2

Pasgebore baba slaap wenke

5 September 2012
Share

My sus verwag een van die dae haar eersteling. Soos die groot dag nader kruip het ek vir haar wenke begin gee vir die eerste weke. Ek deel graag die. Die eerste is op slaap. Julle sal sien ek verwys na die baba as hy (want sy verwag ‘n seuntjie), maar natuurlik tel dieselfde vir dogtertjies ook.

– Sit hom eers in die bed net voor julle self gaan slaap (‘n ma van 4 het vir my die wonderlike wenk gegee). Babas slaap die eerste stuk van die nag die langste, so as jy dan ook gaan slaap kry jy die beste slaap in. Plus die huis is dan donker en stil, so hul slaap beter en verstaan die konsep van dag en nag beter.
– Moenie in die nag ligte aan sit as jy moet voed/doeke ruil nie. Hou dit so donker moontlik. Dit help hulle om nie te wakker te word nie en te besef nag is anders as dag.
– Hou dit stil tydens voedings. Moenie baie met hom praat (of voor die TV gaan sit nie). Sit eerder oorfone met musiek aan om die tyd om te kry. Daar moet ‘n definitiewe verskil tussen dag en nag wees.
– Laat hy die eerste nag of 2 by jou in die bed slaap (vir my was dit die tyd in die hospitaal). Daarna het jy ‘n redelike idee watter geluide hy maak as hy droom en watter as hy ‘n vuil doek het of honger is. As hy dan in die nag geluide maak, weet jy vir watter om op te staan en wanneer jy hom net kan los. En soms het jy net nodig om jou hand op hom te sit om hom weer rustig te kry. Moenie aanneem hy is honger net omdat hy onrustig raak snags nie.
– Begin van die begin af met ‘n aand roetine. Hoe vroeër jy daarmee begin hoe vroeër werk dit. Dis net iets soos: Bad tyd, laaste voeding (al het hy onlangs een gehad) en dan gaan slaap.
– Jy sal waarskynlik tydens elke nag voeding moet doek ruil in die eerste weke. Op die manier is die kanse beter dat hy nie wakker raak agv ‘n vuil doek nie. Kyk wanneer die beste tyd vir doek ruil is. Gewoonlik is dit voor die voeding, dan kan jy hom net na die voeding half aan die slaap in die kot sit. Baie babas se maag werk egter tydens of net na ‘n voeding, so vir hulle is dit beter om na die voeding doek te ruil.
– Kyk hoe slaap julle beter. Baie mense slaap beter as hul baba by hulle in die bed is. Ander kan weer glad nie so slaap nie (ek word elke keer wakker sodra hul ‘n beweging maak). So verskil mense. As hy wel saam met jou in die bed slaap, waak daar teen om hom met elke wakker word te voed. Dis so maklik en die babas raak dan in die gewoonte om meeste voedings snags in te pas en teen ‘n jaar is jy gedaan!

Maar die belangrikste wenk van almal!

– Slaap self op elke moontlike geleentheid wat jy kry. As hy ‘n slapie vat in die dag, slaap saam. Jy kan later weer die huis reg ruk, maar jy kan nooit weer die slaap in haal nie. Jy hoef nie ‘n superma te wees nie! Jy mag dink die min slaap is net vir ‘n kort rukkie en jy kan dit hanteer, maar dis nie heel waar nie. Ja, hulle slaap die slegste die eerste ruk, maar dis nie die eerste weke wat jou vang nie. Dis die jare van onderbroke slaap wat daarop volg wat die grootste tol eis.

Ons jongste is immers al 3 en ek voel nog meestal soos ‘n zombie (en my 2 het op 3 en 8 weke al deur geslaap). Kinders slaap egter ‘n paar nagte goed en dan is daar weer iets. Tande, siekte, nagmerries, tande kners, praat in die slaap en en en. En dis dit wat jou later onder kry. So probeer soveel slaap kry terwyl hulle nog klein is en in die dag slaap (en jy dus ook ‘n uiltjie kan knip). En natuurlik help dit nie om getroud te wees nie. Mens gaan slaap soveel later as jy eers kinders het, want jy moet/wil immers ook ‘n tydjie saam met jou man saans hê . So ipv gaan slaap wanneer die kinders gaan slaap, bly jy nog ‘n hele ruk wakker. En al die goedjies saam vorm ‘n sneeubal effek oor die jare.