Voor jy jou oë uitvee is jou baba groot genoeg om te begin eet. Advies rondom wanneer om te begin met vaste kos en wat om eerste te gee verskil baie. Ek gaan eerder nie daarop in gaan nie. Ek voel dis belangriker dat jy ‘n gesonde eter kweek. Hier is my wenke om dit te doen (baie van die mag ook help om moeiliker eters op die regte pad te help)
– Ongeag met watter kos jy eerste begin, moenie te lank op dieselfde ding vassteek nie. Babas is baie meer ontvanklik vir nuwe smake en teksture as ouer kinders. Hulle sal ook gewoonlik later voorkeur gee aan kos wat hulle die eerste maande aan bloot gestel is.
– Vinger kos doen wonders. Dit is ‘n gemors aan die begin, maar babas is mal daaroor om meer in beheer te voel. Daarby saam is dit ‘n wonderlike hand oog koördinasie oefening en stel hulle bloot aan nuwe teksture. Babas kan tussen 6 en 7 maande al vingerhappies begin eet.
– Gee eerder klein etes meer gereeld. ‘n Groot bord kos is oorweldigend vir babas en kinders. Hulle eet gewoonlik ook nie so baie op ‘n slag soos wat mens verwag nie. Tog is hulle vinnig weer honger.
– Moenie van ‘n peuter verwag om lank stil te sit om te eet nie. Peuter is gebou om te beweeg. Dikwels skop die beweeg drang in lank voor hulle magies vol is. Hou eerder die oorblywende kos vir ‘n rukkie later
– Hou aan daarmee om vir hulle kos waarvan hulle nie hou nie saam met kos waarvan hulle hou te gee. Mens moet gewoonlik meer as een keer bloot gestel word aan ‘n nuwe smaak (en hoe ouer ons word hoe langer vat hierdie proses). Net omdat hulle nie van iets vandag hou nie, beteken nie dat hulle volgende week nie daarvan gaan hou nie
– Eet saam as ‘n gesin. Babas en kinders is mal daaroor om deel te wees van die familie. Hulle is mal oor ander na te boots en sal eerder iets eet wat almal eet.
– Moenie ‘n groot dinge maak van wat hulle nie eet nie. Prys hulle eerder vir wat hulle wel eet. Baie peuters/kleuters eet juis sleg, omdat hulle sodoende ekstra aandag (hoe negatief ook al) kry.
– Bly weg van ongesonde peuselhappies en lekkergoed. Dit is leë kalorie wat geen voedingswaarde het nie en hulle eetlus demp.
– Beperk hulle vloeistof inname (veral melk, sap en koeldrank). Dit kan nooit ‘n gesonde ete vervang nie en demp hulle eetlus. Vir babas onder ‘n jaar bied eers kos en dan melk voedings aan. Na ‘n is kos egter belangriker. Kinders (ouer as 12 maande) het net 500ml suiwel per dag nodig (dit sluit jogurt en kaas in).