Die kinders was nog altyd gek oor boeke wat gegrond was in die werklikheid. Dit gryp hulle verbeelding soveel meer aan as fantasie boeke en beste van alles – hulle leer iets daaruit. Eers onlangs het ek egter geleer dat daar ‘n term vir stories is waaruit mens meer kan leer oor ‘n plek, historiese persoon ens. Dit word lewende boeke (living books) genoem.
Ek wens daar was ‘n vet lys van lewende boeke, maar ongelukkig weet ek nie van een nie. Ons loop dus net per geluk nou en dan sulke boeke raak. Een van ons onlangse ontdekkings was ” ‘n Tent vol sterre” van Keith Osler Anderson. Die storie is gebaseer op die ware verhaal van ‘n seun wat wegloop uit ‘n kinderhuis om by die sirkus aan te sluit. Ons 3 was gefassineer om te leer van die wêreld van sirkus artieste en hul leefstyl.
Wat ons land se geskiedenis aan betref is daar heelwat lewende boeke oor Jan van Riebeeck. Ons het hulle almal ongelooflik baie geniet. Dis verstommend hoe baie die kinders daaruit geleer het. Ek wens daar was groter dele van ons geskiedenis wat so lewend vir die kinders gemaak kan word. Hier is die boeke wat ons al raak gelees het oor die tema:
Marianna Brandt se “Stoutsterte – van Texel tot Tafelbaai” en “Die stoutsterte – Poot aan wal”. Die 2 verhale handel oor 2 muis gesinne se reis aan boord van die Drommedaris na die Kaap de Goede Hoop en die bou van die fort. Heerlike lekker lees stories, maar tog ‘n klomp feite rondom dit.
James Home se “Hendrik Leerdam – Seereis na die kaap“. Ook ‘n boek oor die seereis na die Kaap de Goede Hoop, maar in strokies prent formaat. Ek is nie te mal daaroor om strokies prent boeke voor te lees nie, maar die kinders is versot daarop. So dit was verseker ook ‘n wenner.
Nog ‘n strokies prent boek oor die tydperk is “Die Avonture van Pol en Jan van Riebeeck” deur Liz de Groot. ‘n Groot deel van die boek gaan oor die nuwe nedersetting en die uitdagings daar rond om. Van die boeke het dit waarskynlik die meeste feite rondom die gebeure. Ons was gelukkig om ‘n kopie in ons biblioteek raak te loop. Dit kan dalk moeilik wees om dit in die hande te kry, omdat dit deur die skrywer self uit gegee is.
Vir meer geskiedkundige inligting in Afrikaans is daar ‘n artikel op Mieliestronk.
4 Responses
[…] ← Lewende boeke en Jan van Riebeeck […]
[…] ons graag lees. Gaan kyk gerus na van die boeke wat ons in die verlede gelees het en na stories oor Jan van Riebeeck wat ons geniet […]
[…] Ek het ook al geskryf oor party van die boeke/temas wat ons geniet het soos die geskiedenis rondom Jan van Riebeeck, Swede en […]
[…] Ek het ook al geskryf oor party van die boeke/temas wat ons geniet het soos die geskiedenis rondom Jan van Riebeeck, Swede en […]