My kinders het nog altyd ‘n goeie idee gehad waarin hul belangstel. Van dit wat hul elke jaar wil leer tot die projekte wat hul aanpak. Dikwels het mense al gevra wat ek doen om dit reg te kry.
Ek het al heelwat hieroor kop gekrap, want ek kon nooit dink wat dit is wat hul belangstelling prikkel nie. Uiteindelik het ek besef dis nie wat ons doen nie, maar juis dit wat ons nie doen nie.
So wat doen ons nie?
1. Die kinders se middae is nie volgepak met aktiwiteite nie. My kinders mag net 1 aktiwiteit/sport elke jaar kies. So 2 jaar terug het die oudste 2 ook begin met musiek een keer ‘n week, maar die jaar was dit ook na die maan.
2. Ons vakansies is nie besig nie. Ek beplan nie uitstappies na plekke of allerhande aktiwiteite nie. Ja, ons is vervelige soort mense. Ons kuier saam met vriende (ook nie elke dag nie) en verder hou elkeen homself besig.
3. Ek skeduleer nie my kinders se dae nie. Ons het ‘n los roetine. Bybelstudie en lees na ontbyt, na middagete lees ons oor ‘n komponis, lees ‘n stuk uit “Exploring creation” (ons wetenskap) of “Kinders van die Wêreld” (ons aardrykskunde/geskiedenis/kultuur/godsdienste studie). En laat middag is sport. Die res van die tyd is hulle self in beheer. Hulle besluit wanneer hulle die week se wiskunde en kopieerwerk gaan inpas. Hulle besluit wanneer hulle hul huiswerk (opruim en skoonmaak werk) gaan doen. Wanneer hul musiek oefen, lees, speel ens.
4. Ons besit nie ‘n TV nie. Om voor die TV te lê is dus nie ‘n opsie nie. Ja, naweek aande geniet ons dit om as gesin saam ‘n episode uit ‘n reeks te kyk of soms ‘n fliek. Ons geniet natuurreekse of om te sien hoe goed werk. Tog is dit heelwat lekkerder om saans elk met ‘n boek op te krul of ‘n speletjie te speel
5. Die kinders het nie selfone of tablette nie. Ons 13 jarige het met lockdown ‘n antieke tablet gekry waarop hy eboeke kan lees en na musiek luister. O, en dit het darem ‘n sakrekenaar waarmee hy berekeninge kan maak. Die kinders spandeer dus geen tyd aan speletjies / kuier op ‘n toestel nie.
6. Ek hou nie kinders besig nie. Ek het genoeg goed wat my besig hou. As hul werklik verveeld is weet hul hul kan maar kom vra en ek sal ‘n werkie iewers vir hul hê. Dit is dus vir hul heelwat makliker om eerder self iets uit te dink.
Ek dink daar is hope oulik aktiwiteite en programme daar buite waaruit ons kinders kan leer, maar ek glo “less is more”. Kinders het tyd nodig om net te wees. Om tyd te hê om net rond te sit en self te besluit wat is volgende. Hulle moet kan verveeld wees! Hulle moet hulself kan ontdek en gemaklik op hul eie kan wees.
Iewers in daardie verveelde oomblikke gebeur daar iets wonderlik. Hul ontdek wat hul gelukkig maak, waarin hul belangstel. Hul raak nuuskierig. En dan juis omdat hulle oorvloedig tyd het het hul tyd om aan daardie belangstelling te skenk.
Dit klink baie eenvoudig, maar in ‘n wêreld waar FOMO (Fear of missing out) ‘n ernstige probleem is, is dit nie altyd maklik nie. Mens moet ‘n wilsbesluit neem om van die gebaande weg, van hardloop van een dinge na die volgende, af te klim. As jy dit kan reg kry is die eindresultaat egter pragtig en RUSTIG. Want dis nie net die kinders wat dan tyd het vir wees nie, maar jyself ook.
Ek stem volkome saam!
Dankie vir jou eposse,ek geniet dit baie! Waar kry mens die boek “kinders van die wereld” of wie het dit geskryf? Ek sal graag iets soos dit wil kry asb! Dankie
Hi Jessica, Kinders van die Wêreld is ongelukkig ‘n baie ou reeks. Jy sal moet rondsnuffel in tweedehandse boekwinkels. Ons is egter mal daaroor. Oor elke land is daar 3 dele. In die eerste vertel kinders in die land hoe dit is om daar te bly. Van hulle gesin, skool, wat hul eet, feeste wat hul vier ens. In die tweede deel is die storie van die land wat ‘n oorsig gee van die land se geskiedenis, hul kultuur, taal, godsdiens, plantegroei, diere ens. En dan in die 3de deel is daar stories uit daardie land. Omdat die boeke al ‘n goeie 50 jaar oud is hou ons dan daarvan om na nuwer inligting ook te gaan soek. In die boeke het ek vir die eerste keer van Nieu Seeland se “gloeiwurms” gehoor en ons het die mooiste foto’s en video’s op die internet gevind en sommer net meer gaan lees oor die tipe fungus miggie (gnat) wat die grotte in ‘n sprokie wêreld omtower.
Dankie dit klink so oulik!