0

Hoërskool tuisskool jare skop af

20 Mar 2022
Share

My blog het ‘n splinternuwe baadjie en daarmee saam ‘n nuwe aanlyn winkel wat die aankoop van my Somme(r) Pret produkte baie makliker maak.

Noudat die skuif klaar is kan ek uiteindelik weer met julle ons manewales deel.

Jare terug toe ons begin tuisskool het was my grootste vrees/onsekerheid hoe ek my kinders sou leer lees. Nou kan ek met dankbaarheid terug kyk en sien dat dit toe nie so ‘n groot berg was nie. Ek het al met julle gedeel wat ek uit die lees eksperimente met die 3 geleer het.

Mens sou dink na al die jare van tuisonderwys sou die hoërskooljare nie soos ‘n berg voor my gelê het nie. Maar dit het! Ek het nagte wakker gelê oor wat die beste manier sou wees om dit aan te pak. Al die twyfel of ek dit sal kan baasraak en of my kind die nodige sou kon leer.

Wel ons het graad 8 oorleef en ons voete stadig maar seker begin vind in die nuwe fase wat aangebreek het. Ek wil dus graag met julle deel hoe graad 8 laas jaar vir ons gelyk het.

Ons volg nog altyd ‘n meer eklektiese (spoeg en plak) Charlotte Mason tipe benadering. Hoe om dit te versoen met ‘n uiteindelike matriek kwalifikasie was my groot uitdaging. Ons het so baie dinge gehad wat jare lank al vir ons werk, maar wat ek net nie kon sien dat dit volhoubaar was vir die matriek opsies waarvan ek geweet het nie. Ek sal later met julle deel hoe ons uiteindelik ‘n matriek kwalifikasie gevind het wat ons soos ‘n handskoen pas en hoe ons hierdie jaar met dit afspring het.

Maar nou eers terug na laas jaar. Hier is wat ons gebruik het:

Ek wou iets meer gestruktureerd vir Afrikaans gebruik (ons het steeds soos voorheen hoofsaaklik voorlees, selflees en kopieerwerk gebruik), maar ons het ook met 15 minute Afrikaans begin. Die vordering wat hierdie nie-tale-kind van my gemaak het was fantasties, maar ons het nie deur die hele kursus in die jaar gewerk nie. Ek het besluit om eerder rustig met hom te werk dat hy kan verstaan wat hy doen. Ons doen dus hierdie jaar die laaste stukkie van die kursus saam met ander Afrikaanse hulpbronne.

Vir wiskunde het ons Pythagoras se boeke begin gebruik. Dit was handig dat daar verduidelikings in was (maar ons het beter aanvullende bronne gevind wat ons hierdie jaar gebruik). Ons knaap het goed gevorder met wiskunde en 84% vir sy jaareinde eksamen oor die werk gekry (wat ooreenstem met sy Conquesta Wiskunde 1 (uitdaag-vraestel) se punt van 82%).

Die probleem is dat ons nie groot vreugde put uit KABV wiskunde nie. Al lyk sy punte goed, kan ek (en hy) sien dat daar nie so goeie vaslegging plaasvind soos wat ons graag sou wou hê nie. Die kurrikulum spring bloot te vinnig rond van een konsep na die volgende en wil net te veel vir die kinders op eenslag leer. Ek is dus besig om te kyk hoe ons 2023 dinge anders kan aanpak. Ons wil steeds wiskunde in Afrikaans doen, maar wil meer ‘n bemeestering benadering begin volg (wat ons al die jare gedoen het). Hoe ons dit presies gaan doen is my uitdaging vir die jaar. Ek vermoed daar gaan nog baie van my tyd in die projek in gaan.

My eerste hoërskool wiskunde pretpak kon darem so bietjie pret in die wiskunde terug sit vir my knaap. En hy het die meetkunde deel van wiskunde baie geniet!

Ons het Apologia se Botany vir Wetenskap gebruik (wat ek nou besef ek nie op die foto bygesit het nie, ek het geweet ek gaan van die produkte vergeet). Daarmee saam het ons hersiening gedoen oor insekte (ons het die vorige jaar Apologia se Flying Creatures  gedoen.) Ek skep elke jaar ‘n kopieerboek van die jaar se werk, sodat die kinders die Afrikaanse woordeskap ook kan leer.

Verder was dit ‘n eksperiment jaar om te kyk wat ons verder vir wetenskap kan gebruik. Ons het ‘n paar produkte probeer en op die ou end besluit op General Science van Apologia. Ek is net spyt ons het nie ‘n paar jaar terug al hul Chemistry and Physics ontdek nie. Dit sou ideaal gewees het vir die knaap van my vir die laat laerskooljare. Ongelukkig kon ons eers laat in die jaar die General Science boek bekom (ja, dit is een van die uitdagings wat covid nogsteeds bied, die invoer van produkte is staaaaaadig). Ons is dus die jaar  besig om deur die res van die boek te werk, hoofsaaklik vir my middelkind wat nou graad 7 is, maar ouboet luister en leer saam.

Engels het ons so baie verskillende produkte se monsters (“samples”) gebruik dat ek nie eers gaan probeer om dit op te noem nie. By elk het ons ‘n hele klomp goed geleer, maar ons knaap het dit meestal nie geniet nie. Later deel ek met julle watter een ons toe gekies het om mee voort te gaan die jaar.

Ons het steeds Kinders van die Wêreld gebruik vir geskiedenis/aardrykskunde en dit aangevul met die internet en boeke oor die lande wat ons biblioteek beskikbaar het . So het ons van nog 9 lande geleer. Ons hou daarvan omdat ons land vir land kan leer van die wêreld en sy mense, hulle gelowe, kultuur en hoe gebeure dit beïnvloed het. Oor die jare begin ons nou sien hoe die verskillende lande mekaar beïnvloed. Die beste van alles is dat ons dit as ‘n gesin saam kan doen en elk van die kinders op hul eie vlak daaruit kan leer. My jongste geniet byvoorbeeld die stories van elke land die heel meeste.

Ons het heelwat heerlike boeke gelees (almal is nie op die foto nie, want sommige het ek geleen by iemand of uitgeneem by die biblioteek).

Die knaap het steeds tjello lesse en ons het verder van die lewe en musiek van 7 komponiste geleer. En natuurlik het gimnastiek ‘n groot hap van ons tyd in beslag geneem.

Dit was ons meer formele leer werk. Hy het egter ook baie tyd in sy groentetuin deur gebring en ‘n hele hoop bronne gebruik om meer te leer van plaagbeheer, beter grond, plant tye ens.

Hy het ook ‘n menigte stukkende katoeters (ja, dis blykbaar die Afrikaans vir “gadget”) uitmekaar gehaal en reg gemaak of hul parte ingespan in een van sy ander projekte. Dit is wat ons nou organiese leer noem en wat regtig moeilik is om in die moderne skoolstelsel in te pas. Maar leer is dit steeds leer. Sy kennis van elektronika is ongelooflik al het ons nog nooit formeel daarvan geleer nie.

Die beste van dit is dat hy geleer het om homself te leer. As hy inligting oor iets nodig het gaan soek hy dit. Hy lees op oor die onderwerp en pas dit dan toe. Dit is in my oë die waardevolste ding wat hy oor die jare geleer het. Ek sien al meer en meer die waarde daarvan.

Hierdie jaar werk hy meestal onafhanklik deur sy werk. Selfs met wiskunde. Hy het ‘n paar hulpbronne en as hy met iets vashaak gaan soek hy dit op in die verskillende boeke, lees wat hulle verduidelik en gaan dan op sy eie aan. Dit gebeur bitter min dat hy my hulp inroep om te help verduidelik. Dit gaan beslis stadiger as wat dit seker sou gaan as ek elke keer ingespring het en dit vir hom verduidelik het. Maar realiteit is dat mens nie die res van jou lewe ‘n onderwyser of ma langs jou gaan hê wat eers vir jou iets kan verduidelik nie. In die lewe moet ons weet hoe om self inligting en hulp te bekom.