2021 lê en loer vir ons en daarmee saam is menigte nuwe tuisskoolma besig om kop te krap oor hoe om haar kind te leer lees volgende jaar. Ek weet nie van julle nie, maar met my oudste het dit behoorlik my broek laat bewe. Wie van ons besef nie die belangrikheid van lees nie? Is dit nie die basis waarop alle leer gebou word nie?
En dan kyk jy rond en sien al die peperduur leesprogramme, wat net jou vrees bevestig dat om kinders te leer lees ‘n ingewikkelde storie is. Word dit nie immers bevestig deur die groot persentasie kinders wat met lees probleme spook nie?
Om dinge te vererger word jy gebombardeer met botsende raad. Gebruik hierdie sigwoorde. Nee, leer hul eerder foneties lees. Beter nog meng die twee. Die een beweer jy kan jou 4 jare leer deur op als in die huis woorde te plak, ander sê wag tot later. Dis genoeg om jou hare uit jou kop te kan trek.
Voor jy hol vir die berge, dit is makliker as wat jy dink.
So hier was my antwoord aan een van vele ma’s wat met al die vrae rondloop.
Ek dink die botsend raad het 2 oorsake.
Eerstens het ons ‘n prestasie gedrewe samelewing geraak. Die arme kinders is nog in doeke dan wil ons kyk wie se kind kan die eerste sit, kruip, loop of van die doeke af kom. En kort voor lank begin jy dink daar is fout met jou kind as hy nie ook so vroeg iets kon doen nie.
Die gevolg is dat ons vroeër en vroeër wil hê kinders moet kan lees en deur ander akademiese hoepels spring. Die ironie is dat ons juis in die proses krities belangrike dinge deur die krake laat glip. Onder 7 moet ons fokus wees om die vastibulere stelsel en om propriosepsie te ontwikkel wat so krities is vir latere lees en wiskundige begrip (dit het alles te doen met fisiese aktiwiteite en buite speel tyd). Ons moet werk aan speel, sodat kinders probleem oplossing en kreatiewe denke kan ontwikkel. In my opinie is dit juis die tekortkoming wat veroorsaak dat so baie kinders deesdae leerprobleme het. Hulle kan nie die mas op kom nie, want hulle is fisies nie sterk genoeg vir die uitdagings nie.
Tweedens is meeste leesmetodes gegrond op hoe om Engels te leer lees. Engels is ‘n uitdagende taal om te leer lees. Daar is net te baie woorde wat geleen is uit ander tale en waarvan die spelling nie foneties sin maak nie. Om bloot die kinders foneties te leer is dus ‘n lang opdraande stryd en gevolglik het hul met allerhande planne vorendag gekom om kinders vroeër te kry om die woorde te kan lees.
Afrikaans is genadiglik nie dieselfde nie. Ons het nie allerhande “tricks” nodig om ons kinders te leer lees nie. Hulle het bloot die bou blokke nodig. As hul die klanke van die verskillende letters ken en hul ore geoefen is (hul fonetiese bewustheid het) gaan die res self in plek val. Jy gaan nie ‘n duur kurrikulum nodig het nie, jy gaan nie ure hoef te swoeg en sweet nie. Dit gaan net gebeur. En ja, as dit gebeur gaan jy nog geduldig moet saam met hul sit terwyl hul stadig klank en jy gaan hul belangstelling moet aanmoedig deur saam te lees, sodat die storie nie vervelig en uitputtend raak nie. Maar dis dit. Jy’t net tyd en geduld nodig.
Maar net soos magietyd jou baba gehelp het om fisies sterk genoeg te raak vir sit en kruip, is daar eenvoudige dinge wat jy kan doen om lees vir hulle makliker te maak.
Die eerste is om te fokus op fisiese ontwikkeling soos ek hier bo genoem het. Genoeg buite tyd; swaai, rol, hang, sodat hul onder andere ruimtelike bewustheid kan ontwikkel. Dit help om te verstaan dat hoe ‘n letter geskryf is op die bladsy belangrik is (‘n p en d is dus nie dieselfde letter net onderste bo nie, ‘n b en d is nie dieselfde letter net gespieëlbeeld nie). En sodat hul kan leer om van links na regs te lees en die reël kan volg.
Die tweede is om hul woordeskat te bou sodat dekodering van die woorde wat hul moet lees makliker is. Dis makliker om ‘n woorde te herken wat jy reeds ken as om ‘n woord wat jy nog nooit gehoor het nie te lees. Voorlees is die eenvoudigste manier om woordeskat te bou. Om nie te praat van al die ander voordele wat dit inhou nie.
Die derde is om hul ore te oefen. Kan hul hoor met watter klank begin ‘n woord, of watter woorde rym met mekaar. Om rympies te lees en woordespeletjies te speel help baie hiermee. Wat sien jy wat met ‘n “k” begin? En maak saam lawwe rympies op.
En voor jy jou oë uitvee sit jy met jou hande in jou hare, omdat hul nie hul neuse uit ‘n boek kan hou nie.
Geniet die avontuur. Dis so ‘n kosbare tyd saam, maak die beste van elke oomblik eerder as om nou al in akademie verstrengel te raak.
NS. Loer gerus na https://lomi.co.za/2014/01/24/letter-pret/ en https://lomi.co.za/2014/04/03/letter-pret-2/ as jy na idees soek om klanke te leer.