Alle kinders gaan mos maar deur periodes van skeidingsangs as baba’s en peuters. Ek was egter nog altyd gelukkig in die opsig. Miskien was dit omdat my kinders nog nooit nodig gehad het om na ‘n dagmoeder of skool te gaan nie. Dinge is anders as jy ‘n tuisbly ma is.
Natuurlik is ons ook deur die skeidingsangs periodes, maar dit was altyd van korte duur. Ek was immers maar net altyd daar. Dit is hoekom dit my heel onkant gevang het toe ons 5jarige skielik skeidingsangs ontwikkel. Dit het alles begin toe hy siek was en toe ‘n prosedure onder lokale verdowing moes deur gaan. Dit was nie vir my vreemd dat hy skielik ma vas was nie, maar ek het verwag dat dit vinnig sal beter raak.
Nou is dit egter al ‘n maand later en die bekommernis skop in. Gelukkig is daar die goeie ou internet. Tot my verligting moet ek ontdek dat dit toe ‘n algemene verskynsel is. Ek slaak ‘n groot sug van verligting.
Die slim mense vermoed skeidingsangs kom op die ouderdom voor, omdat so baie kinders nou preprimêr toe gaan. Ek dink hulle skop die bal mis, myne was nog nie ‘n dag op skool nie en baie van die ma’s, wat ek van raak gelees het, se kinders is al van baba dae in die skool. Moontlik vererger die huidige graad RR en R net die hele situasie.
‘n Tweede oorsaak word gesoek in die feit dat kinders op die ouderdom ontdek dat die lewe nie net sonskyn en rose is nie. Hulle raak bewus daarvan dat mense kan seer kry, dood gaan en dat daar skelms daar buite rond loop vir kwaad geld. Ons knaap kan waarskynlik in die groep geplaas word. Skielik het hy die implikasie van ‘n inbreker besef (al was die insident meer as ‘n jaar terug), hy besef motors kan ongelukke maak en mense kan seer kry (of selfs dood maak). Die dinge maak hom vreesbevange. Mens kan dit seker verstaan, as volwassene het jy immers nie eers beheer oor die dinge nie. Hoe magteloos en blootgestel moet ‘n vyfjarige nie voel nie!
Dis duidelik net nog ‘n ontwikkelsfase, maar dis een wat ek nie sien kom het nie en nog nie weet hoe om mooi te hanteer nie. Ek voel deesdae die kloustrofobie dikwels inskop. Ek is nie gewoond daaraan om ‘n 5jarige te hê wat 24 uur van die dag naby my wil wees nie. Noudat ek egter besef dit is normaal, kan ek diep asem haal en ontspan. En waarskynlik kan ons nou begin werk aan ‘n oplossing.
Artikels om na te loer oor die onderwerp is:
Ek dink ons moet nooit aanvaar dat mense nou ‘groot’ is en nie ‘skeidingsangs’ meer moet ervaar nie. My ouers het geskei toe ek 24 jaar oud was, en dit was traumaties, juis omdat ek dink in die hart van elke kind (klein of groot) wil mens glo in alles ‘goed’,en sukkel ons om te aanvaar dat die mense na wie jy opkyk, en wie jou lei, jou dan nou juis só vaal. As ek kon, en nie veronderstel was om om te gee nie, het ek steeds my mamma se been vasgehou…en gevra sy moet weer probeer!
Dit is so waar, Loli. Dink mens moet seker die positiewe ook raak sien. As die klein mense so bang kan wees dat ons iets oor kom beteken dit net dat hulle regtig lief is vir ons. Dis ‘n baie spesiale band wat mens vir niks sal verruil nie.