2

Letter pret 2

3 April 2014
Share

Vandat ek laas geskryf het oor al die prettige dinge wat ons met letters aanvang deesdae het ons al weer ‘n paar nuwe dinge gedoen.

Voor ek egter by dit kom, lees ek die anderdag iemand wat kommentaar lewer oor kinders wat nie al die toertjies nodig het om te leer lees nie. En as hulle het dat hulle waarskynlik dan nog nie reg is vir die stap nie. Daar is waarskynlik heelwat waarheid in die stelling. Veral as ‘n mens natuurlik in ‘n land bly waar jou moedertaal ook die taal is van alles om jou. Dit gee immers jou kind die blootstelling aan daardie taal. Ons siele hier aan die suidpunt van Afrika is egter in ‘n baie Ingelse wêreld (nie dat ek dink ons situasie is enigsins uniek nie). My kinders wil dus so graag al die dinge om hulle lees, net om hulle vas te loop teen “julle het dit reg geklank, maar dis Engels, so dit klink anders”. Dit is die dat ek nou vir hulle ‘n kunsmatige Afrikaanse wêreld skep, waarin hulle meer kanse kry om hulle nuwe lees vaardighede op die proef te stel.

As jy nog in die begin fase van lees is is die ‘n oulike artikel om te lees oor wat jou spruit nodig het voor hulle by lees kom: http://www.themeasuredmom.com/reading-skills-kids-need-theyre-ready-sound-out-words/.

Dit bly vir my interessant hoe my eie kinders verskil. Ons amper 5 jarige wil met ‘n passie lees. Sy soek oral boeke en sinne om te lees, al te dikwels eintlik nog bo haar vuurmaak plek, maar dit skrik haar nie af nie. Ouboet wat waarskynlik meer reg is vir die uitstappie is nie so geïnteresseerd in lees nie, maar die kompeterende siel in hom kan nie terug staan vir Sussa nie. Hy doen dus alles wat hy kan om net ten minste te wys hy kan eintlik beter as sy reg kom. Een van haar gunsteling tyd verdrywe op die oomblik is om ‘n klank te kies en dan elke denkbare woord uit te dink wat daarmee begin. Dit hou haar nogal goed besig en dis nogal verstommend met hoeveel sy op ‘n slag kan opkom.

Dis ‘n groot lekkerte elke nou en dan in die huis te hoor hoe een van die 2 ‘n woord of sin lees. Hier is nog ‘n paar van ons idees om letter pret te hê:

Badletters

DSCF4939

Ek het die letter van Acorn kids gekoop (maar daar is vele ander wat mens ook kan kry). Die 2 geniet dit om in die bad of stort woorde op te maak of ‘n paar te lees wat ek op geplak het. Ek het wel gou besef ek sal nog ‘n pak of 2 moet koop, want 1 van elke letter wil maar net nie die ding doen nie.

Spieël lees en skryf

Een van hul gunsteling dinge is die sinne wat ek tydens badtyd vir hulle op die spieël skryf wat hulle dan moet ontsyfer. Die groter uitdaging is om dan weer vir my na die tyd hul eie sin op die spieël te los. Dis verbasend om te sien hoeveel eerder hulle iets op die spieël sal skryf as op ‘n stuk papier. Sien op die spieël kan hulle uitvee as hulle ‘n fout gemaak het. En dit gee hulle groter vrymoedigheid om te probeer. Onnodig om te sê kom die sinne en woorde nog skeef en krom uit, maar mettertyd soos hulle meer van ons taal en al sy reëls leer sal dit ook reg kom. Ek is net verstom oor hoe goed hulle so in die speel vorder.

Letter dobbelstene

DSCF4947

‘n Heelwat meer uitdagende aktiwiteit is om woorde te maak uit spesifieke letters. Daarvoor het ek letters op ons wiskunde dobbelstene geplak. Ons gooi dan 3/4 dobbelstene en kyk of ons woorde uit die letters kan bou. (Ons knaap is mal oor die gooi deel). En dit het hom nogal ‘n rukkie geneem om te besef in 3 letterwoorde is die middelklank gewoonlik die vokaal.

Sketse en stories

DSCF5012

Nog ‘n oulike manier om die kinders se lees/skryfvaardighede in te oefen is natuurlik dat hulle sketse en stories teken waarby hulle byskrifte kan maak. Van alles is die waarskynlik my gunsteling, want dit gee my ‘n kykie in wat daar binne hulle koppe broei. En daar is natuurlik niks lekkerder as om ‘n verjaarsdag briefie te kry wat jou spruite self vir jou geskryf het nie!