3

Gesonde lees gewoontes

21 November 2019
Share

Ek is baie dankbaar om 2 kinders te hê wat mal is oor lees (hopelik volg kleinsus in hul voetspore). Ek kan egter nie sê dat albei ewe gesonde lees gewoontes het nie.

Mense is dikwels verbaas oor hoe baie my 10 jarige lees. En nee, dis gewoonlik nie omdat ek wil spog nie, maar eerder oor ek oor haar lees gewoontes kla. Ek sou nooit dink dat dit moontlik is om te kla oor hoe baie ‘n kind lees nie, maar die jong dame vat dit wyd!

Daar is nog ‘n goeie paar weke in die jaar oor en sy het al 148 Afrikaanse boeke en 120 Engelse boeke die jaar gelees. Ja, 268 boeke! Dit sal my nie verbaas as sy by 300 vir die jaar gaan draai nie. En dit sluit nie eers al die prenteboeke in wat sy vir kleinsus lees of sommer net stukkies hier en daar nie.

IMG_8244

Net om julle ‘n idee te gee. Dit is wat sy in 3 dae gelees het ‘n rukkie terug. 984 bladsye!

Nou lees is nie ‘n slegte ding nie, maar dit is ‘n uitdaging om haar te kry om enige iets anders te doen behalwe lees, gimnastiek oefen en viool / klavier speel. Sy is so erg oor lees dat sy al selfs in die Wêreldspektrum begin lees het wanneer die storieboeke opgedroog het.

Dink mens sy slaap die oggend laat vind jy haar gewoonlik aan die lees in die bed. Hoop jy sy slaap al saans lê sy nog met haar nagliggie en lees. En as sy bedags weg raak kan jy maar weet sy sit/lê iewers en lees.

IMG_8182

Deel van die uitdaging is om goeie leesstof vir haar te vind. Alles wat daar beskikbaar is is nie altyd ewe heilsaam vir ‘n 10 jarige nie!

Julle moet verstaan dat ek haar so bietjie probeer halt deur nie elke keer biblioteek toe te jaag sodra sy als klaar gelees het nie. Maar dit help nie veel nie, want sy gaan krap net in die boekrak en lees dan maar weer een van haar ou gunsteling boeke.

Kleinsus (6) het onlangs vir haar die briefie geskryf, waarmee sy glad nie beïndruk was nie:

IMG_8585

“Jy mag net op Sondag boeke lees” – Nee, sy skryf nog nie self sinne nie, sy’t net gekopieer wat sy my gevra het om te skryf.

Ek hoop dat sy iewers die balans sal vind vir lees en ander dinge. Meer soos ouboet. Hy lees ook graag, maar gewoonlik net voor slaaptyd en deur die dag as daar ‘n oop tydjie is. Soos terwyl ons iewers moet wag of as die weer te goor is vir buite speel. Hy het in die proses al digby die 160 boeke die jaar gelees. Dit is steeds baie. Veral vir ‘n 12jarige seunskind! Maar ten minste neem die lees nie sy lewe oor nie!

Ek hoor graag van ander boekwurms se ouers. Dalk het julle raak hoe om die meisiekind van my te kry om net ‘n bietjie minder tyd met haar neus in boeke te spandeer.