19 November 2019
Share

Elke jaar het mos maar sy eie uitdagings. Die jaar het dit egter vir my gevoel asof ek net nooit genoeg tyd het nie! Gewoonlik begin ek darem grondvat as die eerste kwartaal verby is, maar dit het net nie die jaar gebeur nie. Julle het dit seker ook agter gekom aan die hoeveelheid wat ek geblog het (of dan nou nie geblog het nie). Dit het my baie lank geneem om te besef wat die oorsaak van die tyd te kort was.

Ons bly ‘n ent uit die dorp wat in en uit ry vir buitemuurs ingewikkeld maak. Soos my 3 groter word beteken dit egter ook dat hulle langer en langer tye by buitemuurs spandeer. Julle ken die storie, ‘n aktiwiteit begin by 1 uur ‘n week, raak 2 ure per week en voor jy weer sien neem dit meer en meer tyd in beslag. Natuurlik help dit nie dat daar 3 van hulle is gekarwei moet word nie.

Nou gewoonlik het manlief gehelp. Ek kon party dae die kinders gaan aflaai en dan het hy na werk hulle weer opgelaai. Dinge het egter ‘n entjie in die jaar in verander wat veroorsaak het dat ek moes aflaai en oplaai. En dis juis daar waar die knoop lê.

Ek besef eers laat in die jaar dat die gevolg van die verandering is dat ons ongeveer 20 ure ‘n week uithuisig is. Dit is nou vir in en uit ry en dan die rondhang, omdat dit onprakties is om te heen en weer. Dis basies ‘n halwe werksdag wat elke dag verlore is.

Die gevolg was dat ons nie naasteby alles gedoen het wat ons graag sou wou die jaar nie. Ja, die “belangrikste” dinge het gebeur, maar die lekker dinge is afgeskeep. En is die lekker dinge nie dikwels juis belangrik nie?! Ons het onder andere kunsvlyt afgeskeep. En beslis minder tyd gehad om by maats te kuier.

Maar daar is ook ander goed waarvan ek meer sou wou doen. My beplanning was immers om die jaar 8 lande te behandel vir ons aardrykskunde/kultuur/godsdiens/geskiedenis. Ons het nou maar by 6 uitgekom. Hopelik voor die jaar se einde sal ons die sewende een behandel, maar ek twyfel of ons by 8 gaan uitkom! Die sal noodgedwonge moet oorstaan vir volgende jaar.

Ek kan nie juis tyd terug draai nie, maar ek kan intussen kopkrap oor hoe om van volgende jaar ‘n beter jaar te maak. Een waarin ons meer van die lekker dinge kan inwerk!

En dalk ‘n bietjie meer genade vir myself hê, omdat ek nie alles kon baasraak wat ek graag wou nie. ‘n Mens kan immers net soveel doen. Dit is belangrik om te besef dat dit dikwels nodig is om jou planne aan te pas by die huidige omstandighede.

As die jaar ook vir jou ‘n paar uitdagings gegooi het wat jou planne ontspoor het, wees genadig met jouself. Volgende jaar is nog ‘n jaar! En al loop alles nie altyd volgens plan nie beteken dit nie dat die jaar ‘n mislukking was nie.