Gisteraand toe manlief weer moeg na ‘n lang dag by die werk tuis kom, het ek net weer besef wat ‘n voorreg dit is om tuis te kan bly met die kinders. Daar is seker baie ma’s wat werk wat nie so min van hulle kinders het nie, maar ek vermoed baie se tyd lyk baie soortgelyk aan die van my man. Soggens sien hy hulle miskien vir 15 minute. Saans kom hy moeg van die kantoor af. Ek is seker dan wil hy eerder ‘n paar oomblikke van stille hê. In plaas daarvan bestorm 2 lyfies hom – uit gehonger vir ‘n tydjie saam met pappa. Op goeie aande kan hy darem so 90 minute saam speel, so tussen ete en stories lees deur. As hy moet laat werk is die tydjie nog minder. Dan is die 2 bed toe.
Maar dis nie soseer die hoeveelheid tyd wat hy in die week saam met hulle het wat my pla nie. Dis die kwaliteit. Sien teen die tyd wat hy tuis kom is die woelwaters al moeg. Dis nie juis die beste tyd van die dag om hulle te beleef nie. Hy mis al hulle streke bedags. Hoe hulle dit geniet om te mors. Al die uitbundige skaterlaggies en lawwe grappies. Hy sien hulle soggens as hulle nog half deur die slaap is en saans as hulle op hul moeilikste is. Vat dit nie helfte van die vreugde weg nie? En is dit nie maar dieselfde wat so baie werkende ma’s elke dag moet deur leef nie?
Ons probeer opvang. Ek neem foto’s en probeer hulle tydens ete kry om hulle dag te deel. Maar daai tyd van die dag wil hulle gewoonlik niks weet van ma se strategie om pa ook deel van die vreugdes te maak nie. Dis dan wat ek weer dankbaar is dat ek nie ‘n oomblik saam met hulle hoef mis te loop nie.
Op die oomblik was dit goed om weer tot die besef te kom. Ons het ‘n moeilike maand (en ‘n bietjie) agter die rug. Na ons knaap einde Mei siek was is hy soos gom aan my vas geplak. Hy speel net as ek binne ‘n paar meter en in sig is. Hy gaan nie alleen toilet, bad of kamer toe nie. En snags gaan dit nie veel beter nie. Wel dit gaan beter as ‘n maand terug. Die eerste ruk was hy elke uur wakker. Nou is dit darem net een of twee keer snags. Hy slaap weer langs my bed. Dit voel asof ek weer ‘n baba in die huis het. Ek is nie ‘n oomblik alleen nie en ek doen nooit goed met min slaap nie. Ek voel skoon kloustrofobies. Hoe is dit dat dit mens nie pla as jy konstante aandag aan ‘n baba moet gee nie, maar as ‘n 5 jarige dit doen dan kry dit jou onder na ‘n ruk?
Natuurlik het dit nie baie gevat vir kleinsus om te sien hoe dit gedoen word nie. Maar sy is darem net met tye so. Sy het wel haar eie strategieë ook. Sien sy is weer ‘n heup-sitter. Gelukkig is sy klein vir 3, maar die 14kg raak steeds wild om so baie rond te karwy. Sien haar plan lyk so. As sy rond gedra wil word kry haar voete skielik koud op die teëls en leiklipvloer. En ‘n mamma wat jou rond dra, is immers tonne beter as skoene. Net die volgende oomblik hardloop sy weer dood gelukkig kaalvoet rond. Vergete is die koue voete as daar eers lekker gespeel kan word.
Dit is ons gesin se grootste uitdaging. My man werk weke weg van die huis af, en ek is ‘n joernalis, aan wie geen ‘vaste werksure’ toegedig kan word nie. Ek moet werk wanneer dinge gebeur. Soos ek hier tik, sit ek by die werk. Ons as gesin het al ‘n paar krisisse deurgewerk.
Ek het al menige aande stoksielalleen twee slapende kinders (wat in my kantoor aan die slaap geraak het) in ‘n stikdonker huis ingedra en met klere en al in die bed gesit.
Ons enigste oplossing nou: Om ‘n huis te soek, met ‘n bediendekamer, waar my huiswerker voltyds gaan moet inbly. Ons doen maar die beste wat ons kan met dit wat ons kan. That’s life, né.
As ma breek dit my hart, as verslaggewer moet ek ‘n plan maak. Die ewige tweestryd van die werkende ma.
Dit is verseker die krisis waarmee so baie werkende ma’s sit. Destyds was dit ook een van die groot oorwegings toe ons besluit het of ek terug gaan werk toe of nie. Ek moes ook ‘n week uit elke maand van die huis af werk of net stagneer in my werk. Dit het vir ons die besluit om die finansiele sprong te maak, makliker gemaak.
Ek weet werklik nie hoe werkende ma’s alles bymekaar hou nie.