15 August 2016
Share

Nege maande terug het ek my vreugde met julle gedeel, omdat my toe 8-jarige uiteindelik begin lees het. Die hartseer is dat navorsing wys dat die gemiddelde kind eers tussen 6 1/2 en 8 1/2 jaar gereeld is om te leer lees. Hy was dus ontwikkelings gewys normaal en glad nie ‘n laat leser nie.

Ongelukkig leef ons in ‘n tyd waar ons van kinders vaardighede verwag waarvoor hulle nie noodwendig al gereed is nie. Ek is oortuig dat die druk hulle juis dood smoor. Is ons strewe daarna dat kinders al vroeër en vroeër moet kan lees nie juis die rede hoekom so min volwassenes nog lees nie? Is dit nie juis, omdat seuns dikwels later gereeld is vir die mylpaal dat dit hulle is wat gewoonlik lees haat of onwillig is om te lees nie? Of erger nog dat hulle geen belangstelling in leer/skool het nie?

Sien as mens loer na dit wat kinders deesdae in die grondslagfase moet doen, besef jy gou dat meeste daarvan gebou op goeie lees vaardighede. ‘n Kind kan dus byvoorbeeld nie die wiskunde vraestel baas raak as hy nie reeds kan goed lees nie. Sê dit iets van sy wiskundige vermoë? Beslis nie, maar hy/sy gaan nie so dink nie.  Dis juis om die rede dat ek oortuig is die “Better late than early” tegniek kinders laat floreer.

Screenshot-1

Ek dwaal egter af… 9 maande na die lees gogga gebyt het is ons knaap steeds versot op lees. Hy het in die tyd al meer as 100 boeke gelees (wat blykbaar meer is as wat meeste kinders op die ouderdom lees). Heelwat hiervan dik boeke, sommige met oor die 300 bladsye, ander sommer net kort, ligte vermaak. Stadig maar seker het sy selfvertroue toe geneem en begin hy boeke aanpak wat hy eers nie sou nie. So lees hy die agterblad van Dando deur Chris Barnard. Ek het dit uitgeneem om vir hulle voor te lees, maar sy belangstelling is geprikkel en toe ek weer sien sit hy en lees die boek. Hy vorder teen ‘n spoed en kan net nie die boek neer sit nie.

Vanoggend is dit die meisies wat my wakker maak. Dis nie ‘n tipiese oggend in ons huis nie. Gewoonlik is dit ons knaap wat eerste wakker is. My eerste gedagte is dat hy seker bietjie slaap inhaal na nog ‘n aand van laat lees. Ek vind hom egter in sy bed besig om verder te lees. Selfs die gewone oggend hongerpyne kon nie sy nuuskierigheid blus nie.

Dit bly vir my interessant hoe elk van die kinders se lees vaardighede op hulle eie manier ontwikkel. Die knaap is gewoonlik met ‘n hand vol boeke besig op een slag, terwyl ons Pop graag iets klaar maak voor sy met die volgende boeke begin. En sy is versot daarop om prenteboeke vir kleinsus voor te lees, terwyl hy nie baie van voorlees hou nie. Na hul albei Slaaptyd stories 1 en 2 klaar gelees het het sy nou ‘n ou Psalm en Gesange boek ontdek en lê saans die en lees voor sy gaan slaap.

En skielik wonder ek hoekom ek soveel nagte wakker gelê het, bekommerd of ek ooit my kinders sou kon leer lees. Seker met goeie rede, want dit is toe iets wat hulle hulself geleer het en nie iets wat ek moes doen nie.

NS. Nou hou ek net asem op dat hy eendag vir mense sal vertel dat hy KAN lees. Tot nou toe verkondig hy nog dat hy nie kan lees nie (en glo my daar is genoeg siele wat dit graag wil glo). WANT hy kan nog nie lees soos wat EK lees nie! Hy kom nog woorde tee wat hy moet klank en die perfeksionis wil soos sy ma kan lees. So as jy my seun-wat-nog-nie-kan-lees-nie eendag raak loop vra hom tog om vir jou ‘n stukkie te klank 😉