Ek is mal oor hoe kinders se konsep van “baie” verander soos hulle groot word. Toe hul heel klein was was 2 baie. Toe later 3. Ek sou gereeld hoor hoe hulle eerder 2/3 sou sê as hulle van baie wou praat. Nog later het 10 baie geword en deesdae is 17 en 23 baie vir ons oudste spruit. As hy wil sê iets was vinnig dan het dit 17 kilometer per uur gery! En as dit BAIE vinnig was 70/80.
So tussen onkruid uittrek wil die knaap toe weet hoekom is daar onkruid. Ons praat toe weer oor Adam en Eva en die sondeval. Natuurlik volg daaruit weer ‘n gesprek oor die hemel. Hy is nog gefassineer met die hemel. Hy wil net weet hoe dit daar gaan wees en wil so graag nou al dood gaan sodat hy vir Jesus kan sien. So tussen die ernstigheid deur sê hy “ek gaan eendag met my boetie in die hemel speel”. Boetie? Ek probeer hard dink waarvan hy praat, want die knaap het net ‘n sussie. “Ja, my boetie wat ek gaan hê as ek eendag ‘n pappa is”. “O, jy bedoel jou seun”. “Ja, ek gaan ‘n boetie en nog ‘n boetie en ‘n sussie en nog ‘n sussie hê.” “Sjoe, jy gaan baie kinders eendag hê.” “Ek gaan 17 boeties hê!” (Dus BAIE) “So baie, dan gaan jy eendag baie geld moet maak. Watter werk gaan jy doen wat so baie geld gaan maak?” “Ek weet nie”. Die wat gaan jy word vrag het al baie antwoorde in die verlede gehad. Van ‘n dokter, tot werk soos pappa s’n. Van ‘n bouer tot ‘n lorrie bestuurder. Ek begin al die opnoem. “Ja, ek gaan ‘n lorrie bestuurder word. Ek gaan ‘n Peterbilt ry met klomp ligte oral op hom. Ek gaan in die nag goed vir mense aflaai.”