Hier is wat ‘n paar ouers te sê gehad het oor hulle ervaring van ‘n klein ouderdomsgaping (18 maande en minder verskil). Asook wenke wat hulle gee.
Luzanne het ‘n 2 jarige en 9 maande oue baba (wat 17 maande verskil):
Die lekkerste ding van die ouderdomsgaping is om te sien hoe lekker hulle met mekaar speel, en dat die jongste een soveel vinniger mylpale bereik. Ek dink dit is seker ‘n tipe “copy-paste” verhouding. Alles wat boetie doen moet sussie ook probeer doen.
Ek kom agter dat as die baba huil dan gaan ons oudste kyk hoekom sy huil en sit haar foppie in haar mond en gee vir haar haar doekie. Hy wil altyd by haar wees, haar vas hou en drukkies en soentjies gee.
Die grootste uitdaging was vir my om my seuntjie van sy bottel, foppie en doek af te hou noudat sy sussie hier is. Sy mag daardie dinge nog doen en kry en hy nie. Maar op die ou end het dit net ‘n bietjie werk en uithouvermoë gekos. Ons het daardie struikelblok oorkom.
Wenke: My wenk aan nuwe mamma’s met dieselfde ouderdomsgaping is om net te ontspan en jou kinders te geniet. Hulle gaan mekaar groot maak en sulke goeie vriende wees.
Janine se oudste is 21 maande en het ‘n 6 maande oue tweeling
As ouers is dit makliker om in die ding van doeke en bottels te bly. Hulle word as maatjies groot en dit is te dierbaar om te sien hoe hulle vir mekaar kyk. Ons is egter nog op die oorlewing stadium. Die uitdagings is om kalm te bly as al 3 huil (hulle steek mekaar aan). Ook om ousus se vingers uit kleinsus se oë te hou. Die grootste uitdaging is om uithuisig te gaan. Ons het ook net nie meer persoonlike tyd nie – alles gaan om die kinders. As hulle almal slaap, dan moet jy spring en dinge gedoen kry. Die Here is egter ongelooflik – ek sou dit nie enige ander manier wou gehad het nie.
Wenk: Probeer elke dag soveel liefde moontlik aan elke kind gee en om ‘n spesiale tydjie saam met elkeen te spandeer (dit voorkom jaloesie). As julle kan, kry ‘n kinderoppasser. Soos ek ook al gesê het vir ander tweeling mammies – as jy voel jy is nie meer in beheer nie, “fake it”. Dit klink erg – maar die kinders voel aan as jy net so ‘n bietjie stres. En vir die super besige mammies – soms is dit goed om net so ‘n tydjie in die tuin te gaan staan, vars lug te kry, ‘n gebedjie van dankbaarheid op te sê en viola, jy voel soos ‘n nuwe mens.
Wilbyn se seuns is 34 maande en 22 maande
Ons seuns verskil presies 1 jaar en ‘n dag. Een van die lekker dinge daarvan is dat hulle maatjies is en hulle saam byvoorbeeld dieselfde speelgoed op dieselfde tyd geniet. Hulle leer en ontdek ook goed saam. Dit voel ook vir my of mens half net 1 keer deur alles gaan.
Een van die uitdagings is ook dat hulle op dieselfde tyd deur dieselfde goed gaan. Ek voel soms of ek meer aandag aan die een gee as die ander vir dieselfde goed. En albei is nog babas, so hulle wil opgetel word, huil, ens. Maar ek moet sê, ek dink my jongste seuntjie is meer onafhanklik as gevolg daarvan. Dis ook hard op die sak, die feit dat altwee byvoorbeeld gelyk doek dra.
Wenke: Kry altyd vir hulle dieselfde speelgoed. As die een iets het, wil die ander een ook presies dieselfde hê. Moet hulle NIE dieselfde aantrek nie. Ek kry daagliks die vraag: “Is hulle ‘n tweeling?”
1 Response
[…] Mamma Zel 'n Ma se los gedagtes TuisteAbout RSS ← Klein gaping […]