Hierdie eerste kwartaal van 2022 was my een te veel. In alle eerlikheid is elke jaar se eerste kwartaal rof. Ons moet weer ‘n nuwe roetine vind en saam met dit val die atletiek reëlings en my ander jaar admin.
Terwyl die kinders klein is dink ‘n mens dat dit later rustiger sal word, maar dit word eintlik net anders. Daar is ander dinge wat jou besig hou, ander uitdagings wat jou rek. Die grootste verskil is waarskynlik net dat jy meer slaap in kry. Wat natuurlik ‘n reuse verskil maak!
Die jaar was dit meer as net ‘n nuwe roetine wat ons moes vind. Ek moes my kop rondom ons matriek opsie kry en alles vir dit in plek sit. Intussen moet my kinders nou op twee verskillende plekke gimnastiek oefen. Dit bly ‘n logistieke nagmerrie om kinders op dieselfde tyd op 2 plekke 13km uitmekaar te kry.
Daarby saam is baie tyd daarin om die blog na ‘n nuwe platvorm te skuif en ‘n aanlyn winkel gebou te kry. (Dankie tog vir hulp van my suster wat meer tech savy is. Sonder haar sou dit nie moontlik gewees het nie). Plus ek moes die “finishing touches” op my wiskunde program sit om dit op die winkel te kan laai. Die program was immers die rede hoekom die winkel in die eerste plek noodsaaklik geraak het.
Die probleem is dat al is die program al vir meer as 3 weke beskikbaar, het ek nog nie die tyd (of krag) gehad het om dit te begin bemark nie.
Saam in die mengbak het ons 7 weke gehad van siekes of beserings in die huis. Alles van tandabsesse tot vieslike maaggoggas, blote verkoues en ‘n verstuite vinger tot werwelbesering. Ek bou altyd tyd in ons program in vir moontlike siektes en krisisse, maar die kwartaal was daar net te veel om steeds binne my beplanning te bly. Dit was dus werklik ‘n gespook om net soort van op roete te bly. Ons sien maar die fisio en tandarts uitstappies as ‘n leerervaring.
Daarom is ek ongelooflik dankbaar vir die kort vakansie. Ek hoop om bietjie asem te skep en tyd te kry om weer met julle al my gedagtes te deel. Ek het ‘n behoefte om weer ‘n slag iets nuuts te skep en natuurlik moet ek kop krap hoe om ‘n buite die boks wiskunde program te bemark. Die laaste deel is my grootste uitdaging, want bemarking is een van my swak punte. Ek skep baie eerder nuwe produkte. Ja, ek weet 1 week is effe min om dit als te doen, maar ten minste kan ons weer herlaai.
Wat ek eintlik probeer sê is dat dit nie saak maak hoe lank jy tuisskool nie, die uitdagings bly daar. Elke nuwe jaar en elke nuwe seisoen het sy eie unieke probleme en uitdagings. En saam met dit sy eie vreugdes en bevrediging!
Jy, mamma, doen niks verkeerd as jy spook of klei trap nie. Jy hoef nie meer te wees as wat jy is nie. Bly net aanhou en uithou en as jy soms eers ‘n slag moet gaan lê om asem te skep is dit nie ‘n mislukking nie. So lank jy weer opstaan en aangaan.
Ek dink dit is die besondere vermoë van ma’s. Ons maak dinge werk vir ons kinders. Of dit is om die balanseer toertjie, van werk en kinders op skool te hê, te doen of die een om tuis te wees en jou kinders self te leer. Ma’s is spesiaal. Onthou dit altyd, en moenie so hard op jouself wees as dinge nie so mooi wil loop soos jy gedroom het dit moet nie. Ons woon nie in ‘n perfekte wêreld nie en daarom kan ons nie verwag dat alles perfek volgens plan sal loop nie.