0

Sukses kom nie in ‘n kitspakkie nie

13 November 2019
Share

Ons leef in interessante tye waar ons blykbaar glo in kits alles. Jare terug moes jy wag vir ‘n brief in die pos (nog vroeër maaaaaande vir een per skip). Nou tik jou gou ‘n boodskappie op whatsapp of facebook en sekondes later is dit gelees aan die anderkant van die wêreld.

Ons dink tuisgemaakte vla is melk wat saam met vlapoeier in die mikrogolfoond gekook is (en nie uit ‘n boksie kom nie). Waar is die dae wat vla nog van eiers en melk gekook is oor die stoof?

Natuurlik maak al die kitsoplossings die lewe baie makliker, maar iewers in die proses het ons begin dink alles moet so kits-maklik wees. Ons het oortuig geraak dat intelligensie en talent die bepalende faktore is inplaas van harde werk en deursettingsvermoë.

Ek lees die ander dag die artikel raak: https://getpocket.com/explore/item/why-there-s-no-such-thing-as-a-gifted-child (die titel is misleidend). ‘n Paar aanhalings daaruit wat dit vir my goed opsom is:

Natuurlik het ons almal natuurlike talente, maar dit gaan alles oor wat ons daarmee maak.

Ek is oortuig dat as ons eerder ons kinders se pogings, werksetiek en deursettingsvermoë prys dat hulle baie verder sal kom. Dis maklik om as hulle goed gedoen het in wiskunde te sê “sjoe, jy is slim”, maar dit is veel beter motivering om vir hulle te sê “sjoe, ek kan sien jy het mooi gedink / gekonsentreer / aangehou tot jy dit reg gekry het toe jy die werk gedoen het.”

Ek sien ongelukkig dieselfde by die sport. Wanneer ‘n kind presteer is meeste mense vinnig om te reageer dat hulle talentvol is. Terwyl hulle dikwels dit heeltemal miskyk dat die talentvolle kinders “per toeval” ook die kinders is wat harder en meer gereeld oefen. Sal dit dan nie van meer waarde wees om die kinders te prys vir hul harde werk eerder as hul talent nie? Sal sulke kommentaar nie juis ander kinders motiveer om ook harder te werk nie, inplaas van hulle laat glo dat hul bloot nie genoeg talent het nie?

Feit bly dat niemand van ons werklik kan roem op ons talente nie. Dit is iets waarmee ons gebore word. Ons kan wel roem op dit wat ons daarmee gemaak het. Hoe ons dit ontwikkel het!

In ‘n kits samelewing kom ons leer ons kinders dat sukses nie kits is nie. Dat om suksesvol te wees hulle gaan moet aanhou en uithou!