19 July 2012
Share

Ek weet baie ma’s gebruik nie ‘n program om hulle voorskoolse kinders besig te hou nie. Ek het dit ook nou vir 5 jaar gedoen, maar dit raak nogal uitputtend. Miskien is ek net nie kreatief genoeg nie. Maar ek kan net nie aanhoudend nuwe dinge uitdink om my twee besig te hou nie. Die internet is ‘n reuse hulp. Dit verg egter heelwat tyd om te soek vir nuwe idees – tyd waarin ek eerder saam met hulle iets pret sou wou doen.

Dis hoekom ek so bly was toe ek die Klein Breintjies Leer Tuis pakket ontdek het. Dis nie een van daai programme waarin jy jou dood moet werk en die kinders oor gestimuleer word nie. Elke dag se lessie is kort, maar hope pret. Ons leer ietsie nuuts oor die tema. Dan is daar gewoonlik ‘n bewegings aktiwiteit en laaste kuns.

Ons 3 geniet alles! Ek hoef nie voor die tyd baie tyd aan voorbereiding te spandeer nie, wat dit net nog lekkerder maak. Ons is nou eers amper klaar met die eerste module (daar is 10). So daar wag nog ‘n jaar van saam speel vir ons.

Ons doen ook nie elke dag ‘n lessie (soos die kinders dit nou) nie. Sommige dae as ons andersins bedrywig was laat ek dit oorstaan. Dan is die volgende dag se les vir die 2 woelwaters net nog lekkerder.

Verder hou ons ons maar steeds besig met legkaarte bou, buite speel en hope lees. Ek dink ons het ‘n rekord dag Maandag gehad vir die lees. Ons het die dag begin met die laaste 30 bladsye van Trompie. Toe is ons biblioteek toe om nuwe boeke uit te neem. Teen die einde van die dag het ons 6 en ‘n half van die 16 nuwe boeke klaar gelees! Sommige was wel lekker kort, maar tussen die boeke was ook meer lywigs soos Dino-Wereld 7, Die Ongelooflike tekkies en die eerste 3 stories in Die Balkie boek. Ek was skoon hees, maar die 2 wou net nog en nog lees.

Dinsdag het ek ‘n lees breek gevat en ek moes teen ons slaaptyd stories goed hoor dat hulle nie gelukkig was met die min lees vir die dag nie. 

Hier is sommer van die pret dinge wat ons onlangs gedoen het (Ek dink van alles so ver het hulle die gloopy verf die heel meeste geniet – Volgende keer maak ek genoeg, sodat hulle sommer in die bad kan mors daarmee):