0

Elk ‘n superma

7 August 2012
Share

Praat met mamma’s en jy kom gou agter ons almal voel skuldig oor iets. Ons wil almal graag supermamma’s wees – Hoe onrealisties dit ook al mag wees, veral as jy hoor wat ons dink ‘n superma is!  En dis ook nie moeilik om te verstaan hoekom ons so dikwels voel ons skiet te kort nie. Mamma’s wat bottelvoed vertel van die kritiek wat hulle kry, omdat hulle nie geborsvoed het nie. Of die wat wel het dat hulle nie vir lank genoeg geborsvoed het nie. As ‘n mamma wat wel lank geborsvoed het, weet ek weer dat jy van die begin af moet hoor, hoekom gee jy nie bottels ook nie, hoekom borsvoed jy nog steeds. Feit is ongeag wat ‘n ma doen sal daar altyd kritiek daar buite wees. Nugter weet hoekom. Ons wil immers net elk die heel beste vir ons kinders hê. Hoekom ondersteun ons nie eerder mekaar se besluite nie?

Ek en my 2 kinders was ‘n hele ruk terug besig met inkopies toe ‘n op en wakker tannie van 83 my skielik stop. Sy wou net sê dat sy reuse bewondering het vir deesdae se ma’s wat regkom met 2 klein kindertjies. Verbaas merk ek toe op dat vroue van haar generasie immers baie meer kinders, en dikwels nog korter opmekaar, gehad het. Dit moes immers nog ‘n groter uitdaging gewees het. Die tannie lag en sê: “Ja, maar ons het soveel meer hande gehad wat gehelp het”. Hoe raak het die tannie dit nie opgesom nie. Ons ma’s voel dikwels ons skiet te kort, maar ons doen so ongelooflik baie. En dit dikwels met die minimum hulp.

Is dit nie tyd dat ons vir ‘n slag gaan sit en dink oor alles wat ons reg doen nie? Eerder as om vas te haak by wat ons nie by uit kom of nie reg kry nie?