Hierdie is een van ons gunsteling resepte en kom uit Manna en Kwarteltjies. Die koekies kry nie eier in nie, dus kan die kinders selfs met veiligheid die rou deeg eet. Die koekies werk ook lekker met gluten vrye meel (en is dus perfek vir kinders met gluten/koring allergie). Buiten vir die bak en brou deel is hulle mal daaroor om die koekies te versier. Dit is ook ‘n heerlike aktiwiteit om saam met die maatjies te doen.
Kinderdeeg (maak Shortbread koekies) – genoeg vir 2
125ml margarien/botter
62 ml vlapoeier
62 ml versiersuiker
250 ml meel
Smelt die botter (dit maak die meng vir klein handjies net makliker). Meng al die bestanddele saam. Laat die kinders vormpies druk of self vorm. Bak vir ongeveer 15 minute by 180 grade tot gaar.
Versiersel (die koekies is selfs heerlik sonder versiersel)
Versiersuiker aangemaak met ‘n paar druppels water en voedselkleursel (vir ‘n soetsuur versiersel vervang die water met suurlemoensap).
Versier met die versiersel en enige iets anders wat hulle harte begeer.