8

Die leesgogga byt

13 November 2015
Share

Ek het ‘n nuwe probleem in my huis. Ek kry nie my 8jarige se neus uit die boeke nie (veral saans as dit tyd is om te slaap!)

IMAG1148

Nee, dis nie regtig ‘n probleem nie. Dit maak juis my hart bly en lig. Ek gaan eerlik wees en erken dat lees vir my die grootste berg ivm tuisonderwys was. Dit was hierdie groot ding wat opgeleide onderwysers doen en as ek gekyk het na hoeveel duisende ‘n leesprogram kos het my broek sommer gebewe. Om nie te praat van die ongelooflike hoeveelheid skoolkinders wat na leessentrums toe moet gaan of naskool ekstra hulp moet kry nie. Dit het net soos hierdie uitdagende taak gelyk.

Ons volg egter ‘n benadering waar die kinders dit leer waarvoor hulle intellektueel en emosioneel reg is. Toe hy dus wou weet waarvoor die letter staan, het ek die vir hom geleer (Ek het Klein Pelgrim gebruik, saam met ‘n paar ander speletjies – https://lomi.co.za/2014/01/24/letter-pret/). Hy het die klanke tjoef-tjaf geleer.

Maar toe dit kom by klank saamvoeging kon hy bloot net nie hoor dat k-a-t kat moet maak nie. Ek het soveel gelees oor seuns wat later reg is vir lees. Dat dit normaal is vir hulle om eers op 10 of selfs 12 lees te snap. Tog maak dit ‘n ma se hart benoud. Veral as dit jou oudste is en jy weet al wat leef en beef loer oor jou skouer om te sien of julle die tuisonderwys ding gaan reg kry. Ek het egter besluit dis belangriker dat hy ‘n liefde vir lees ontwikkel as dat hy vroeg moet kan lees.

Teen 8 kon hy darem al die 3 letter woorde lees, maar dit was vir hom ‘n marteling om die ‘aaklige, vervelige’ leesreekse te lees. Ek het probeer asemhaal en dit gelos. Manlief het begin kriewelrig raak. Ek het maar net bly navorsing lees wat sê kinders wat later begin lees is beter lesers. En probeer ontspan.

En toe middel van die jaar sê die knaap hy wil Asterix lees (ek haat dit om die boeke te lees en hy het net besef hy sal dit self moet doen as hy dit wil gelees hê). Ek vertel hom toe dat hy net dit sal kan lees as hy gereeld oefen. So begin hy toe eers vir Hendrik Leerdam lees en later Kuifie. Eers lees hy ‘n blokkie, dan lees ek ‘n blokkie. So begin hy meer en meer lees. Die eerste 2 Kuifies kon hy nie klaar maak in die maand wat ons dit uitgeneem het nie. En toe skielik begin Oktober vat hy die nuwe Kuifie wat ons uitgeneem het en hy begin lees. As ek sien, sit hy met sy neus in die boek. Groot was sy vreugde toe hy in minder as 2 weke die boek klaar gelees het.

IMAG1325-1

En daar het die lees gogga gebyt. Nou wil hy alles lees wat voorkom. In 3 dae het hy Sourus straat- ‘n Pterodactyl steel my huiswerk – Nick Falk klaar gelees (dis ‘n 100 bladsye boek!). Elke aand of 2 lê hy met ‘n nuwe boek in die bed en moet ek later halt roep, sodat hy kan gaan slaap. Bedags moet ek hom soms uitjaag om te gaan speel, want dan het hy vir ‘n goeie uur gesit en lees.

In die laaste 6 weke het hy al die boeke deur gelees (en nog ‘n klomp ander stukkie hier en daar – gewoonlik ‘n boek wat ek besig was om voor te lees en hy net nie kon wag om later die einde te hoor nie):

DSCF9666

Die beste vir my is dat hy enige iets gryp om te lees wat vir hom interessant is. Hy probeer nie eers kyk of dit ‘n maklike storie is of nie. Ek kan nie dink dat dit dieselfde kind is wat net ‘n paar maand terug nog gedink het lees is hierdie onmoontlike ding nie. Dit is ongelooflik hoe maklik iets is om te bemeester as jy eers reg is daarvoor.

So vir al die ander ma’s wat hande in die hare sit met ‘n kind wat nie op 7 kan/wil lees nie. Probeer ontspan. Hulle is waarskynlik net nie reg vir die groot taak nie. Op hul tyd kom hul ook daar en dan haal hul in teen ‘n spoed wat jou asem weg slaan!

IMAG1331