Hier is wat ‘n paar ma’s gedeel het oor hulle ervaring van borsvoeding na ‘n jaar (na aanleiding van die artikel):
Surina het Sulene (6 ½ jaar) tot op 2 geborsvoed en borsvoed steeds vir Johanne (3 maande)
“Ek het Sunele gevoed tot net voor haar 2de verjaarsdag. Dit was so fantasties. Dit was so wonderlik om haar teen my lyf te kon vashou en die wonderlike geluidjies te hoor as sy sluk en te dink, sjoe, die Vader het my liggaam so wonderlik gemaak dat ek ryklik in al haar liggaampie se behoeftes kan voorsien. My pa (oorlede in 2006) was ‘n apteker en homeopaat. Hy het so dikwels verduidelik hoe wonderlik borsmelk is – dat ‘n mamma se lyf so geskape is om aan te pas by baba se behoeftes: as baba dors is, les die melk die dors, as sy honger is, is dit meer voedsaam om die honger te stil en as sy siekerig is, is daar outomaties meer teenliggaampies in die melk wat help veg.
Ek het opgehou omdat sy net te veel in my klere wou inklim op allerhande tye. Ek het gevoel sy is emosioneel sterk genoeg (ons het ‘n ander manier van vertroeteling gekry). Ek glo ook dat die borsmelk grootliks gehelp het om haar immuunstelsel lekker op te bou. Ons was in al hierdie tyd nog net 1 maal by ‘n dokter met haar.
Sulene was ‘n laat eter, sy wou niks weet van vastekos nie tot omtrent op 8 maande. Dit het my geweldig baie gemoedsrus gegee om te weet ek kan aanhou probeer kossies gee, maar as sy niks daarvan eet nie is dit ook reg, want sy kry borsmelk.
Johanne is nou 3 maande. Dit is weer so ‘n fenomenale voorreg om haar te voed. Die melk is altyd gereed, altyd die regte temperatuur en altyd beskikbaar en die beste formule ooit vir haar pragtige groeiende lyfie se behoeftes.
Ek kan my nie indink hoe ek nie moes borsvoed of dat ek een dag vroeër moes ophou nie. Ek wil Johanne bitter graag tot op 2 voed. Dit is so ‘n voorreg!”
Chantell het haar dogtertjie tot op 2 jaar geborsvoed
“Ek moet sê dit was ‘n groot besluit om my dogtertjie 2 jaar lank te voed en ek is nie vir ‘n oomblik spyt nie. Sy het nou ‘n groot voorsprong in die lewe, want daar is niks gesonder vir jou kind as borsmelk nie. Dit gee alles wat jou kind nodig het en gee ook ‘n hupstootjie vir hulle immuunstelsel. Daar is immers geen melk op die mark wat jou kind kan bied wat borsmelk bied nie.
Die tyd wat jy en jou kindjie saam spandeer met borsvoeding voel ek bou ook ‘n baie sterk band tussen julle. Daai eerste oomblik toe sy gebore word en dadelik aan jou bors gesit word was wonderlik. Jy as mamma is baie skrikkerig, maar dis asof jou baba weet jy is haar lewenslyn. ‘n Bron van liefde en beskerming.
Ek en my man probeer nou weer vir nog ‘n klein woelwater. En ja, ek glo ek sal my tweede enetjie ook so lank borsvoed. Al nadeel vir my van so lank borsvoed is dat daar absoluut niks oor gebly het van my borste nie. “
Marli het 2 seuns tot 18 maande geborsvoed en borsvoed steeds vir Daniël (9 maande):
“Ek het nog vir Matthys geborsvoed toe ek swanger was met Christiaan. Daar was egter bloeding en die dokter het gesê ek moet maar liewer ophou, anders het ek dalk langer aangehou. Ek het letterlik seker ‘n week gehad nadat ek Christiaan gespeen het voor ek swanger geraak het met Daniël. Ek beplan om weer so lank te borsvoed.
Ek het nie eintlik geweet wanneer ek wou ophou voed nie. Ek het maar aangehou totdat ek gevoel het dis nou dit, maar dit was so gerieflik en goedkoop dat ek net aangehou het. Daar is definitief heelwat mamma-liefdes-hormone betrokke! Die mannetjies was al heelwat oor ‘n jaar en as ek hulle so vashou en voed voor hulle saans gaan slaap het was daardie intense binding steeds daar.
Ander voordele was dat daar geen voorbereidings nodig was nie en op aanvraag was daar melk. Dit het ook gehelp met die verloor van babavet. En elke druppel is ekstra teenliggaampies vir gesonde kinders. Die tye wat ek my kinders voed is tye wat ek gaan sit met ‘n boek. As dit kan sit ek my voete hoog – dis spesiale bindings-tye en ‘n goeie verskoning om self ‘n bietjie te ontspan.
Die nadele was dat ek lank borsdoekies moes dra! En borsvoedingsbras – ek sukkel steeds om die perfekte een te kry. Dis maar persoonlike frustrasies waarmee nie almal sukkel nie. Soms is die kinders redelik vas aan jou, maar hulle albei was tevrede om na een jaar ook melk uit ‘n bottel of bekertjie te drink wanneer ek nie naby was nie. Christiaan was so effe van ‘n byter. Matthys het net soms geknaag as hy dalk aan die bors aan die slaap sou raak. En na een het hulle al tande!”
Mamma Zel:
“Ek het self my 2 kinders tot op 3 jaar geborsvoed. Dit is nie iets wat ek regtig besluit het nie. Dit het net mettertyd so gebeur. As ek terug dink aan die moeilike begin met my oudste sou ek werklik nie kon droom dat ek 5 jaar (en 1 week) later eers sou speen nie. Aan die begin het ek nie eers gedink ek sou die 6 maande merk haal nie. Dit was egter ‘n ongelooflike ervaring om beide my kinders so lank te kon voed.
Toe ek destyds weer swanger geraak het, het my ginekoloog aanbeveel dat ek eerder my oudste moes speen. Hy het nie dikwels ma’s tee gekom wat swanger was en steeds geborsvoed het nie. Tog was hy nie heel daar teen gekant nie en het my laat begaan.
Later was ek bitter dankbaar oor die besluit. Met ons jongste wat onverwags oor ‘n lang naweek haar opwagting gemaak het het alles by die hospitaal nie so glad verloop soos gewoonlik nie. Ek het haar die eerste keer amper 3 ure na haar geboorte vas gehou en teen daar die tyd was sy te moeg/swak om te drink. Sy’t byvoedings gekry (iets wat ek eers tydens ons ontslag besef het). Die gevolg was dat sy die eerste keer 7 ure na geboorte begin voed het. Normaalweg sou dit probleme in hoofletters af gegee het. My borste was egter gewoond aan borsvoeding en kon dus net voortgaan met wat hulle al so goed vir 2 jaar gedoen het.
Daarna het ouboet vir nog 9 maande saam met kleinsus gevoed. Dit het so baie gehelp. Ons is nie weer deur die moeilike eerste weke van gebarste tepels en wip plank tussen te veel en te min melk nie. Wat ‘n seën.”
1 Response
[…] Mamma Zel 'n Ma se los gedagtes TuisteAbout RSS ← Refluks en intoleransie Ma’s wat borsvoed → […]