1

Medium gaping

2 July 2012
Share

Hier is wat ‘n paar ouers te sê gehad het oor hulle ervaring van ‘n medium ouderdomsgaping (18 maande tot 3 jaar verskil). Asook wenke wat hulle gee.

Yolande het ‘n 2 jarige en 6 maande oue baba wat 21 maande verskil

Dis ‘n vreugde om te sien hoe my seuns verskil en hoe die jongste van geboorte af altyd sy boetie dop hou. Dis wel ‘n uitdaging om balans te vind, veral met ouboet wat nie meer in die middag wil slaap nie en besig is met potjie lesse. Saans is dit ook moeilik, want dikwels is ouboet baie moeg en wil sommer in boetie se bad bad en dan gaan slaap. Ek kry hom net nie in ‘n vaste roetine nie.

Wenke: Probeer ‘n balans te kry wat werk tussen die 2 kleintjies. Aanvaar enige hulp wat aangebied word.

Elsabe is ‘n ma van ‘n vierjarige en het ‘n 7 maande oue tweeling

Toe ek die tweede keer probeer swanger raak het, was daar dae wat ek gewonder het of ons nie dalk te lank gewag het nie. Maar toe die dokter vir ons sê daar is twee babas, was ek BAIE, BAIE bly. Op 3 was ons oudste darem so te sê van die doeke af. Hy is gretig om te help met allerhande dingetjies en wil baie goed self doen. Ons het ook nog glad nie daai jaloesie faktor gehad nie, want hy was al verby die vloermoer en ma-vas stadium. Al wanneer ek eintlik met hom sukkel is as ons by die Oumas en Oupas gaan kuier, want vir baie lank was hy die enigste kleinkind in altwee families.

Die grootste uitdaging vir my is om te onthou dat hy eintlik nog baie my hulp nodig het en wil hê. ’n Tweeling is so ’n groot aanpassing en ek moet erken dat ek op ’n stadium verwag het dat hy alles vir homself moet doen en in ’n klein grootmensie moes verander. Dit voel vir my of ek nou eers my voete begin vind om ’n roetine te kry wat werk vir ons. Een waarin ek al die basiese versorgings met elke kind kan doen, sonder om in trane uit te bars, omdat ek net te uitgeput is en alles 3 keer oor moet doen.

Wenke: Om eerlik te wees dink ek nie mens kan jou regtig voorberei vir ’n tweede (of meer) kind nie. Elkeen is so anders. Dit hang baie af van jou kind se persoonlikheid, jou omstandighede en meestal waarvoor jy kans sien. Vir my was dit lekker gewees om vir 3 jaar my alles vir ons oudste te kon gee en hom ten volle te geniet voor ons weer ’n kind (wel 2) gehad het. Dis vir my nou erg dat ek nie so baie individuele tyd met die tweeling ook kan hê nie. Maar daar is weer baie ander spesiale dingetjies met ’n tweeling wat ’n enkel kind nooit sal ervaar nie. Elke kind is uniek en elke mamma is uniek. Gaan volgens wat jou hart vir jou sê! Deur dit alles het ek besef dat daardie Afrika gesegde: ”It takes a village to raise a child”, waar is. Ek is toe nie ‘n Super Ma nie…

Yolandie is ‘n ma van ‘n 7, 5 en 2 jarige

Die lekkerste van die twee oudstes is dat hulle lekker saam kan speel en kleinsus begin ook saam speel. Ek dink die ouderdomsverskil is baie lekker. Hulle is ware ousussies en help my baie. Ek leer elke dag my dogtertjies en hul persoonlikhede ken.

Dis ‘n uitdaging om tyd vir myself te maak. Met die jongste wat ma vas is is dit ook ‘n uitdaging om die ander twee sussies te help met hulle huiswerk. Maar ek pas alles in en kry tog tyd vir 3 se dinge.

Wenk: Hou moed mamma’s. Dinge raak beter.

Dorette se dogtertjies is 5 en amper 3

My kinders is maatjies en kan baie lekker saam speel, maar net so lekker baklei. Ek kan

deesdae meer dinge saam met die kinders doen, omdat hulle so na aan mekaar is. So byvoorbeeld waardeer albei nou ‘n dieretuin. Ek het met die tweede alles vinniger gedoen. Sy is vinniger van die foppie en doek af, want sy wou ook ‘n broekie dra soos sussie! Dit het my sommer baie gehelp.

Die na-apery van haar maak egter dat dit voel of sy net te vinnig groot word.

Wenk: Geniet jou kinders net, die een is nie te klein nie of die ander een is nie te groot nie.