3

My eerste keiser drama

20 June 2012
Share

Wel hierdie is seker meer as net die geboorte storie van ons oudste. So jammer as dit laaaank raak. Maar ek wil graag die hele wonder deel.

Pas nadat ons getroud is moes ons hoor dat ons waarskynlik nooit self sou swanger raak nie. Ek het PCOS ontwikkel agv. die pil wat ek begin gebruik het toe ons verloof geraak het en het ‘n mioom en manlief sit met verkalkte are. En geld vir fertiliteit behandeling was daar verseker nie. Dit was ‘n moeilike tyd, want al my lang termyn beplanning was gebaseer op die feit dat ek eendag ‘n tuisbly ma wil wees wat my eie kinders groot maak.

Ons het besluit om maar eers te werk aan ons eie huis en dan te kyk of en hoe ons kinders sou hê of dalk aanneem. 9 maande later sit ek egter met ‘n positiewe swangerskap toetsie in my hand (en dit nogal op ‘n romantiese naweek weg wat ons maande vroeër al beplan het). Dit was te goed om waar te wees dat 1 aand tot ‘n swangerskap kon lei!

Ons was 3 dae later by die ginie vir ons eerste ondersoek (aangesien probleme te wag te was). Toe op 8 weke begin ek bloei. Dokter probeer ons regmaak vir die ergste, maar wonder bo wonder het die laaitie geklou. Die 6 weke van bed rus en progesteroon pille wat my naar maak was so die moeite werd.

Van ons 5 weke ondersoek af het die dokter ons reg gemaak dat ek dalk ‘n keiser moes kry. Hy is egter baie pro normaal geboorte (en ek wou ook so graag normaal kraam) dat hy gesê het ons kan op 38weke kyk of die groot mioom wat ek gehad het dalk geskuif het en nie meer die geboorte kanaal versper nie. Ek het verder ‘n ongelooflike swangerskap gehad. Dit terwyl meeste vroue met groot miome baie pyn ervaar tydens swangerskap en later gewoonlik op bed rus geplaas word.

Op 38 weke moes ons toe hoor die dokter voel ‘n normaal geboorte gaan ‘n groot risiko wees en dat dit waarskynlik op ‘n noodkeiser gaan eindig. Nie net agv die mioom nie, maar ook omdat my seuntjie ‘n groot kop het (en ek klein) is. Twee dae van trane verder het ons toe besluit om die veilige pad te volg en die keiser vir 4 dae later op 39 weke te boek. Ek het so gehoop ek kon voor dan in kraam gaan, maar die dae het vinnig minder geword.

Saterdag aand het ons gaan uiteet om my verjaardag te vier. Ek is heel aand so ongemaklik. Ek kan nie stil sit nie, ek kan nie staan nie, ek kan nie lê nie. Sondag sit ek met ‘n omgekrapte maag. Simpel restaurant kos natuurlik! (O, die onkunde) Sondag nag slaap ek amper niks. Ek is so ongemaklik, ek kan nie draai nie, want my heupe haak heel uit.

Maandag oggend 6 uur boek ons in by die hospitaal. Dis nie hoe ek alles beplan het nie, maar binnekort sou ons ons knaap in ons arms kon vas hou! Susters het my reg gemaak vir die keiser. Hulle monitor die baba en so tussen die kuier deur besef ek die masjien raas elke nou en dan en die suster begin baie vreemd vir my kyk. Later kon sy dit nie meer hou nie en vra my of ek nie baie pyn het nie. Hoekom sou ek? Wel, is die antwoord, jy’s in kraam en het gereelde kontraksies. Ekskuus! Ek weet dan van niks! Op die stadium het ons knaap in elk geval nog nie gesak nie (dalk die dat die kontraksies nie na veel gevoel het nie). Daarby was ek reg vir teater.

Dit het my sommer baie beter laat voel. Hy het self sy verjaarsdag gekies en was duidelik reg vir die wêreld buite, al sou mamma hom nou nie self daar kon kry nie. Die eerste kontraksie wat ek werklik kon voel was net mooi toe die narkotiseer die spinaal gedoen het. Ek vermoed dis waar dinge begin verkeerd loop het.

Buiten vir my bloeddruk wat al die hele swangerskap baie laag was en altyd met die sonars pret veroorsaak het, het alles aanvanklik goed verloop. Die narkotiseer moes die dokters wat nog besig was om alles reg te kry nader roep pas na ek gaan lê het, omdat my bloeddruk dadelik na 40/30 geval het. Daar was nie tyd vir speel nie.

Dis ongelooflik hoe vinnig alles gaan en oomblikke later het ons knaap sy eerste skree gegee. So tussen die naar deur was dit baie spesiaal en onvergeetlik. Hier het die drama egter begin. Om een of ander rede het die spinaal uitgewerk en teen die tyd dat manlief hom vir my kom wys het, kon ek nie meer omgee hoe die knaap lyk nie, ek wou net die keiser verby kry. Die narkotiseer het vir my pynstillers ingespuit, maar al wat dit gedoen het was om my heel deur mekaar te laat voel. Die heel tyd het ek gewens ek het mooier geluister tydens die voorgeboorte klasse. Hoeveel lae moet hulle nou weer toe werk? Na elke laag het ek gebid dit moes die laaste wees en dan begin hulle weer met die volgende steke. Dit was goor en ek het bitter alleen gevoel. (maar agterna vergeet mens so vinnig die pyn).

Daarna het ek vir ‘n ewigheid in die herstel kamer gelê. Ek kon al my voete beweeg en al was dit vrek seer het al die medikasie gemaak dat ek nie kon fokus en verduidelik dat ek steeds pyn het nie. Die eerste paar dae het ek gekrepeer van pyn en selfs teen my 6 weke ondersoek was dit nog ‘n marteling om net in ‘n kar te wees of op te staan en te gaan sit. Later het die dokter verduidelik dat dit baie moeilik is om die pyn siklus te breek as dit eers daar is. Dis hoekom hulle mens so vol medikasie stop, want dis makliker om jou dan pyn vry te hou.

Ten spyte van dit alles, was die eerste dae wat ek daai klein lyfie kon vas hou ongelooflik. Dis net ‘n gevoel wat jy vir niemand kan beskryf nie. Ek was oor my ore verlief op die kleinman. En ek sou dit alles weer doen om hom in ons lewe te hê. Hy was 3.7kg, 50cm en met kop omtrek van 37.5cm by geboorte. ‘n Fris knaap wat sommer die eerste slag ordentlik ge”latch” het (en dit ten spyte van die feit dat dit eers 2 ure na sy geboorte was).

Ek moet erken die keiser het borsvoeding baie moeiliker gemaak aan die begin en dit voel nou nog vir my asof ek die eerste paar weke van sy lewe mis geloop het agv. al die medikasie en pyn. Dit het ook gemaak dat ek vreesbevange was vir ons 2de se geboorte, maar die keiser was ‘n droom (meer daaroor op ‘n ander keer). Die narkotiseer was ‘n engel en het by my gebly tot ek terug is na my kamer. Net om seker te maak die spinaal het die keer gehou en ek was sommer die volgende dag al aan die gang. (En omdat kleinsus allergies was vir die pyn medikasie, was ek na 4 dae net op Panado, so ek het darem net 4 daggies van haar lewe mis geloop 😉 . Al kry mens nie altyd jou droom bevalling nie, bly dit ‘n wonder om jou eie baba in jou arms vas te hou. Jy voel sommer skielik soos ‘n super vrou!