Op 11 Januarie 2011 het ek my heel eerste bloginskrywing gemaak (toe nog as Manewales). My oudste 2 kinders het later daardie jaar 2 en 4 jaar oud geword. Dit is ook die jaar waarin ek die eerste keer begin dink het aan tuisonderwys.
Aanvanklik het ek net ons manewales gedeel en idees hoe om voorskoolse kinders tuis te leer en teen einde 2012 het ek begin om die eerste produkte wat ek vir hulle gemaak het met julle te deel. Oor die jare het dit gegroei. Daar was alles van eksperimente tot kunsvlyt, skootboeke tot wiskunde idees.
Ek het egter besef dat prettige wiskunde produkte in Afrikaans skaars is en begin werk aan ‘n boek- en eboekreeks Somme(r) Pret. Die eerste 3 boeke (Somme(r) Pret 1, 2 en 3) het ek in Augustus 2016 begin verkoop en Somme(r) Pret Begin het vroeg in 2017 gevolg.
Gou het ek besef daar is ‘n groter behoefte en begin om ook Pretpakke te maak. Dit was vinniger produkte om saam te stel as die eboeke en ‘n manier om makliker vir beide my eie en ander kinders wiskunde aktiwiteite te skep.
Hoe langer ek met die produkte gewerk het hoe meer het ek besef dat Afrikaanse ouers ‘n alternatief soek om wiskunde op ‘n prettige manier vir hul kinders te leer. Ek moes so gereeld hoor dat daar bloot nie Afrikaanse opsies beskikbaar is nie en dat Engelse materiaal dus al alternatief is.
Vir iemand wat glo dat moedertaal onderrig bobaas is, het dit my gegrief dat Afrikaanse kinders in Engels wiskunde moet doen bloot omdat daar nie vir hulle ‘n ander opsie was nie! Dit terwyl my eie gesin ‘n bewys was dat dit moontlik is om wiskunde in Afrikaans te doen en dit pret te hou.
In die tweede helfte van 2017 het ek dus die malperd opgesaal om ‘n tuisskool alternatief in Afrikaans te begin saamstel. Daar is maande se navorsing in die projek in en daarna moes al die idees saam gesit word en produkte geskep word. Toe eers kon die verpakking van die produk begin en al die fieterjasies om dit gebruikersvriendelik te kry. Ek het soveel gunste ingeroep. My familie moes help proeflees, video’s skep en nog soveel meer. My kinders het vele kere gekla dat ek teveel tyd voor die rekenaar deur bring. Naweke en vakansies is opgeslurp en dikwels het dit gevoel of dit net nooit klaar gaan kom nie.
Ek wonder as ek destyds geweet het hoeveel tyd daarin sou gaan of ek nog so kapabel sou wees om die projek te begin. Waarskynlik nie. Hierdie program het my hope slapelose nagte en vele grys hare gegee, maar ongelooflik genoeg kon ek dit 3 Maart die jaar in my splinternuwe aanlynwinkel laai.
Dit is iets wat beslis nie moontlik sou wees sonder my gesin se geduld, familie se hulp, terugvoer van vriende en kliënte en hope krag en inspirasie van God nie. Ek glo nog altyd dat Hy nie net die een is wat werk op ons hart druk nie, maar ook die een wat die bekwaamheid in ons skep om daardie taak te voltooi. Op my eie sou ek dit immers nooit kon doen nie.
Daarby besef ek dat hierdie nog net die begin is. Dat daar nog baie geskuur en geskaaf gaan word, maar my hoop is dat dit gesinne sal help om wiskunde op ‘n ander manier aan te pak. (En hopelik inspireer dit nog wiskunde entoesiaste om hul eie produkte te ontwikkel en alternatiewe vir die Afrikaanse mark te bied).
As jy meer wil weet oor my alternatiewe wiskunde program vir die grondslagfase gaan loer gerus in by die Somme(r) Pret Wiskunde Program. Dit span hoofsaaklik speletjies en aktiwiteite in om wiskunde op ‘n meer organiese manier vir kinders te leer.