Ek wil nou al lankal tyd af knyp om ons refluks storie en alles wat ons in die proses geleer het te deel. Ek weet egter dit gaan lywig raak en met 2 woelwaters in die huis bly ek uitstel. Hier is dit egter uiteindelik!
Ons oudste is op 39 weke gebore. ‘n Gesonde 3.705kg. Sommer nog terwyl ons in die hospitaal was het hy begin spoeg/opgooi. Die pediater was oortuig dat daar nog vog op sy longe was, wat hom naar gemaak het. Die is dus uitgesuig, maar dit het niks verander.
So is ek huis toe met ‘n baba wat heeltyd opgooi. Nie net na voedings nie, maar sommer die hele dag lank. Daar by saam het hy die vreeslikste krampe en winde gekry en 12 of meer vuil doeke elke dag. Dit alles het tot gevolg gehad dat hy konstant honger was en swak gewig opgetel het. Hy was dus elke 2 ure aan die bors vir ‘n halfuur en dikwels meer. Ek het naarstiglik begin soek vir die oorsaak van al die krampe.
Dit het net erger en erger geword. Om met ‘n koliek baba te sit wat elke dag ure aan een skree en krul van die pyn is nie kinderspeletjies nie. Ek onthou nog te goed hoe ek smiddae in trane buite op ‘n klip gaan sit het, met ‘n skreeuende baba in my arms. Ek dink ek bure wou weg hol, maar die geskree het darem beter in die oopte geklink as tussen vier mure.
Hy het ook vreeslik gesukkel om wind uit te kry. Al wat daarvoor gehelp het was Spasmopep Junior
Ek het begin om ‘n kosdagboek te hou en stuk-stuk moontlike oorsake uit my dieet probeer sny. Suiwel, koring, soja, mielies en so het die lys aangehou sonder enige sukses. Ek was later te bang om enige iets te eet! Gelukkig lees manlief toe raak dat ysteraanvullings ook tot erge krampe, winde en diarree/hardlywigheid kan lei in babas. Ek het dus op gehou om my multivitamien te drink. Daar was dadelik ‘n verskil. Toe het ek alle kosse met aanvullings uitgesny. Geen brood of ontbyt graan ens. En genadiglik het die koliek tot ‘n einde gekom. Ons kon ook soos normale mense begin doek ruil het.
Dit was net voor sy 6 weke ondersoek. Die pediater was oortuig die krampe kon nie agv die ysteraanvullings wees nie. Hy is nog een van die oningeligtes wat glo wat ‘n ma eet beïnvloed nie haar borsmelk nie. As ek net ons 2de kind gehad het sou ek met hom kon saam stem. Met haar kon ek enige iets onder die son eet en dit het absoluut geen uitwerking op haar gehad nie. As mens egter kan sien hoe 1 pil of bakkie pap jou baba vir ure aan die skreeu kan hê, verander jy gou van mening.
Ons het egter nog steeds met die refluks gespook. Die pediater se opinie was dat ek as nuwe ma oorreageer! “Alle babas spoeg. Dit lyk erger as wat dit is.” Ek kon gil van frustrasie. Ja, die knaap het toe al 4.2kg geweeg (wat aanvaarbaar vir sy ouderdom was), maar teen sy lengte het hy op die 5de persentiel gelê (net 5% van babas van sy lengte het dus minder as hy geweeg). Dit terwyl hy by geboorte op die 75% persentiel was. Duidelik rede tot kommer. Sy enigste raad was dat ek (as dit nie beter raak nie) hom teen 3 maande moet begin vastekos gee.
Die enigste ander pediater op die dorp is berug daarvoor dat hy vir elke denkbare ding teater toe storm. So begin ons toe maar die stryd met refluks.
Gelukkig het die knaap snags goed geslaap (hy het sommer van 3 weke af 8-9ure snags geslaap), maar die dae was uitputtend. As hy nie gevoed het nie, moes ek hom regop hou. En soos alle refluks babas was hy net gelukkig in my arms. Ek dink die konstante skoonmaak het my amper die meeste onder gekry. Dit en die feit dat mens soos ‘n kluisenaar raak. Hoe en wanneer kan jy immers op ‘n uitstappie gaan. Hy drink elke 2 ure vir 30 tot 45 minute lank. Dan moet ek hom vir ‘n halfuur regop hou. En vir ten minste ‘n uur na ‘n voeding is ‘n karstoeltjie ‘n nagmerrie. Dit laat miskien 30 minute voor die volgende voeding om iewers te kom. En daar gekom moet hy weer voed. Refluks babas voed nie maklik nie. Hulle doen nie goed op vreemde plekke en tussen mense. Hulle spook genoeg met die bors om nie die ekstra ongerief nog ook te hê nie. (‘n Vriendin het eers jare later, nadat sy self ‘n refluks baba gehad het, erken dat sy daardie tyd nie kon verstaan hoekom ek nie meer uit gekom het nie. Mens moet seker eers self daar deur om begrip te hê).
Ek het op ‘n artikel afgekom met wenke vir refluks. Die het ons darem deur die eerste maande gekry. Ek dink nie ons sou daar sonder oorleef het nie. Van die wat regtig ‘n groot verskil gemaak het was om sy kot en duikruil area se koppenent te lig, om ‘n foppie (dummy) te gebruik, hom op sy rug te laat slaap en om streng te kyk waarna ek eet. Dinge op die kos lys wat sy refluks werklik erger gemaak het was uie/knoffel (selfs net die bietjie wat in speserye voorgekom het), swart peper, koffie (decaf in gesluit) en enige iets met vet (ek moes selfs goed soos laevet jogurt maar beperk). My dieet was maar saai (maar aan die positiewe kant het ek hope gewig verloor, meer selfs as wat ek opgetel het terwyl ek swanger was).
Op 3 maande het ons begin met vastekos. Natuurlik was ryspap nie ‘n opsien nie (agv die aanvullings). Ons het dus met groente begin. Aan die eenkant was dit ‘n lewensredder, want die knaap kon net nie meer genoeg melk binne hou nie en was toe al vir 2 weke elke uur op die bors. Aan die ander kant was dit ‘n reuse gemors. Dit het net mooi niks vir sy refluks gehelp nie. Dit het net die skoonmaak moeiliker gemaak en al sy klere was later gevlek.
Iewers in die tydperk het ons hom vir ‘n ruk op Zantac gehad. Dit het vir ‘n paar dae gehelp, maar toe maak dit hom hardlywig. En refluks en hardlywigheid saam is ‘n ramp. Ons is het toe maar weer net by ons vorige strategie gehou.
Teen sy 6 maande ondersoek, kon die pediater nie meer sy refluks weg praat as niks nie. Dit was duidelik dat daar ‘n probleem was. Ten spyte van die feit dat hy al 6 keer ‘n dag geëet het, was hy steeds 2 uurliks op die bors. Die ekstra kos het gehelp sodat hy darem al beter gewig opgetel het. Ons moes hom vir ‘n barium sluk vat (as ek vooraf tyd gehad het om eers meer daaroor te lees, het ek nie ons geld en tyd daarop gemors nie – die toets is selde ‘n sukses en was baie traumaties vir ons almal). Hy mag van die oggend 6 uur af niks geëet of drink het nie (blykbaar sodat hy eerder die aaklige brousels sal sluk – as jy babas ken sal jy weet hulle is nie op hulle beste as hulle honger is nie en sal juis dan nie vreemde dinge aandurf nie). 8 uur is ons toe by x-strale vir die prosedure, maar ons is eers teen 12 uur gehelp. Teen daardie tyd het ek ‘n histeriese baba (wat dood is van die honger) en elke 2de persoon in die ontvangs vertel vir my hy’s net honger (so asof ek dit nie weet nie!). Teen die tyd dat hy die barium moes drink wou hy niks weet nie, wat nog van stil lê vir die x-straal wat daarop moet volg. Uiteinde is dat ons net mooi niks wys geword het nie.
So is ons toe huis toe met ‘n voorskrif. Die een was vir Motilium en die ander vir Losec MUPS (ek kan nie meer onthou watter een was eerste nie). Die een het hom ironies genoeg naar gemaak. Sodra die in was het hy sulke boë opgegooi. Vir die ander was hy allergies en het ‘n uitslag oor sy hele lyf gekry.
Ons was dus steeds nêrens nie. Dis toe dat ‘n vriendin (wat self ‘n ouer baba met refluks gehad het) voorstel dat ons Infantiflora probeer. Op daardie stadium was ek desperaat genoeg om enige iets te probeer. Ek is dieselfde dag apteek toe en hy het sy eerste 2 Infantifloras in ‘n bietjie water gekry. Die volgende dag was sy refluks al beter en teen die einde van die week heel weg. Dit was amper te goed om waar te wees. Skielik het ek ‘n heel ander kind gehad. Hy het minder dikwels gedrink, goed begin slaap bedags, op sy eie begin speel. Ek kon nie glo hoe ‘n maklike baba hy skielik was nie.
Hy was tot net na ‘n jaar nog op die Infantiflora. Ons het ‘n paar keer voor dit probeer om dit nie vir hom te gee nie (soms omdat ek vergeet het om die houer in die vrieskas te sit – dit is geweldig temperatuur sensitief!), maar binne ‘n dag het hy weer begin opgooi.
Daarna het die refluks goed gegaan. Ek moes maar kyk dat hy nie kort voor slaaptyd vetterige kos eet nie, anders het hy sooibrand gekry die nag. Verder het hy dit “ontgroei”.
Met al die aandag op sy refluks probleem het ek my nooit juis gesteur aan die feit dat hy ekseem gehad het en blou kringe onder sy oë (agv sinus). Ek het wel in die eerste jaar besef dat my eie ekseem, hooikoors en maagkrampe (as ek iets soos pizza geëet het) iets van die verlede was. Ek het besef dat ek onwetend iets uit my dieet gesny het waarvoor ek self allergies/intolerant was. ‘n Paar kos eksperimente later was dit duidelik dat koring die oorsaak was.
Hy het die nat tipe ekseem gehad (soos ek dit sommer maar noem). Dikwels word ekseem vererger as die vel droog raak, maar in sy geval het dit erger geword as dit nat was. Onder sy doek, onder sy kraag en enige area wat dus maklik gesweet het het dus vreeslik gelyk. Teen 18 maande het ek na ‘n dokters ondersoek besef die ekseem, sinus en sy bors wat telkens toe trek as hy verkoue gehad het is agv ‘n allergie/intoleransie. Met die dat ek teen daardie tyd al besef het koring is vir my ‘n probleem het ons dus eerste die uit sy dieet gesny. Ons was gelukkig. Die soektog was op ‘n einde.
Nou was dit egter nie net ek wat koring probeer beperk het in my dieet nie. Ons moes ons hele dieet aanpas. Die eerste paar maande was ‘n uitdaging, maar na ongeveer 6 maande raak mens gewoond aan dit. Plus jy het nie meer nodig om elke liewe etiket in die winkel te lees nie!
Dis eers in my soektogte na meer inligting oor voedselintoleransie wat ek toe afkom op ‘n artikel deur ‘n Kanadese pediater. Hy het gevind dat meer as die helfte van sy refluks babas nie ‘n klep disfunksie gehad het nie. Deur die ma’s op ‘n koringvrye dieet te sit is die probleem opgelos. Dit wil dus lyk asof daar ‘n sterk verband tussen refluks en koringintoleransie is. Dis ook eers dat ek besef hoe power my aanvanklike pogings destyds was om koring uit my dieet te sny (dit is immers oral en kom op die onwaarskynlikste plekke voor – soos op oondbak tjips!).
Dit alles was net nog aanmoediging om ons dieet koring-vry te hou. Mens is egter nog so onkundig as jy die eerste keer met voedselintoleransies te doen kry. Jy dink om so nou en dan ietsie verkeerd te eet gaan nie ‘n verskil maak nie. Jy leer egter vinnig dat daar nie kortpaaie is nie.
Tydens ‘n familie vakansie kort voor sy 4de verjaarsdag het ons besluit om bietjie te laat slap lê. Dit voel immers bitter wreed as almal anders koekies en beskuit eet en hy mag nie. Ons sou maar die een keer die ekseem en sinus trotseer. Teen die einde van die vakansie het ek egter met ‘n monster gesit. Hy was heeltemal buite beheer van sy emosies. Vir die geringste ding wat nie na sy sin was nie sou hy die vreeslikste woede uitbarstings kry. Sy gedrag het ‘n ernstige probleem en verleentheid geword. Ek was raadop.
Gelukkig was ‘n goeie vriendin eendag by tydens een van die plofbare uitbarstings. Sy was stom geslaan. Dit was heel uit sy aard. Sy vra toe of hy nie dalk weer koring in gekry het nie. Ek was verbaas. Wat is immers die verband? Sy vertel toe dat ‘n vriendin wie se kinders ook met intoleransie sukkel so onbeheerbaar raak as hulle die verkeerde goed eet. Ek het dadelik weer streng op sy dieet geraak. Binne dae was hy beter en binne 2 weke weer sy ou rustige self (wel so rustig soos wat besige seuntjies maar kan wees).
In die laaste jaar en ‘n half was daar nou al ‘n keer of wat wat hy iets verkeerd geëet het (gewoonlik, omdat ‘n goed bedoelde familie lid of nie seker gemaak het dat hy iets kan eet nie of hom bietjie wou “bederf”). Telkens kon ons dit duidelik in sy gedrag sien. Ons sal dus maar by die koring-vrye dieet hou. Hy is nou al 5 en ek het hom al ‘n paar keer gevra hoe hy voel na hy iets verkeerd geëet het. Die antwoord is gewoonlik “my kop voel dom” of “my kop voel mal”. Miskien sal hy later jare die gevoel beter kan beskryf.
Interessant genoeg het hy ‘n ouer nefie wat onlangs met ‘n soja allergie gediagnoseer is. Van dat hy op die nuwe dieet is vaar hy tonne beter op skool. Voorheen is hy al met ‘n string leer/gedragsprobleme gediagnoseer. Van ADD tot outisme. Dit wil nou lyk asof alles net veroorsaak is deur die allergie! Dis hartseer dat kinders etikette om hulle nekke kry vir ‘n probleem wat bloot deur eenvoudige dieet veranderings opgelos kan word.
Dit sal interessant wees om te hoor of ander ouers ook ‘n verband tussen kinders se gedrag en allergie/intoleransie gevind het.
My kleinkind het silent reflux hy het in ICU beland toe hy 3mde oud was en net opgehou asem haal die pediater het toe vasgestel hy het silent reflux en het hom toe op novalac AR gesit en die probleem was opgelos hy slaap regdeur. En eet als geen alergie nie is baie gesond .hy eet goed. En is al n jaar en 2mde
Ek is so bly julle het iets gevind wat werk. Hopelik kan jou stukkie raad nog mense help.
Ongelooflik genoeg het ons 3de kind nou ook “silent reflux”. En ek moet se alhoewel dit minder van ‘n gemors is, veroorsaak dit baie meer ongemak vir haar as wat die refluks vir ouboet veroorsaak het. Een voordeel is darem dat sy beter gewig optel as wat hy gedoen het.
Dit het ons amper ‘n jaar gevat om te besef hare is agv ‘n laktose intoleransie. Nou doen ons die laktose vrye ding en dit gaan soveel beter. En gelukkig is daar vir die darem ‘n pilletjie wat ek haar kan voer as sy die slag iets met laktose in wil eet 🙂