In wat nou soos ‘n oogwink voel is ons oudste se skooljare verby. Vyftien jaar terug het ek ons manewales hier begin deel. Nou het ons aan die einde van ‘n hoofstuk gekom. Volgende jaar stap hy ‘n hele nuwe avontuur in!
Dit voel nog baie onwerklik vir my. Om terug te kyk op die ongelooflike tyd wat ons as gesin saam kon spandeer en groei is so spesiaal. Meeste van alles wil ek vir almal wat nou aan die begin van die avontuur staan, of wat in die middel daarvan nog swoeg en sweet, sê dit is moontlik om van die begin tot die einde te tuisskool. Ja, daar is uitdagings, maar die vreugdes en tyd saam is soveel meer kosbaar.
Wat die toekoms hou is nog effe onseker. Die jongman het toelating tot Meganiese Ingenieurswese gekry by Stellenbosch Universiteit (alhoewel ek vermoed hy sal uiteindelik sy liefde vir elektronika en meganika kombineer). Dit alleen is ‘n reuse oorwinning vir hom en vir tuisskolers wat ‘n eklektiese, buite die boks benadering volg. Ja, mens hoef nie ‘n boks / tradisionele kurrikulum te volg om studie deure oop te maak nie. Jy kan in beheer bly van jou kind(ers) se onderrig materiaal en ‘n doelgemaakte plan vir hulle skep tot in matriek.

Sy jaarboekblad. Hoe pas mens 13 jaar in een bladsy in?
Hopelik kry ek iewers tyd om met julle te deel hoe mens met die minimum fondse die maksimum kan bereik. Nie dat die fondse nie ‘n kopseer bly nie. Tans vertrou ons nog vir juis daardie fondse om die volgende 4 jaar se studies vir die man moontlik te maak. So alhoewel hy hoop om volgende jaar te gaan studeer is daar nog ‘n kans dat hy ‘n ander pad sal moet stap. Maar ons loop in die wete dat die Here elke tree van die pad saam met ons gestap het en dat Hy ook in beheer bly van die toekoms. Die regte deur maak altyd op die regte tyd oop. Al is dit nie altyd die deure wat ons verwag het nie.
Hierdie laaste jaar was nie ‘n maklike jaar nie. Die uitdagings en teleurstellings wat die man moes oorkom, veral die laaste jaar, was baie. Dinge kom dikwels nie maklik vir hom nie, veral omdat hy heelwat gesondheidsuitdagings het. Juis dit is wat vir my uitstaan die jaar. Hoe hy telkens opgestaan het en met nuwe moed en durf aangegaan het. Sy deursettingsvermoë, werksetiek en moed is verbysterend. Maar ek glo dit is juis hierdie karaktertrekke wat in die toekoms vrugte sal afwerp.
Dit was ‘n propvol jaar. Ek het dikwels gewonder of hy nie meer afgebyt het as wat hy kon kou nie. Matriek bly immers besig al tuisskool jy. As jy nog musiek en speel in ‘n jeugorkes saam met gimnastiek op Junior olimpiese vlak in die pakkie gooi, raak dinge dol. Maar tussen dit alles deur het hy nog sy bestuurslisensie ook gekry en kon hy die einde van sy skooljare met ‘n heerlike ete en dans saam met sy vriende vier.

Die man was van die dapperes wat besluit het hy wil ‘n EB bestuurslisensie hê.
Laas jaar het ek nie met julle ons gewone hoogtepunte van die jaar gedeel nie. So hier is sommer ‘n blitsige terugblik oor die hoogtepunte van sy laaste 2 jaar.
Hy het die 2024 kompetisie seisoen afgesluit deur 4de algeheel te kom by die MAG Nasionale kampioenskappe in die Junior olimpiese afdeling, met tweede plekke is pbar, pommel en vloer. Die teleurstelling om dus die jaar tydens die Weskaap proewe sy gewrig te beseer en nie verder te kan deelneem nie, was groot. Groter as dit was die uitdaging dat hy steeds nie op die gewrig kan druk nie en dus vir die laaste paar maande baie beperkte apparaat kon oefen. Die gevolg was dat hy daardie tyd ingespan het om te werk aan sy “cross” op ringe; en wat ‘n oorwinning was dit toe hy dit die dag vir die eerste keer kon reg kry. Dit is beslis nie die mees uitdagende gimnastiek vaardigheid nie, maar dit bly ‘n klassieke beweging wat nie baie gimnaste by uit kom nie.




Hier is baie ure se musiek geoefen in die huis. Veral na die gimnastiek besering was tjello speel ‘n goeie uitlaatklep. My drie het die voorreg gehad om op my jongste suster se troue haar instap musiek te speel. Daar was vele optredes saam met die Stellenbosch Jeugorkes (en die Classical Sounds orkes) en ek was verstom toe hy onlangs begin werk het aan graad 8 musiek stukke. Hopelik sal hy tussen alles deur in die toekoms sy graad 8 kan klaar maak. Ek het beslis nie toe hy in 2018 begin speel het gedink dat dit is waar dit hom sou vat nie. Om saam met ander musiek te maak is vir hom ‘n groot vreugde en hy het soveel nuwe vriende gemaak.





En dan sommer net ‘n paar foto’s van die matriekete en dans. Almal het gedink dat die klomp baie foto’s deur die aand sou neem, maar net tuisskolers sal saam kuier en nie ‘n enkele foto self neem nie. Net nog ‘n oorwinning dat die jongmense eerder tyd saam wil spandeer as tyd op hul fone. (Die matriek selfie “props” wat nie spesifiek vir 2025 was nie kan gratis afgelaai word by: https://lomi.co.za/product/matriek-selfie-rekwisiete/)






