3 August 2012
Share

Dit is werklik verbasend hoe vinnig die kinders aangepas het by die geen-TV-in-die-week reël. Dis een van die beste besluite wat ons nog gemaak het. Hulle is soveel rustiger en speel soveel lekkerder saam. Ek het verwag dit sou moeilik raak toe die koue nat winter begin, maar dit was glad nie ‘n probleem nie.

Een aand heers daar chaos op die eetkamer tafel en ek besluit ons gaan sommer in die sitkamer eet. In die verlede sou die kinders wou TV kyk as ons daar eet. Die aand kom die versoek (tot my verbasing) egter “sal pappa vir ons musiek aan sit?”. Dit maak ‘n ma se hart sommer ekstra bly.

Met die Olimpiese spele wat aan die gang is het die geen-TV reël skipbreuk gelei. Dis immers net 1 keer elke 4 jaar wat mens gimnastiek te sien kry. Natuurlik bly dit nie daar by nie. Ons moet immers darem ons span ondersteun. Die 2 is gek oor die gimnastiek. Dis ook nie net wat die gimnaste doen wat hulle aandag trek nie, maar ook hulle blink klere. Pop was net baie verbaas dat die meisies nie broekies aan het nie. Op die oomblik word hier al te dikwels deur die huis gedans, gerol en tol, bollemakiesies gemaak en sommer net lawwe bewegings.

Ons knaap is op die woes kompeterende stadium. Dit kan nogal uitputtend raak, want selfs wie eerste vir mamma nagsoen of druk en wie die meeste soene en drukke gee is ‘n kompetisie. Ek is menigte aand raadop. Die Olimpiese spele is dus nou so reg in sy kraal. Sommer die eerste dag het hy besluit sy gunsteling span (dis nou as Suid-Afrika nie deel neem nie) is Brasilië. Ek weet steeds nie waarom dit presies is nie. Miskien hou hy bloot van die groen en geel of dalk het Rio iewers afgesmeer op hom. Sy ontsteltenis bly egter groot as daar ‘n wedstryd is en SA is nie in dit nie. Dis nog groter as ons nie 1ste kom nie! Ons MOET immers wen!

Hy sit vasgenael voor die TV. Dit maak nie saak of dit swem, kajak, gimnastiek of perde is nie. Selfs strandvlugbal. Daar het hy die anderdag vir Argentinië geskree. En elke keer op die bank rond gehop as hulle ‘n punt aan geteken het. Al die punte dop hou dink ek natuurlik is fantasties vir sy getal begrippe, maar vir hom is dit net ‘n speletjie (soos dit hoort). Hy verstaan net nie mooi hoe iemand 1ste kan wees en dan weer iemand anders nie.

Die heeltyd wil hy weet watter land is voor en so moet ek gereeld hoor “wie is die land met die wit, rooi en blou?”. Hmm, dis nogal moeilik as jy nie self die vlag gesien het nie! En moenie dink sy oog sal ‘n SA vlag iewers mis nie (en ook nie die van Brasilië). Ek gebruik maar die nuwe entoesiasme om vir hom te wys waar die verskillende lande in die wêreld is. Om vir hom te probeer leer dat wen nie alles is nie. En dat dit simpel is om te huil as jy ‘n silwer medalje kry. Net om immers van die beste in die wêreld te wees, al kry jy geen plek by die spele nie, is fantasties. Hy verstaan nog nie mooi dat dit iets heel anders is om 1 van 4 of 5 in ‘n kompetisie te wees as 1 uit 1000de en 1000de nie.

Ek is ook konstant besig om getalle op te sê. “Wat is ‘n 4 en ‘n 1 en ‘n 3?” 413. “Wat is ‘n 1 en ‘n 8 en ‘n 5?” 185. Die nommers op almal se rûe het hom lekker laat kop krap. Hulle het immers name, hoekom moet hulle nommers hê? Dis heel fantasties om na die spele deur die oë van ‘n kind te kyk.