Die twee woelwaters is albei mal oor stories lees. Dis nou nie juis iets nuuts nie. Die nuutste probleem is egter om lekker lang stories te vind. Sien die wat bedoel is vir 3 en 5 jariges moet ek ‘n ton van lees voor hulle genoeg gehad het.

So nou soek ek langer stories. Dis egter nie ‘n maklike taak nie. Vind ek iets wat lank genoeg is is dit gewoonlik bedoel vir heel wat ouer kinders en maak die stories die twee bang. Maar die is immers die veiliger opsie, meeste van die ander boeke gaan oor dinge waarvan die 2 eerder baie, BAIE later eers moet uitvind. Die ouer stories wat wel vir hulle ouderdom geskryf is en langer is gaan amper almal oor hekse, trolle, towerspel, monsters en ander aaklige goed.

Al wat ek op die stadium kon kry waarvan hulle wel hou is Rex Stone se Dinowêreld. Van die moet ek ook 2 op ‘n slag lees, maar dit help al baie. Enigste probleem is dat die boeke nie meer indruk is nie (natuurlik!). Maar die biblioteek het dit darem. Ek sou dit egter graag wou koop. Dis immers ‘n oulike reeks wat hulle later self weer sal kan lees.

Nog ‘n oulike boek wat ek in die biblioteek uit gesnuffel het is “Potjie en Kimberley” van Lynn Bedford Hall (natuurlik al 7 jaar terug gepubliseer!). Ek sien dat sy ook vir “Potjie en Pretoria” geskryf het. Ek hoop die biblioteek het die ook. Die boeke leer die kinders sommer nog van ons land ook so tussen Potjie se avonture deur.

Deesdae vind ek myself dikwels hees gelees. Die 2 stories plus Bybel lees is ook nie meer genoeg vir ons knaap saans voor bedtyd nie. Mens sou dink na ‘n uur plus van stories lees bedags sal hy teen slaaptyd genoeg gehad het. Maar nee.

Gisteraand na ons 3 stories, wil hy weer nog meer hoor. Ma se gô is egter uit. Ek sien net nie kans vir nog ‘n storie nie. Na ons 3 toe gebid het, wil die knaap toe weer bid. Hy bid egter so sag dat ek omtrent net “mamma” in die hele relaas hoor. Natuurlik moet ek toe vra waarvoor hy so hartstogtelik bid. “Ek het vir God gevra om mamma nie so moeg te maak nie. Sodat ons nog ‘n storie kan lees.” Hmm, nou hoe sit jy hom na dit in die bed sonder NOG ‘n storie?