewoonlik almal al aan die gang is voor 8 uur het die 3 eers 9 uur uit die vere gekruip. Dis ‘n raar ervaring om my eie dag sonder die geskarrel van kinders te begin. Met ons laat aande agv die gimnastiek voel ek egter dis goed as die kinders af en toe bietjie ekstra slaap in haal.
Die 3 het hul oggend werkies gedoen. Wat beteken het dat een die skottelgoedwasser moes uitpak, een potplante natmaak en die ander een die badkamer skoonmaak.
Kleinsus is vreeslik geïnteresseerd in kleure meng op die oomblik. Ons het dus die dag afgeskop deur te leer van die kleurwiel en hoe kleure gemeng word.
Ouboet het ‘n stukkende LED lig uitmekaar gehaal om te kyk wat fout is en gekarring met verskillende volts en in die proses een LED geblaas.
Ek en ousus het vinnig deur haar musiek teorie terme gewerk wat sy moet leer vir les Woensdag.
Ons het begin lees oor Korea (wat ons land vir die volgende 4 weke is) uit Kinders van die Wêreld en die land gaan soek op ‘n kaart om te praat oor lande wat naby is en hoe dit die land se kultuur, taal ens beïnvloed.
Kleinsus leer van kosmaak en het begin met middagete. Sy moes aartappels skil en ouboet het kom help toe hy sien dat dit stadig gaan.
Terwyl die kinders eers lees en later Uno met speelkaarte speel luister ons na Handel. Hy is ons komponis vir die volgende 4 weke. Ons begin na middagete lees oor sy lewe.
Die 2 meisiekinders verf (die oudste ‘n muis wat sy die vorige week van klei gemaak het), terwyl ouboet nog lees.
Laat middag het al 3 gimnastiek. Terwyl ons wag vir die oudste 2 se lesse om klaar te maak het ek en kleinsus leeswoorde geoefen. Ek en sy sit gereeld saans by die gimnastiek en wiskunde doen of lees of skrif oefen. Die 2 ure van wag raak vir haar lank, so dis een manier om haar ten minste vir ‘n ruk stil besig te hou.
Voor slaaptyd lees ek voor uit Pilatus tot Molshoop van Jan Spies. Die streekstaal van die vertellings is interessant en ons lag lekker vir die mense se dinge. Vir ons jongste lees ek uit Paddington.
Dinsdag
Ons dag begin met gimnastiek. Daarna het die 3 eers hul oggendwerkies kom doen. Wat beteken dat die kar gewas, huis gevee en skottelgoed weg gepak is.
Die meisiekinders speel skool-skool en oefen sommer in die proses skrif. En ouboet oefen tjello.
Ons lees nog bietjie oor Handel.
Na middagete oefen ousus viool.
Ons leer van die verskillende tipes meervoude en lees die eerste hoofstuk van Gelofteland van FA Venter.
Tussen deur is die kinders in en uit die huis om te sien hoe ‘n laaigraaf die boorde naby ons huis uit ruk. My oudste is mal oor groot masjinerie en bestook die werksmense konstant met vrae oor waarmee hulle besig is en hoe die laaigraaf werk. En ousus gaan klim in ‘n boom om ongestoord te kan lees. Sy’t sommer gou Alan MacDonald se Oscar and the Dognappers in die tyd van begin tot einde gelees.
Laat middag ruim die 3 bietjie op.
Ek lees verder uit Pilatus tot Molshoop en Paddington.
Ousus lees haar 2de boek vir die dag klaar voor slaaptyd, Naughty Amelia Jane! Van Enid Blyton
Woensdag
Dis die bedrywige dag in ons week. Die oudste 2 het beide musiek les, wat ‘n groot hap uit ons dag vat en dan het al 3 so op ‘n streep gimnastiek die middag .
Voor die eerste musiek les doen die 3 gou hul oggend werkies (skottelgoed weg pak, badkamer skoonmaak en asblik uitvat). By die les lees ousus Hello, Mr Twiddle van Enid Blyton klaar (sy’t darem voor die les al ‘n stuk gelees) en ek en kleinsus hersien klanke en lees woorde.
Die oudste 2 doen van hul wiskunde vir die week en ons spring weg met die 9de les uit Flying Creatures of the Fifth Day. Dit handel oor ‘n algemene beskrywing van insekte.
Dit is al waarvoor ons tyd kry voor ons weer in die kar moet spring vir die volgende musiekles (en dan gimnastiek). Tydens gimnastiek lees ouboet terwyl hy vir sy les wag en terwyl kleinsus weer wag doen ek en sy leeswoorde en klankhersiening.
Ek lees verder uit Pilatus tot Molshoop en lees prenteboeke vir kleinsus.
Donderdag
Die 3 het gou hul oggend werkies (skottelgoed wegpak, afstof en plante natmaak) gedoen voor ons oggend gimnastiek toe is. Ousus lees tydens die les (sy lees later die dag Pocahontas van Mari Hanes klaar) en ek en kleinsus doen wiskunde.
En net daar ontspoor ons dag. Een van die maats wat saam gimnastiek doen wil kom kuier en dan kan hy weer saam in ry as ons inkom vir die aand se gimnastiek les. My planne vir die dag is in die wind, maar is dit nie juis hoekom ons tuisonderwys doen nie? Sodat ons aanpasbaar kan wees nie?
Donderdae middae kuier ons gereeld of gaan op “Wild and free” uitstappies waar die kinders saam met maats iets in die natuur ontdek en “nature journaling” oor dit doen.
Tydens gimnastiek lees ouboet en ek en kleinsus doen nog wiskunde (ons het eintlik al die werk vir die week al gedoen, maar sy wil nog doen, so ons gaan aan).
Ek lees verder uit Pilatus tot Molshoop en lees prenteboeke vir kleinsus.
Kantnota: Het julle geweet dat vlieë net 25 dae lank lewe en nooit in daardie tyd hoef te eet nie (Indien jul wonder, my kinders het ‘n vlieg vroeër die week gevang en na al die dae besef die vlieg lyk nog 100%. Hulle wou toe weet hoe lank ‘n vlieg sonder kos kan gaan.)
Vrydag
Die kinders doen hul oggend werkies (badkamer was en vensters was, die skottelgoed kan eers later uitgepak word).
Ouboet het Hurricane Gold van Charlie Higson klaar gelees (hy was gisteraand so naby klaar dat hy gou eers vanoggend die laaste stukkie gelees het). En ousus lees Amber Brown is green with envy van Paula Danziger
Die oudste 2 doen die res van hul wiskunde en kopieerwerk, terwyl kleinsus speel.
Ouboet oefen tjello en daarna werk ons deur die verskillende vorme van verkleinwoorde. As ons so taalleer doen moet hulle ‘n paar sinne skryf om die kennis in te span. Ousus oefen viool.
Ons het die week begin met Edusense se “book club” (ons is is agter, want ek het eers laat aangesluit by die klub wat al laas week afgeskop het). Ek gebruik die stuk sommer vir die oudste 2 om hardop lees te oefen. Die week lees ons hoofstuk 1 tot 3 van The Adventures of Danny Meadow Mouse. Die meisies maak blaar diere prent wat een van die aktiwiteite is en ons kyk na diere spore en gaan kyk hoe die soort muise lyk.
Die meisies maak vir ons middagete.
Ons werk verder deur die 9de les uit Flying Creatures of the Fifth Day oor insekte.
Ons lees verder uit Gelofteland.
Daarna val ons weer in die pad gimnastiek toe.
Tussen die ander lees deur het my oudste 2 ‘n dosyn keer die Agent Snoet strokieprentboeke, wat hul die vorige naweek by die biblioteek ontdek het, gelees en ‘n paar Asterix boeke.
Ons week
En dis ons week. Elke week lyk nie presies dieselfde nie, maar so tussen deur pas ons ongeveer dieselfde dinge in.
Ek is seker vir die georganiseerde siele klink dit effe deur mekaar. As jy egter ‘n meer “normale” lewe het met aktiwiteite smiddae kan jy al die dinge mooi in pas in die oggend. En beslis meer orde skep.
Deel van wat lyk soos chaos is dat die oudste 2 self in beheer is van hul wiskunde, kopieerwerk en taalleer. Hulle het afgebakende werk vir elke week en hulle besluit self wanneer hulle dit doen en vra net vir hulp met dit waarmee hulle sukkel.
Daar is 2 redes waarom ek die literatuur gebaseerde leerstyl verkies. Die eerste is dat dit maklik is om toe te pas as jy verskillende ouderdom kinders het.
Die tweede is dat ek oortuig is dat ons taal beter bemeester deur dit te hoor (waarvoor voorlees baie help) en self lees. Die normale skool model spandeer hope tyd aan spelwoorde oefen en taalreëls. Terwyl ‘n mens soveel makliker dit leer deur die taal te gebruik. As jy dan deur die reëls werk, maar dit vir jou meer sin.