Daar is baie dinge wat ek elke jaar anders sou wou gedoen het. Dalk ‘n bietjie meer van iets of minder van iets anders. Iets wat ons eerder moes doen of wat ek voel ons uit gemis het op. Die een ding wat ek egter glo ons reg gekry het is dat my 12, 10 en 6 jarige nog saam speel. ELKE DAG.
Hulle geniet mekaar en kom met die ongelooflikste speletjies vorendag. Die lekker van ‘n 12 jarige wat betrokke is is dat hy natuurlik planne kan beraam om hul nuutste idee te maak werk. Soos toe hy sokkerdoelhokke aanmekaar geslaan het sodat hulle kan sokker speel. Sy gunsteling is om ‘n motor of ligte op hul projekte aan te bring.
Net die ander dag het hulle ‘n bus gebou en toe ‘n video gemaak om op jou ‘n toer te neem deur hoe dit werk en hoe als lyk.
Ja, daar is tye wat ek wil hê hulle moet minder speel, maar dit is so belangrik vir kinders om te speel. Vry te speel. Dis waar kreatiwiteit gebore word en probleem oplossing ontwikkel word. En navorsing wys dat dit ‘n groot invloed het op emosionele en sosiale ontwikkeling.
Daarom wil ek in trane uitbars as ‘n juffrou skryf dat vryspel nie beteken dat kinders vrye teuels het nie. Dan gaan sy verder om te bespreek hoe hulle bloot keuses kan maak binne aktiwiteite wat geskep is vir hulle. Dat kinders die leerstasie self mag interpreteer en op hul unieke manier mag aanpak. Dis ongelooflik belangrik dat kinders wel die vryheid het om hul belangstellings te volg en aktiwiteite te kies en self planne te beraam hoe om dit aan te pak of op te los. Maar dit is NIE VRYSPEL NIE.
Vryspel is presies dit – vry. Ongebonde, sonder perke. Dit is wanneer ‘n bal ‘n baba word. Wanneer ‘n stok of klip die middelpunt van ‘n nuwe speletjie of wêreld. Dit word ‘n swaard of huis, ‘n towerstaf of ‘n kar. Wanneer sade mannetjies in ‘n sege word. Of wanneer kinders hul lego, treine, motors en plastiek diere als saam gooi en vir hul ‘n hele dorp bou met die lewe wat daar binne in afspeel. Dis wanneer hulle in die sand paaie bou of ‘n boerdery begin.
Die ding van vryspel is dat kinders nodig het om verveeld te wees en self begin dink hoe om daardie ledige tyd te vul. Hulle eie breinselle moet begin vuur, niemand anders s’n nie (behalwe natuurlik die maats wat saam met hulle in die spel betrokke is).
Op skool terreine vind meestal gestruktureerde spel plaas. Kinders speel sokker of netbal, rugby of handjietennis. Iets wat nie tyd neem om te ontwikkel nie. ‘n 15-30 minute pouse laat immers gee ruimte vir vryspel om te ontwikkel nie.
Dit is hoekom dit so bitter belangrik is dat ouers tuis ‘n omgewing skep waar vryspel kan plaas vind. Ons kinders is gewoond dat elke minuut van hul dag geskeduleer is. Daar moet ook ‘n tyd in daardie skedule wees waarin hulle net kan wees. Waarin hul hulself kan ontdek en besig hou.
So op ‘n naweek of in die vakansie as hulle kerm omdat hulle verveeld, is los hulle! Moenie dadelik spring met ‘n idee of aktiwiteit nie. Erger nog sien ek dat ouers wil voorkom dat hulle ooit die woorde “ek is verveeld” of “wat kan ek doen” hoor deur sommer voor die tyd al aktiwiteite te beplan vir elke dag. Moenie!
Skep doelbewus tyd waarin hul verveeld kan wees en die wonder van vryspel kan ontdek.
Ek is mal oor jou uitkyk! Dis die beste geskenk vir enige kind… om hul verbeelding vrye teuels te gee. So belangrik!