My oudste is nie ongelooflik lief vir tale nie. Om dus ‘n taalprogram te vind wat nie met ‘n geween en gekners van tande gepaard gaan nie was ‘n redelik uitdaging. Laas jaar het my soektog en vele ongeslaagde pogings ons uiteindelik by Total Language Plus (TLP) uitgebring.
Hierdie jaar het ons knaap deur hul Bronze Bow studie gewerk. Alhoewel Engels steeds nie sy gunsteling vak was nie het hy sonder drama dit klaar gemaak. Hy het die boek geniet en ten spyte van die eerste taal Engels (wat beslis bo my kennis van die Engelse taal was) wat uitdagend was het hy heelwat geleer. Hy het ‘n hele klomp nuwe woorde in sy woordeskat.
Ek kon ook sien hoe sy spelling en skryfwerk verbeter het. Ek hou daarvan dat die benadering lekker aansluit by ons wat lewende boeke geniet. Dit maak ook gebruik van diktee. Ek is seker ander gesinne wat die Charlotte Mason benadering volg sal ook TLP se produkte geniet. Ons beplan om weer die komende jaar van nog van hul eenhede gebruik te maak.
My volgende probleem was om iets soortgelyk vir Afrikaans te vind. Ons is bevoorreg om met die Amerikaanse Hoërskool Diploma meer vryheid te hê om hulpbronne te kies, maar ek kon bloot net nie iets vind wat by hierdie kind van my aanklank gevind het nie.
En omdat ek nou eenmaal ‘n Doen-dit-self tipe mens is het ek toe maar ingespring en die TLP resep ingespan om vir my knaap ‘n literatuur en taal eenheid te skep. Dit was egter meer van ‘n uitdaging as wat ek gedink het dit sou wees.
Die keuse van ‘n boek het my laat kopkrap. Ek wou iets vind wat my meisiekinders ook later kon geniet. Daarby hou ek daarvan as ander ook uiteindelik kan baat by my ure van swoeg en sweet. Maar ons hou van ou boeke wat nie altyd nog indruk is nie.
Uiteindelik het my keuse op Wit Oemfaan van FA Venter geval. Die boodskap van die boek bly vir my treffend. Alhoewel die boek nie meer nuut beskikbaar is nie, het Luistervink Stories in Maart die boek as oudioboek uitgebring. Diegene wat dus die studie wou doen en nie ‘n hardekopie boek in die hande kan kry nie kan na die treffende storie gaan luister by Luistervink stories.
Die tweede kwartaal het ek dus naarstiglik gewerk aan die studie. Deur die Junie vakansie het ek geswoeg om dit klaar te maak. Dit was net soveel meer van ‘n uitdaging om taal pret te maak as wat dit is om dit met wiskunde te doen (vir my in elk geval). My kreatiwiteit om aktiwiteite uit te dink is regtig gerek tot naby breekpunt.
En net toe ek die eindstreep begin sien met net nog die proeflees werk wat voorlê, kalf my rekenaar se hardeskyf. Die enigste genade was dat ek die voorlopige pdf weergawe reeds weggestuur het om geproeflees te word. My moed was gebreek.
Dit het baie tyd geneem, maar ek het myself afgestof. Hierdie vakansie het ek die studie met heelwat moeite (4 dae om presies te wees) herskep uit die pdf uit. Maar die ander 2 groot projekte waarmee ek besig was is heeltemal verlore. Wanneer ek hulle weer gaan kan aanpak is nog duister vir my.
Die goeie nuus is dat my Literatuur Geïnspireerde Taalleer werkboek van Wit Oemfaan nou beskikbaar is in my winkel. Kom geniet saam met ons hierdie storie gebaseer op ‘n ware verhaal.
Nou krap ek net kop oor watter boek om vir die volgende studie te gebruik. Enige voorstelle sal baie waardeer word.
Baie geluk met jou Literatuur studie Lizelle! Jammer oor jou hardeskyf! Ek weet wat dit is om Desember om te werk. Mag jy die vrug daaevan pluk die komende jaar! Liefde-groete, Janet
Dankie, Janet. Hopelik geniet my knaap dit, dan was die ekstra ure beslis die moeite werd.
Daar is soveel baie spesiale boeke vir graad 8 tot 12. Maar ek moet eers weet watter graad hulle is. Een van my gunstelinge is Die Pro. Hy is ook in fliekformaat beskikbaar. Maar, laat hy die boek eers lees voor hy die fliek kyk. Dan is daar stories soos Die Sakmense van Maretha Maartens. Ek dink ek gaan bietjie hieraan werk volgende jaar en goed plaas wat kan help. O ja, kyk ook onder my blog begaafdekind.wordpress.com vir idees vir Afrikaans. My vriendin deel oulike goed dar.
Dankie Christa, Die pro is nie leesstof wat my kinders geniet nie. Maar vir die wat dit wel interessant vind sien ek NB boeke het ‘n onderwysersgids wat handig lyk by https://www.nb.co.za/en/school/DownloadItem?fileId=19430.
Ek sal bietjie gaan inloer by Begaafde kind.
Dit is jammer. My skoolkinders het dit almal geniet. Eerste taal en tweede taal. Ek kon seuns en dogters sy die storie en die tema betrek en hulle kon identifiseer met die karakters, wat weer aanleiding gegee het tot gesprekke oor die temas.