Ek hou altyd daarvan om eerder met prettige speletjies vir die kinders nuwe dinge te leer. Lettervaslegging is nou groot in ons huis. Ek het dus gedink dis net gepas om te deel wat ons al aangevang het om dit speel-speel te leer.
Parkeer die letter
Ek het op die oulike idee afgekom om ‘n letter parkade te maak. Die idee is om karretjies met die kleinletters op te parkeer op die parkeerplek met die hoofletter op.
Op 9 A4 bladsye het ek toe die parkeerarea met die hoofletters op uit gedruk en aanmekaar geplak. Laai die pdf Hoofletter-kleinletter parkering af. Die velle word aanmekaar geplak om so te lyk.
Daarna het ek robotte en stoptekens ingeteken en dit met kleefplastiek oor getrek.
Ek het toe plakkers met die klein letters op van die kinders se karretjies geplak (ja, hulle het so ontsettend baie dat ek kon kies en keur!)
Klei letters
My 2 is mal daaroor om met klei te speel. Daarom het ek die alfabet uitgedruk, oorgetrek met kleefplastiek en uitgeknip. Nou kan hulle heerlik die letters van klei maak. En ook die klein- en hoofletters bymekaar pas. Hier is die letters wat ek gebruik het: Klei alfabet. Natuurlik hoef hulle nie net klei te gebruik nie. Daar is soveel meer waarmee hulle die letters kan vorm.
Motor ABC
Een van ons knaap se gunstelinge is die Motor ABC.
Letter magnete
Mens kry oulike lettermagnete. Ek het egter sommer self ‘n stel gemaak uit 2 velle magneet papier. 3 velle sou waarskynlik beter gewees het, want soms sou ‘n ekstra letter handig gewees het. Nou probeer ek elke dag ‘n kort sin op die yskas daarmee plak wat die rakkers dan moet lees. Dis kort genoeg om nie ons knaap se moed te breek nie, want om stil te sit en ‘n boek te lees klink vir hom nog soos straf. Ek moet erken dat ek nogal kop krap om altyd aan gepaste sinne te dink. Op die stadium probeer ek hou by kort woorde, sonder dubbelvokale en diftonge.
Die week het ons Pop ook, met hulp, haar eie sinne op die yskas geplak. So stadig maar seker vorder ons met die lees ding.
En so tussen die speel deur het die 2 al die letters redelik onder die knie. Nou net om hulle gemaklik aan die lees te kry!
Lees gerus meer van ons letter pret hier.
Dit is baie oulik! Hoop nie jy gee om as ek van die idees vir ons aanpas nie.
Ek is bly as jy van die idees kan gebruik. Dis mos juis die lekker van die internet. As ek net op my eie idees moes uitdink sou my kinders seker maar baie verveeld gewees het.