7

Nooit te oud vir die bors nie

2 August 2012
Share

Hierdie week (1-7 Augustus 2012) is die 20ste Wêreld Borsvoeding week. Daarom het ek besluit om ‘n ou artikel van my wat in die Julie 2011 uitgawe van die Baba en Kleuter verskyn het te laai.

Nooit te oud vir die bors nie

Meeste ma’s beoog om vir 6 maande of ‘n jaar te borsvoed. Wat gebeur egter daarna?

Die getal vroue wat na 12 maande nog borsvoed is waarskynlik meer as wat mens verwag. Volgens die UNICEF se statistiek vir 2003 borsvoed 66% van Suid-Afrikaanse vroue nog tussen 12 en 15 maande en 31% nog tussen 20 en 23 maande. Dit is taamlik hoog as jy in ag neem dat slegs 12% van ons land se vroue eksklusief borsvoed vir die eerste 4 maande.

Vroue beplan gewoonlik ook nie om lang-termyn te borsvoed nie. Dit is bloot ‘n verhouding wat mettertyd tussen ‘n ma en haar baba ontwikkel. Meeste vroue sal immers nooit in die eerste weke van worsteling om borsvoeding te bemeester dink dat hulle vir meer as ‘n jaar sal borsvoed nie. Tog teen 12 maande begin baie ma’s emosioneel voel by die gedagte om die ongelooflike borsvoed verhouding, wat oor maande ontstaan het, te beëindig.

Dis eers as jy self lang-termyn borsvoed dat jy meer en meer hoor van ander vroue wat dit ook doen. Om verskeie redes is lang-termyn borsvoeding nie iets waaroor veel gepraat word in die Westerse kultuur nie. Een hiervan is waarskynlik die kritiek wat dit uitlok. Mense is oningelig. Tydens ‘n vlug kon die passasier langs my glad nie verstaan hoekom ek nog my 5 maande oue baba borsvoed nie. Was sy nie al te groot om nog geborsvoed te word nie?

Voordele van borsvoeding

Daar is egter verskeie redes om steeds te borsvoed na ‘n jaar. Jen Davis skryf in ‘n artikel vir La Leche League se “New Beginnings” dat

  • Borsmelk steeds die beste bly. Dit bevat nie net teenliggaampies nie, maar ook vitamienes en ensieme.
  • Die kognitiewe ontwikkeling van borsbabas is beter. ‘n Studie in die Philipyne het dit bevestig toe gevind is dat die tydsduur van borsvoeding geassosieer kan word met verbeterde kognitiewe prestasie teen 8 ½ jaar. Die resultate was nog meer beduidend vir kinders met ‘n lae geboorte gewig
  • Teen 12 maande is ‘n baba se immuunstelsel nog net 60% ontwikkel. ‘n Kind se immuunstelsel is immers eers teen 6 jaar volledig ontwikkel. Borsmelk wat teenliggaampies bevat help dus om jou peuter gesond te hou.
  • Borsvoeding is ook vertroostend vir siek kinders

‘n 2002 studie wat gepubliseer is in die “Journal of the American Medical Association” (JAMA) het getoon dat volwassenes wat geborsvoed is hoër IK’s gehad het. Die wat vir ten minste 7 tot 9 maande geborsvoed is het die grootste toename, van 6 IK punte, gehad.

Verder is borsmelk net soveel meer gerieflik. Dis maklik om saam te vat op enige uitstappie. Daarby is borsbabas minder geneig om te sukkel met latere allergieë.

Jen voel dit is interessant dat ouers nie kinders kan dwing om te kruip, loop of praat voor hulle reg is nie. Tog word ouers aanbeveel om te speen sonder om in ag te neem dat dit een van die beduidendste gebeurtenisse in ‘n kind se lewe is.

In die bekende Dr William Sears se “The Baby Book” skryf hy dat studies gedoen is op duisende kinders wat later eers gespeen is. Hulle het gevind dat die kinders meer onafhanklik is, dat hulle meer na mense as na die materiële aangetrek word, makliker is om te dissiplineer, minder woede ondervind en vertroue uitstraal. Volgens hom is kinders wat nie voor die regte tyd gespeen is nie, die gelukkigste en mees gebonde kinders.

Jean Bumgarner, skrywer van “Mothering your nursing toddler”, skryf dat borsvoeding help met tipiese peuter frustrasies. Baie families vind dat dit bydrae om die gevreesde “terrible twos” te verander in die “terrific twos”.

Verskeie meer onlangse studies het volgens Cindy Harmon-Jones gewys dat die beskermende effek van borsvoeding toeneem met tydsduur. So beskerm lang-termyn borsvoeding byvoorbeeldteen latere vetsug.

Langtermyn borsvoeding het voordele vir beide ma en baba. Babas het ‘n laer kans on seliaksiekte, diabetes, vetsug, sommige kinderkankers, Crohn se siekte, urineweginfeksies en in latere jare endometriose in vroue te kry. Vir die ma’s is daar ‘n verlaagde kans om borskanker (hoe langer die tydsduur wat ‘n vrou borsvoed hoe beter is haar beskerming teen borskanker), eierstok kanker, osteoporose, endometriale kanker en urineweg kanker te kry. Borsvoeding verlaag ook die insulien behoeftes van diabetiese vroue.

  

Die diereryk leer

In haar boek, “A Time to wean”, het Kathrine Dettwyler, gekyk na die speen gewoontes van soogdiere. Na aanleiding van vergelykings het sy gevind dat dit soortgelyk is aan mense wat borsvoed vir tussen 2 ½ en 6 jaar lank. Tog beveel dokters gereeld aan dat babas vroeër gespeen word. Sally Kneidel voel dat dit nie gebaseer is op navorsing nie, maar eerder op kulturele verwagtinge. Sy voel ook dat ons gejaagde samelewing die uitkyk beïnvloed. Daar word gevoel dat onbeperkte borsvoeding nie aanpasbaar is met ons moderne leefstyl nie.

Die uitdagings

Ongelukkig is borsvoeding vir langer as ‘n jaar nie net maanskyn en rose nie. Die Babycentre webwerf lig uit dat een van die groot negatiewe punte is dat daar opmerkings gaan wees van oningeligte familie en vriende. Sommige vroue se menstruasie siklus keer ook nie terug terwyl hul borsvoed nie en/of hulle vind dit moeilik om weer swanger te raak. Dit kan ook uitputtend wees om jou peuter te borsvoed veral as daar weer ‘n nuwe baba in die huis is. 

Die besluit om jou baba vir langer as ‘n jaar te borsvoed is ‘n hoog persoonlike besluit. Dit is ‘n saak waaroor elke vrou vir haarself moet besluit. ‘n Keuse waar kritiek van buite werklik onnodig is.

Kom loer gerus wat ma’s te se gehad het oor hulle ervarings

Verwysings

www.childinfo.org/breastfeeding_countrydata.php

http://www.llli.org/NB/NBSepOct07p196.html

http://www.llli.org/NB/NBJulAug90p99.html

http://www.llli.org/ba/May06.html

http://www.babycentre.co.uk/baby/breastfeeding/extendedbreastfeeding/

http://www.kellymom.com/bf/bfextended/ebf-benefits.html

http://www.llli.org/Release/intelligence.html

Brock KE et al. Sexual, reproductive and contraceptive risk factors for carcinoma-in-situ of the uterine cervix in Sydney. Med J Aust. 1989 Feb 6;150(3):125-30. .

Petterson B, Hans-Olov A, Berstr�m R, Johansson EDB. Menstruation span-a time-limited risk factor for endometrial carcinoma. Acta Obstet Gynecol Scand 1986;65:247-55.

Rosenblatt KA, Thomas DB, and the WHO collaborative study of neoplasia and steroid contraceptives. Prolonged Lactation and endometrial cancer. Int J Epidemiol 1995;24:499-503.

Davies HA et al. Insulin requirements of diabetic women who breast feed. BMJ. 1989 May 20;298(6684):1357-8.

http://www.llli.org/Release/cancer.html

http://www.llli.org/llleaderweb/LV/LVFebMar98p3.html Priscilla Young Colletto – Artikel Beyond Toddlerhood: The Breastfeeding Relationship Continues

Stuebe, A. M., J. W. Rich-Edwards, W. C. Willett et al. Duration of lactation and incidence of Type 2 diabetes. JAMA 2005; 294(20):2601-10.

Karlson, E. W., L. A. Mandl, S. E. Hankinson, and F. Grodstein. Do breastfeeding and other reproductive factors influence future risk of rheumatoid arthritis? Results from the Nurses’ Health Study. Arthritis Rheum 2004; 50(11):3458-67.

Dewey KG, Finley DA, Lonnerdal B. Breast milk volume and composition during late lactation (7-20 months). J Pediatr Gastroenterol Nutr 1984 Nov;3(5):713-20.