0

Onbeplande beplande 2de keiser

20 June 2012
Share

Ons tweede patat het vroeër as verwag haar opwagting gemaak. Iets waaroor ek baie dankbaar was. Ek was so bang na my vorige keiser drama en sou ‘n senuwee wrak gewees het voor die beplande keiser. Ek het vir ‘n geruime tyd al gevoel dat sy nie gaan wag vir die keiser datum nie en tydens my 36 weke ondersoek het die gynie ook sy twyfel uitgespreek. Ek dink nie hy het egter vermoed dat sy sommer al op 37 weke gaan besluit dis nou tyd nie. Soos die duiwel dit wou hê moes dit net voor ‘n lang naweek gebeur het en my gynie was weg. Als het egter goed afgeloop.

 

Dis net vir my vreeslik interessant hoe verskillend als was voor ek die keer in kraam gegaan het. Met ons oudste het ek die week voor die tyd in “hyper” mode gegaan. Als moes klaar en ek kon net nie stil sit nie. Ek het selfs ‘n nuwe blombedding in die tuin gemaak en bolle geplant. Die Saterdag aand was ek so ongemaklik ek kon nie sit, staan of lê nie. Sondag was my maag vreeslik omgekrap (ek was oortuig daarvan dat dit die restaurant kos van die vorige aand was – wat was immers die kans dat ek op my keiser datum in kraam sou gaan). Steeds in die duister is ons die Maandag oggend 6 uur hospitaal toe. Dis eers toe die verpleegsters die baba begin monitor dat hulle besef ek is al in die begin fases van kraam – onervare eerste ma wat ek is was ek oortuig dis maar net nog braxton hicks kontraksies, dit was immers nog glad nie seer nie en hy het nog nie gesak nie.

Die keer was als anders. Net voor 36 weke het ek vreeslik braxton hicks kontraksies gekry vir 3 dae nadat ons pop gesak het. Gelukkig besluit sy toe om eerder om te draai – dink nie sy was al lus vir die wêreld daar buite nie. Die volgende week was ek so kalm soos ‘n dagga walm. Skielik was daar geen haas meer nie. Als kon maar wag tot later. In tussen het sy weer 180 grade gedraai en gesak (tot my verligting! Dit was verskriklik ongemaklik met haar kop teen my ribbes). Donderdag aand 17:30 staan ek van die bank af op toe manlief by die huis kom en besef my broek is nat. Ek was verbaas want ek het niks gevoel nie en het ook nog nie een keer die swangerskap gesukkel met blaas beheer nie. Dit was egter so min vloeistof (glad nie die vloedwaters wat mens verwag nie) dat ek aanvanklik oortuig was dat ons peuter dalk iets op die bank gemors het en ek het net daarin gaan sit). Daarna het ek egter heeltyd ‘n effense “lek” gehad en het later ‘n doekie gaan aansit. Die aand het ek weer baie braxton hicks kontraksies gehad, maar teen 3 uur het dit heeltemal opgehou. Toe die doekie teen die oggend steeds klam bly (nie nat nie!) het ek ‘n slang in die gras begin ruik.

Ons het ontbyt geëet en ek het vir knaap gebad en aan getrek en toe vir manlief gebel om te hoor of ons ‘n draai by die hospitaal kan gaan maak net om seker te maak dis nie dalk my vrugwater wat gebreek het nie. Hy het egter besluit ons moet eerder ‘n draai by die gynie maak. Na verskeie oproepe tel iemand uiteindelik die telefoon by die spreek kamer op en lig my in dat die dokter tot Dinsdag weg is. Jippeee. Ek het besluit dat ons vir ‘n wandeling moet gaan, maar voor ons by die blok se punt was het manlief al by die huis aangejaag gekom, oortuig dat dit sulke tyd is – Hy het immers die Woensdag aand gedroom dat my water in die gim gaan breek en dis juis in die tyd wat ek by die gim sou wees (manlief moes laat werk en ek kon nie gaan oefen nie) dat die eerste lek plaas gevind het.

Manlief oortuig my om maar net vir ingeval my tas te laai. Ons het 8:30 by die hospitaal aangekom. ‘n Leeftyd gewag voor iemand kom toets het of dit vrugwater is. Hulle bevestig toe dat my water wel gebreek het en dat ek opgeneem moet word. Daar is ongelukkig egter nog nie ‘n bed beskikbaar nie. Iemand is besig om ontslaan te word en sodra hul die kamer skoon gemaak het kan ons daar in gaan.

Toe begin die chaos. Wat maak ons met ons oudste? Amper almal werk. En die res is weg vir die langnaweek. Ouma sou kom help, maar sy sou eers die volgende naweek in vlieg. Gelukkig werk my een vriendin van die huis af. Hulle is egter op ‘n plaas net buite die dorp. Sy’s meer as gewillig om ons knaap vir die dag te vat. Hy kan die dag lekker saam met haar dogtertjie speel. Net na 10 het hulle by die hospitaal aangekom – teen daai tyd was hy net te dankbaar om uit die vervelige hospitaal te kom. My kamer was ook toe net beskikbaar. Hulle het my help inboek en daarna het die groot wag begin. Die dokter aan diens vir die naweek het nog afsprake vir die dag gehad. Gelukkig is sy spreekkamer in die hospitaal, so as dinge skielik spoed vang kan hy dadelik kom. My kontraksies was gelukkig nog nie juis seer nie (net as ek gaan lê het, solank ek aan die beweeg was het ek amper van niks geweet nie). Vier uur is ons knaap terug van die plaas af en ‘n ander vriendin kom vat hom vir die aand. Haar man is weg vir die naweek en sy iss bereid om hom in sy eie bed te sit vir die aand en by hom te bly tot manlief by die huis kom.

Twintig oor 6 kom maak die dokter sy eerste opwagting. Hy’t eers nog ‘n nood keiser voor hy ons kan help. Agtuur stoot hulle my uiteindelik af teater toe. Ek het die narkotiseer gewaarsku dat my vorige spinaal nie gewerk het nie en dat my bloeddruk baie lol. Hy het toe die keer die spinaal hoër gedoen en dit werk soos ‘n bom. Natuurlik het ons weer pret met my bloeddruk. 20:46 die Vrydagaand maak ons pop haar opwagting. (Ten spyte van die lek het ek nog baie vrugwater gehad, meer as wat hulle verwag het). Na die dag se drama was sy egter aan die slaap – waar in jou lewe het jy al gehoor van ‘n baba wat geslaap kry dwars deur ‘n keiser! – ek moes toe al geweet het sy gaan baie rustig wees en deur enige iets kan slaap.

Al was sy op 37 weke gebore het sy 3.4kg geweeg, 50cm lank en ‘n kop omtrek van 36cm. Sy sou ‘n groot meisie gewees het as sy nog 2 weke kon groei soos beplan. En sy het ‘n APGAR van 9, 9 en 10 gehad.

Die dokter ontdek dat ek weer nuwe miome gekry het en besluit dat hulle klein genoeg is om sommer net daar te verwyder. Dit was ‘n lang proses en ek was vreeslik naar. Die feit dat hulle elke keer die vel dood gebrand het nadat hul een uitgesny het het nie juis gehelp nie. Die reuk was aaklig. Die vorige miomektomie het egter ook baie bindweefsel (en endometriose) agter gelaat – hy was verbaas dat ons enigsins weer swanger geraak het (sal eerder nie vir hom sê dit was sommer met die eerste probeer nie).

Hy hett die wond op elke moontlike manier probeer versterk (oplosbare steke, gewone steke, kramme en ‘n reuse pleister wat elke dag vervang moes word) om weer so baie bindweefsel te probeer voorkom. 56 minute later is ek uitgestoot. Dit is verskriklik stil in die teaters daai tyd van die nag. Daar was net nog een nood keiser en verder niemand nie. Gelukkig het hulle my vinnig opgestoot kraam saal toe, maar toe begin die volgende wag. Ek was later oortuig daar is fout met ons pop. Teen ongeveer 11 uur het manlief my kom soek. Die personeel het vir hom gesê hulle is nog besig met my en al die tyd lê ek my en dood bekommer.

Eers teen 23:30 het hulle haar vir my gebring en teen daai tyd was sy te moeg om die bors te vat. Teen half een het hulle besluit om maar vir haar glukose te gee en het manlief huis toe gejaag. Eers die oggend 3:30 kon ek haar kry om te drink. Gelukkig het die borsvoeding van daar af goed gegaan. As dit nie was vir die feit dat my melk maklik ingekom het nie (sommer al die Saterdag aand) vermoed ek sou ons meer gesukkel het. Gelukkig kon ouboet help om my melkproduksie vinnig ‘n hupstoot te gee. Daarna was dit net in die begin ‘n drama om die 2 se drink tye te skeduleer sodat sy altyd genoeg kry.

Die keer het ek so maklik herstel na die keiser. Ek kon dit amper nie glo nie. En dit alles terwyl ek net Panado kon gebruik, omdat ons pop allergies was vir die ander pyn medikasie.