13 April 2014
Share

Voor julle begin dink dat al wat ons doen lees en skryf is, wil ek darem bietjie van ons wiskunde pret ook deel. Dit is immers iets wat die kinders veel meer geniet.

Inkleursomme

DSCF5103

Seker een van die twee rakkers se gunsteling aktiwiteite is om inkleursom prente in te kleur. Dit het begin deur eers net prente in te kleur volgens die getal in elke area, maar gou het hulle somme verkies. Ouboet soek natuurlik al vir ‘n groter uitdaging en wil dus moeiliker optel en aftrek somme doen. Hier is ‘n eenvoudige inkleur som prent en een wat bietjie moeiliker is. (Moenie vra oor die prentjies nie, dit was die 2 se idees wat ek op papier moes sit.)

Eenvoudige inkleursommeinkleursomme

‘n Google soektog vir “colour by addition/subtraction” lewer egter ‘n skatkis vol van die tipe prente.

Skoenlapper pennetjie tel

DSCF3594

Pennetjie tel is so ‘n super maklike aktiwiteit om aan mekaar te slaan. Al wat jy nodig het is ‘n pakkie wasgoedpennetjies, kaartjies met die getalle op en vir die jonger kinders ‘n pakkie pompoms en ‘n paar houertjies. Op elke pennetjie skryf jy dan ‘n som (ek het sommer een aan elke kant geskryf – een maklik en een effe moeiliker).

Kinders wat al hoofberekening kan doen kan dan bloot die som op die pennetjie doen en aan die kaartjie met die korrekte antwoord vasknyp (sommer ‘n lekker kleinmotoriese oefening ook). Die wat egter nog konkreet tel gebruik dan ‘n pennetjie om pompoms in ‘n houer (ek het ‘n papier kolwyntjie houer in ‘n blom vorm geknip) uit te tel om by die antwoord uit te kom.

Ons het ‘n skoenlapper tema vir die aktiwiteit gebruik. Die skoenlapper getalle kan hier afgelaai word: Knippie skoenlapper nommers.

DSCF3593

Dobbelsteensomme

Teen die tyd het julle dalk al agter gekom ons knaap hou van dobbelstene gooi. Natuurlik is dit ‘n heerlike verskoning om bietjie somme pret in te werk. Ek het die Dobbelsteen somme uit gedruk en met kleefpapier oor getrek. Nou kan hy na hartelus die dobbelstene gooi en optel of aftrek daarmee oefen.

Dinosourus grafieke

DSCF3532

Ek het al vroeër ons dino grafieke met julle gedeel in wiskunde mal. Dit bly egter baie gewild en kort-kort pak hulle dit weer uit. Ons doen dieselfde met kleur en vorm dobbelstene, maar my dino mal kinders geniet dit om die dinosourusse te tel. Die Dino diagram en Dino dobbelsteen kan uitgedruk word en klippies, glaskrale, klein dinosourusse ens kan gebruik word om die grafieke mee te bou of dit kan ook ingekleur word.

Optel domino’s

DSCF5095

Ons het Smile se Number Dominoes ontdek en ons knaap het dit vreeslik geniet om die somme te doen. Omdat hy besig is om al sy optel faktore in te oefen het ek vir hom ‘n stel met al die somme van 0+0 tot 9+9 gemaak. Die optel dominos is in die Math-U-See kleure om beter in te pas by ons ander werk.

Ek het gevind dat omdat dit so vreeslik baie somme is dit beter is om eers al die antwoorde saam te sorteer (0’e, 1’e ens). Anders gee dit te ‘n groot soektog af om die domino trein te bou en raak by ontmoedig.

DSCF5097

Hopelik kan ek binnekort met julle ‘n paar oulike webwerwe en werksvelle wat ek al ontdek het deel.

Onthou wiskunde is pret!