Hier is wat ‘n paar ouers te sê gehad het oor hulle ervaring van ‘n groot ouderdomsgaping (Meer as 4 jaar verskil). Asook wenke wat hulle gee.
Karina se oudste is 7 en het ‘n 22 maande peuter
Dis vir my lekker dat my seun kan aangaan met sy eie dinge, terwyl ek besig is met die jongste. Hy verstaan hoekom ek meer aandag aan haar moet gee. Hy help my ook met sy sussie en speel so oulik met haar!
Aan die praktiese kant veroorsaak die verskil dat hulle verkieslik apart moet bad en aantrek.
Dit was vir my lekker dat ek vir 6 jaar vir hom 100% aandag en tyd kon gee, maar ‘n alleen kind skep ook ‘n leemte. As mamma het dit my kans gegee om alles baas te raak en ek is baie rustiger met kleinsus. Omdat sy nou eers hier is, kan ek 100% aandag aan haar gee, en ek mis niks van haar ontwikkeling nie.
Wenke: Laat jou oudste nog kind bly, moet hom/haar nie heeldag en aldag laat rondhardloop vir mamma nie. Onthou om kwaliteit tyd saam met jou oudste te bestee, hy/sy kan uitgesluit voel as daar meer aandag aan die kleintjie gegee word. Moet egter nie die oudste behandel asof hy/sy nog babatjie is nie, veral as hulle ouer raak. Wees buigbaar en realisties – Dieselfde reëls en intensiteit van die reëls, kan nie van toepassing wees vir die oudste en jongste nie.
Janie se spruite is 16 en 10
Dit het die druk in ons huishouding baie verlig omdat ons oudste al redelik selfstandig was toe die jongste gebore is. Al kon sy nie altyd verstaan dat die ou babatjie NOU gevoed moes word nie. Nou is dit lekker om vir haar hulp te vra met skoolwerk.
Noudat die oudste ‘n opregte tiener is, verander die prentjie byna uurliks! En ongelukkig vir haar het sy ‘n boeta met ‘n onblusbare terggees! Dis ook moeilik om vir kleinboet te laat verstaan dat hy en sy maatjies baie irriterend is vir ‘n tiener, want hy “speel net” met haar. Wat seker nog altyd die moeilikste is, is om hulle te laat verstaan dat hul elkeen so spesiaal en uniek is. En dat jy as ouer nie vir die een liewer is as die ander nie.
Wenke: Vat dit soos dit kom!! Ek is ERNSTIG!! Behalwe as jy elke oggend in trane werk toe wil gaan en vanaand in trane in die bed wil gaan klim. Soms gaan dit regtig rof en ander kere is dit soveel pret, veral as hul saam laf is! Ons lag baie meer as wat ons huil. Maar om tyd saam met elkeen afsonderlik te spandeer is belangrik. Saam met ons dogter kan ek ‘n lekker DVD kyk, terwyl ons seun weer sy hele dag sal om speel.
Petra se oudste is 5 en die jongste 1 jaar oud.
Wat vir my die lekkerste is van hul ouderdomsverskil is dat ons oudste verstaan as ek eers aandag aan die baba moet gee – ek borsvoed hom steeds. Hy is baie lief vir sy boetie, glad nie jaloers nie en deel sy speelgoed. Hy is ook baie besorg oor hom. Hy gesels baie met sy klein boetie en help met doeke weggooi, fopspeen soek en eettyd!!
Vir my is daar op die stadium nie regtig uitdagings met die groot verskil nie.
Wenke: Spandeer afsonderlike kwaliteit tyd saam met beide kinders. ‘n Baba het baie aandag nodig, maar die oudste kind moet nie voel dat hy uitgesluit of afgeskeep word nie. Sê gereeld vir jou kinders dat jy lief is vir hulle.
Helena, Ma van ‘n 10 en 1 jarige
Ons oudste was oud genoeg gewees om te verstaan dat daar ‘n nuwe boetie of sussie gaan kom. Hy kon deel in alles wat gebeur het, so hy het op geen stadium uitgesluit of jaloers gevoel nie. Hy het help kies hoe haar kamer sou lyk en lysies help maak vir haar naam.
Kleinsus het van die begin af by haar broer (wat sport mal is) se roetine in geval. So sy is ‘n baie gemaklike baba wat langs die sport veld of op die strand eet, speel en slaap. Op geen stadium is daar ‘n tekort aan individuele aandag of alleen tyd saam met enige van my kinders nie, want ek en my man deel die tyd.
Ons seun wat soveel ouer is verstaan ook as ek vir hom sê hy moet asseblief net so 10 min wag as ek met sy sussie besig is. Een van my vriendinne het ‘n tyd terug vir hom gevra of hy nie eerder ‘n alleen kind of dalk ‘n boetie wou hê nie. Sy antwoord was, ja hy wou graag ‘n boetie hê, maar toe kry hy ‘n sussie, en sy is baie beter.
Dit is vir my belangrik om nie te veel druk op hom te sit om na sy sussie te kyk ens. nie. Hy is ongelooflik verantwoordelik, en ‘n sagte siel. Maar hy is net ‘n kind en hy moet solank as moontlik kind bly.
Wenke: Betrek jou ouer kind soveel as moontlik by die swangerskap en wat alles aan die gebeur is. Hoe meer hulle betrokke is en deel voel, hoe meer sal hulle uit sien na die nuwe baba se koms. En as boetie of sussie eers daar is, moenie ophou om hulle te betrek nie, verduidelik alles en laat hulle help.
Liesl se seuns is 6½ en 13 maande oud.
Die lekkerste is dat my oudste ‘n regte helpertjie is en altyd op die uitkyk is vir wat sy boetie doen of nie mag doen nie. Hy is ook die een wat sy kleinboet vermaak en laat lag. Hulle twee is mal oor mekaar.
Ouboet raak soms jaloers as die jongste nuwe speelgoed kry. Al het hy baie speelgoed en al kry hy ook nuwes. Dit frustreer hom ook soms as boetie sy speelding vat. Hy vind dit nog moeilik om te verstaan dat die baba nog nie kan redeneer nie. En protesteer gewoonlik as hy kleinboet se speelgoed moet help op tel.
Wenke: Ek het my keuse om so lank te wag glad nie berou nie. Dit is ‘n keuse wat ons saam met die Here gemaak het en nie anders sou wou hê nie. Alles is vir my makliker met nommer 2. Ons is egter nog nie by die gevreesde potjie lesse nie. Maar die bottels, kossies, slapies, alles is baie makliker sover. Ek is ook baie rustiger en meer ervare. So baie keer wens ek ek kon eers ouma gewees het en dan ma. Mens het tog soveel meer geduld en tyd vir kinders as jy ‘n ouma is!
1 Response
[…] Groot gaping (meer as 4 jaar) […]