0

Borsvoeding

7 August 2012
Share

Ek het ‘n passie vir borsvoeding. Miskien daarom dat ek wil huil as ek hoor dat ‘n ma net vir ‘n paar weke geborsvoed het, omdat goed bedoelende familie of vriende (of selfs dokters) vir hulle slegte advies gegee het.

Ek is so dankbaar dat ek besluit het om te borsvoed. Teen 6 weke het ons uitgevind ons oudste het ‘n yster aanvulling intoleransie en die vitamien B aanvullings het sy refluks vererger. Ek wil nie eers dink wat ek sou doen as ek nie geborsvoed het nie. Ek kon dood eenvoudig yster en B vitamien aanvullings, en kos daarmee in, uit my dieet sny. As hy op die bottel was sou ons vir maande met koliek gesukkel het. Die feit dat ek nooit vir hom aanvullende voeding kon gee nie, het gehelp dat ek nie sommer net kon moed opgee as die borsvoeding wel die dag swaar geraak het nie. En daar was menigte dae wat ek niks meer graag sou wou doen as net handdoek in gooi nie. Voor jy jou oë uitvee gaan dit gelukkig weer beter.

My raad aan enige mamma wat wil borsvoed is om ‘n goeie boek oor borsvoeding aan te skaf of met ‘n vriendin te praat wat vir ten minste 6 maande geborsvoed het. En as jy kan kom by ‘n borsvoed konsultant uit! Ignoreer eerder al die ander opmerkings wat jy kry. Glo net dat jy wel kan borsvoed en dat jy genoeg melk het. Die eerste 2-3 weke is hard (en die paar maande wat daarop volg ook nie aldag maklik nie) en daar is baie dae wat jy net sit en huil. Jy is oormoeg, jou borste is seer en dit voel of elke dag net nie genoeg ure het nie. Binnekort is julle op ‘n beter roetine, raak jul aan mekaar gewoond en jou borste aan hul nuwe werk. Ek het bedags terwyl hy gedrink het, “Friends” gekyk. Die lag was baie terapeuties.

Borsvoeding gee jou ook die tyd wat jy altyd gesoek het om te lees. Hou dus die boeke waarvoor jy nooit tyd gekry het nie byderhand. Gedurende die lang nagte het ek oorfone in my selfoon gesit en radio en musiek geluister (met my 2de het die iPod daai werk verrig). Dit help baie dat die tyd vinniger verby gaan.

Sterkte aan al die mamma’s wat wil borsvoed. Geniet die spesiale tydjies saam met jou baba. Agterna besef jy hoe vinnig dit verby gevlieg het. Dit is deur en deur die moeite werd. Niks kan ooit die wonder daarvan en die ongelooflike band tussen jou en jou baba vervang nie.