0

Die Hoërskool Diploma

1 April 2022
Share

Vandat ons 10 jaar terug besluit het om tuisonderwys te doen het ek altyd gedink dat die kinders uiteindelik Cambridge vir matriek sal skryf. As ‘n oud Suidwester het die opsie na die beste gelyk.

Soos ons egter nader aan die tyd gekom het om daarmee te begin het ek al minder gemaklik met dit gevoel. Dit het net nie gevoel soos die beste opsie vir ons oudste nie. Ja, akademies sou hy dit kon doen en hy het die deursettingsvermoë om dit te maak werk, maar ek het geweet hy sou geen vreugde daaruit put nie. Dit sou net een van daardie dinge wees wat hy doen, omdat hy dit moet doen.

Ek het ook al meer ongemaklik begin voel oor die leerinhoud. Dis maklik genoeg om te sê ons stem nie saam met alles wat daar geleer word nie, maar hoeveel van dit word tog jou eie as jy dit moet leer en neerskryf?

Laas jaar ontdek ek toe dat daar nog ‘n alternatief is. Die Hoërskool Diploma (AHSD -American High School Diploma). Dit is nie die GED wat meer bekend is hier rond nie. Die GED (General Education Diploma) is nader aan ons ou volwasse matriek, terwyl die AHSD die kwalifikasie is wat kinders in die VSA kry as hulle klaar is met skool. Daar is al jare tuisskolers wat die opsie gebruik, maar dit was nie baie algemeen nie. Dit is iets waarvan ek in elk geval nie gehoor het nie. In die laaste 2 jaar het daar egter twee plaaslike akademies oop gemaak waar deur die opsie meer algemeen begin word het.

Dit is natuurlik nie nodig om deur ‘n plaaslike akademie te werk nie. Enige iemand kan direk by een van die legio Amerikaanse skole inskryf as afstandleerder en dit deur hulle doen. Sommige bied selfs aanlyn opsies. Die voordeel om dit egter deur ‘n plaaslike akademie te doen is dat daar hulp en raad is van hoe om plaaslik materiaal te bekom, opsies wat meer geskik is vir Suid-Afrika en natuurlik is dit handig om in Afrikaans gehelp te kan word. Daar is ook ondersteunings netwerke waarby jy kan aansluit. Alles dinge wat dit net makliker maak.

Ons het via Kairos Akademie die jaar daarmee begin. Hulle het net die proses soveel makliker vir ons gemaak. Dit vat egter nogal ‘n kop skuif om uit ons baie Britse onderwysstelsel (want Suid-Afrika volg eintlik nog na al die jare maar basies die Britse metode) oor te skuif na die Amerikaanse manier van dink en doen. Tog vind ek dat dit baie makliker versoenbaar is met tuisonderwys. Dit is meer buigbaar en laat baie meer vryheid toe om by die kind se behoeftes aan te pas. Bonus is dat ons kan voortgaan om produkte te gebruik wat ons al vir ‘n paar jaar doen (soos Apologia se wetenskap reeks).

Stadig maar seker is ons besig om ons voete te vind. Ek moet net nog gewoond raak daaraan om boek te hou van alles. En met die ongelooflike baie opsies beskikbaar is dit nie altyd maklik om te kies wat om te gebruik nie. Maar die beste vir ons is dat ons ons Charlotte Mason gegeurde benadering kan voortsit wat ons gesin baie geniet.

Een van die dinge wat ons aangetrek het tot die opsie is dat dit ‘n baie wye veld dek. Die Amerikaners streef na gebalanseerde kinders. Daar is dus ‘n hele klompie ekstras wat hulle wil hê kinders moet leer of aan blootgestel word voor hul die wêreld ingaan. So moet hul as deel van hul krediete kunste doen (perfek vir my kinders wat reeds musiek neem), fisiese oefening kry (nog ‘n “jippee” vir my gimnaste wat in elk geval die ure in sit) en persoonlike finansies, gesondheid en rekenaargeletterdheid leer.

Die grootste verskil is waarskynlik dat kinders ‘n verskeidenheid van vakke moet hê. Dit sluit tale (4 jaar Engels en ten minste 2 jaar van ‘n ander taal (in ons geval Afrikaans)), wiskunde (4 jaar), wetenskap (3 jaar) en sosiale studies (geskiedenis/aardrykskunde/ekonomie ens vir 3 jaar) in, plus ‘n paar keuse vakke. Met die NSS (National Senior Sertifikaat) en Cambridge kan kinders immers reeds baie van die vakke los einde graad 9 en dan net fokus op hul belangstelling. Hulle kan dus buiten tale en wiskunde net sosiale studie vakke vat. Of net wetenskap vakke. Of net kunste en tale.

Ek is seker vir sekere kinders is die verskeidenheid nie ideaal nie, maar vir ons wat wye belangstellings het is dit perfek.

Verder is die AHSD ‘n 4 jaar kwalifikasie (graad 9-12) en nie ‘n 3 jaar kwalifikasie soos die SA NSS (graad 10-12) nie. Hulle sien Hoërskool as graad 9 tot 12, voor dit is Middelskool (graad 4/6-8 afhangende van die staat) en voor dit Primereskool (of “Elementary”). So in Amerikaanse terme het ons oudste nou eers die jaar met hoërskool begin.

Hierdie is nog maar die begin jare vir ons en daar is nog hope om te leer. Ek is seker oor ‘n paar jaar sal ek vir julle ‘n beter idee kan gee wat die opsie behels en hoe dit werk. Voor en nadele en alles tussen in. So hou maar die spasie dop. Vir ons is dit nog ‘n nuwe avontuur.