My ondervinding om kinders te leer lees se steekproef is maar 3 groot. Wat ek wel uit die 3 wys geword het is dat nie een van hulle op dieselfde manier (of ouderdom) geleer lees het nie. Dit spreek nou nogal boekdele, aangesien hulle uit een gesin kom en dus geneties gewys nader aanmekaar is as ‘n klaskamer vol kinders. Hoe kan ons verwag dat ‘n uiteenlopende klas vol kinders almal saam deur die lees proses gaan gaan teen dieselfde spoed?
Ek het al voorheen geskryf oor die oudste 2, so ek sal hier net ‘n vinnige opsomming gee.
Kandidaat 1 wou rondom 6 begin lees, maar maak nie saak hoe graag hy wou nie, hy was bloot net nie gereed vir die uitstappie nie. Dit was nogal stresvol, want een van die groot nadele van tuisonderwys is dat daar altyd ‘n klompie siele is wat oor jou skouer loer (en duimvas hou dat jy nie gaan slaag nie). Dit sit ongelooflike druk op ‘n mens.
Ek wonder altyd hoekom mense so maak. Niemand vra vir ‘n skoolkind (na hul gehoor het in watter graad hul is) om vir hul iets te lees/skryf, of wat die antwoord van ‘n rits somme is nie. Mense neem sommer (dikwels verkeerdelik, so wys die statistieke ons) dat hulle kan lees en reken. Maar sodra mense (selfs kinders) hoor ‘n kind word getuisonderrig begin hulle met ‘n “pop quiz”. Ek dwaal egter af.
Ek het meer geskryf oor sy uitdagings en uiteindelike sukses (en ook by steeds aan die lees) . My grootste bydra tot sy sukses was om geduldig te wees. Vandag is hy al 12 en lees ‘n hond uit ‘n bos.
Kandidaat 2 moet ek erken het ek nooit leer lees nie. Sy het geluister (en kyk) na haar ouboet se pogings om klanke te leer en op ‘n dag toe sy maar 4 ½ was moet ek haar vind besig om woorde uit te klank uit ‘n boek. Van daar af het sy net op haar eie spoed voortgegaan. Vandag op 10 gee sy vir my heelwat kopsere, omdat ek nie haar neus uit ‘n boek kan kry nie.
Kandidaat 3 is ‘n vars 6. Konvensioneel moes sy die jaar graad R gewees het. Soos ouboet wou sy lankal al kon lees. Sy wil ook graag saam kan lees as die res vas geplak is voor ‘n boek. Begin van die jaar het ek egter (uit my vorige ondervinding) besef dat sy nie reg is vir die uitstappie nie.
Sy kon nie hoor dat k-a-t kat moet klank nie. Ek het haar dus gelos. So stadig maar seker het sy meer klankies begin leer. Sy wou alles skryf. So wanneer sy teken en vra om iets te skryf (dikwels die naam van die persoon vir wie sy die prentjie gemaak het) het ek dit vir haar geskryf en dan het sy dit op haar prentjie gekopieer. In die proses het sy 14 klanke geleer!
So 2/3des deur die jaar kon sy 3 klankwoorde begin “hoor”. Dinge het stadig maar seker in plek begin val. Nou lees sy al 3 klankwoordjies (met die 14 klanke wat sy ken). Sy het nog ‘n entjie om te gaan voor sy regtig kan lees, maar ek weet stadig maar seker sal ons wel daar uit kom.
Die ding is daar is nie ‘n towermanier wat kinders op ‘n spesifieke ouderdom gaan kry om te lees nie. Daar is soveel verskillende dinge wat in plek moet wees vir hulle om te lees. Verbasend genoeg het meeste hiervan absoluut niks met sit en lees te doen nie.
Lees het waarskynlik baie meer te doen met beweging as enige iets anders. Kinders se vestibulêre stelsel en propriosepsie moet goed ontwikkel wees sodat hulle die rigting van letters kan onderskei. Hulle moet kan insien dat b q nie dieselfde letter is nie (al is die een net die ander deur 360 grade gedraai) of dat b en d nie dieselfde is nie (al is hulle spieëlbeelde van mekaar). Hulle moet klanke van links na regs kan volg met hul oe (en nie tussen reëls spring nie). Hulle konsep van bo, onder, links en regs moet dus goed ontwikkel wees en dit kom bloot uit beweeg; uit rol en draai en swaai.
Interessant genoeg het navorsings gevind dat dit nodig is vir die 2 stelsels (wat alles met beweging te doen het) om goed ontwikkel te wees vir kinders om met begrip te kan lees. So ja, dit is belangriker vir jou kind van 6 (en onder) om buite te speel as om by ‘n tafel te sit en op papier te werk! Hulle het daardie beweging nodig om later met begrip hulle werk te kan lees. En dit sluit wiskunde in, want as jy nie die vraag kan begryp nie, weet jy nie wat om te bereken nie! Die nuutste aanbeveling is dat voorskoolse kinders 1000 uur ‘n jaar buite moet speel en beweeg. Dit is ongeveer 2-3 ure elke liewe dag van die jaar.
Dit alles verduidelik waarskynlik hoekom meeste graad 4’s nie met begrip kan lees nie. Heeltemal te vroeg beperk ons kinders se beweging. Hulle moet te veel stil sit tussen 4 mure.
Verder moet hulle die klanke saam kan hoor, en lank genoeg die woorde “onthou” sodat as hulle ‘n sin lees hulle teen die laaste woord nog kan onthou wat die eerste woord was.
En dan het hulle ook ‘n groot woordeskat nodig. Dit is immers net soveel makliker om ‘n woord te dekodeer (te hoor watter woord die klanke saam moet vorm) as jy al die woord in jou woordeskat het. En om daardie woordeskat te bou moet kinders baie die taal hoor. Voorlees is die belangrikste manier om kinders se woordeskat uit te brei. In stories kom hulle in aanraking met woorde wat hulle nie noodwendig in ‘n alledaagse gesprek sou hoor nie. ‘n Eenvoudige voorbeeld is dat ons nie sommer ‘n gesprek oor igloes en eskimo’s het nie. Maar in stories kom kinders wel die woorde teë. As jy wonder of lees wel ‘n verskil maak kan jy loer na die artikel (en as ek dit so kyk het hulle op die aanname gewerk dat mens vir 5 jariges net prenteboeke lees – ek kan nie dink hoeveel meer woorde ‘n kind hoor wat aan langer stories voor dan blootgestel word nie)
So nadat ek 3 van my eie “skool” (en dan nou spesifiek lees) gereed gekry het, bly my raad eenvoud:
1) Lees vir jou kind elke dag voor.
2) Speel, speel en nog ‘n bietjie speel. Veral buite waar hul kan hang, swaai, rol, draai – in kort beweeg!
3) Wees geduldig! Gee jou kind die tyd om teen sy eie spoed te ontwikkel. Net soos elke kind nie op 12 maand loop nie. Gaan elke kind nie op 7 lees nie. Dit is baie belangriker om ‘n kind te hê wat lief is vir stories as een wat vroeg al kon lees.
1 Response
[…] en sien dat dit toe nie so ‘n groot berg was nie. Ek het al met julle gedeel wat ek uit die lees eksperimente met die 3 geleer […]