Ellard en Salomie se Shaun the Sheep partytjie was toe vet pret. Daarby het ek nie die jaar nodig gehad om rond te skarrel vir foto’s nie. Van ons vriende, Julian en Arnien (van Julian Kruger Fotografiese Dienste) was so oulik om vir my foto’s te neem! Hier is so ‘n paar van my eie tussen in, maar die groot gros het hulle geneem, waaroor ek vreeslik dankbaar is.
Die 2 mooiste kinders het dit natuurlik vreeslik baie geniet. Ellard het net gekla dat die partytjie heeltemal te kort was. Ek dink nie al het dit vir die hele naweek aangehou sou hy anders gevoel het nie.
Ek dink sy Shaun roomyskoek het heel oulik uit gekom. Dit was my eerste poging van ‘n roomyskoek. Die knaap wou egter so graag een hê. Duidelik kyk hy te veel Food Network. Die ironie was dat hy toe nie self van die roomys wou eet nie (dit was te koud!). Gelukkig was daar genoeg maatjies wat lekker gesmul het.
My groot trots was egter die “roomyskoekies” soos my kinders kolwyntjies noem. Ek kan net nie glo dat niemand ‘n foto gevang het van die pienk en groen deeg nie. (Daar is darem een waar een van ouma se honde smul aan die pienk en groen lekkerte. Ek vermoed hy het meer van die koekies in as enige van die kinders!). Die gekleurde koek was Salomie se idee toe ons die kolwyntjies die dag gebak het. Ek het opmerkings verwag, maar blykbaar vind kinders dit nie ongewoon dat koek pienk en groen kan wees nie.
Ons het selfs ‘n paar speletjies probeer speel. Van oë aan die vark steek tot skaapskeer (hulle moes wattebolle van een emmer na ‘n ander op ‘n lepel dra). Van die kinders het dit geniet, maar lekkergoed eet en rondhol en fietsie ry op die plot was veel lekkerder.
Ek dink egter die grootste sukses van die partytjie was die maskers. Almal het die baie geniet. Selfs een van die honde het een aangekry.
Nou begin die kop krap vir ‘n tema vir volgende jaar. Ek kry die gevoel dat ek nie weer gaan weg kom met ‘n dubbele partytjie nie. Ellard het net bote, karre of 4×4’s op sy brein. Nou nie juis ‘n sussie-vriendelike-tema nie.