10

Kinders in die kerk

3 August 2012
Share

Ek het al baie gewonder wanneer mense besluit het kinders behoort nie meer in die kerk nie. Hoekom word hulle deesdae vermaak met poppekas, prentjies knip en plak en oulike stories? Is dit nie die tipe goed wat hulle in elk geval deur die hele week doen nie? Wanneer het ons besluit kinders is nie meer intelligent genoeg om te verstaan wat in ‘n erediens gepreek word nie?

Ek weet, ek weet. Hope mense gaan sê dienste is te lank vir kinders en hulle kan nie so stil sit nie. Maar is dit nie juis die punt nie? Leer kinders dan nie juis uit ons voorbeeld nie? As hulle nie van kleins af sien hoe ons optree nie, hoe kan ons verwag dat hulle later as tieners skielik gewillig stil gaan sit en na lang preke luister? Ons kerke spook hulle dood met tieners en jong mense wat nie meer kerk vas is nie, maar skep ons nie juis self hierdie situasie nie?

Ek dink kerk toe gaan is baie dieselfde as huis werkies. Terwyl kinders klein is wil hulle dit doen, want hulle wil groot wees. Hulle wil doen wat jy doen. Vensters was, vloere mop, wasgoed weg pak, skottelgoed en mure was is pret. In die proses leer hulle sommer dat dit deel van die lewe is. Maar gee jy daardie selfde take vir die eerste keer vir ‘n tiener sit jy met ‘n dikbek kind wat nie die harde, simpel werk wil doen nie. Een wat rebelleer teen die onregverdigheid.

So sit my eie 2 kleuters toe weer die ander Sondag tussen al die grootmense, terwyl die ander kinders in die saal baljaar. (Snaaks genoeg het hulle nog nooit vir my gevra hoekom hulle nie saam met die ander kinders na die voorsang en 5 minute kinderpreek uitgaan nie.) Tog is hulle nie onwelkom nie. Ja, daar is die enkele suurknolle, maar meestal kry die 2 net glimlagte en tannies en ooms wat hulle hare na die diens wil kom streel. So tussen die gekriewel en rondskuif op die bank besef ek dat hulle tog luister, want elke nou en dan word daar iets oor die diens in my oor gefluister. Of dit nou iets is waaroor hulle saam stem (soos ons knaap wat ewe beaam toe dominee sê dat ons beter moet kyk na wat ons kinders kyk op TV, want wat mens sien bepaal jou hart) of dit ‘n vragie of opmerking is.

Kinders is soos sponse. Dis in ons hande om te besluit wat hulle gaan opslurp. Ons kan hulle bly vermaak met die ligter kant van die Bybel of ons kan hulle kans gee om met die diepte daarvan kennis te maak. Ek lees net die ander dag dat die meeste Christene tussen 4 en 14 jaar tot bekering gekom het. Tussen 4 en 14 is ons die meeste ontvanklik vir geestelinge en ander ontwikkeling. Doen ons ons kinders dan nie juis ‘n onreg aan om in die goue jare net met hulle kerk te speel nie? Is dit nie juis nou wat ons hulle moet help om die pad na God te vind nie? Hoeveel meer standvastig kan hulle lewens nie wees as hulle met hul hand in die van die Here deur die onstabiele tiener jare kan loop nie?