Ek moet net gou nog ‘n paar oulike goed wat ons die laaste week en ‘n half gedoen het deel. Meeste hiervan het sommer net so gebeur.
Die kinders het grafieke geteken. Hulle het Smile dobbelstene met kleure en vorms op. Ons het die gebruik om te kyk watter kleur of vorm hulle die meeste gooi. Dit was ‘n groot treffer en ek moes net nog en nog rame teken. Aanvanklik het Ellard net gekyk watter kleur kom eerste tot heel bo. Later het hy egter ‘n ander plan gemaak. Al die kleure moes “klaar maak”. Hy het bloot bo geskyf in watter volg orde hulle dit doen (sy eie plan). Hiervoor het hy sy stensils gebruik. Hy is regtig nou oulik met getalle. Hy kan van 1-10 lees en oral waar ons gaan moet ek die groter getalle vir hom lees. Afrikaans is in daai opsig nogal moeilik. Jy moet heen een weer lees. Soos 125 wat honderd vyf en twintig is. Jy begin links, spring dan heel na regs en lees die laaste getalle van regs na links. Nogal deur mekaar vir ‘n 5 jarige.
Ons het ook lekker met klei gespeel. Hulle begin nou self die oulikste goedjies maak. Die keer het Salomie ‘n rusper met voelers gemaak en Ellard (wat resies bedinges is) moes natuurlik ‘n “race car” maak, kompleet met drukvin agter op. Volgens hom hoe groter die vin is hoe vinniger is die kar.
Gister ontdek ek toe ‘n bottel babaolie in die kas en maak maanklei (moondough). Ek het bloot 4 koppies rogmeel met ‘n halwe koppie babaolie gemeng. So maklik soos dit. Ek kon nog nooit mooi die doel verstaan nie. Dit werk immers dieselfde as sandput sand met ‘n bietjie water by. Vir die kinders is dit egter ‘n nuwe avontuur om met die meel/klei in die huis sandkastele te bou. Natuurlik is ek te dankbaar vir nog iets super maklik en vinnig waarmee hulle vir ure kan speel.
Ons het ook ‘n mannetjie (Ellard) en vroutjie (Salomie) gemaak van leë jogurt houers, pypskoonmakers en papier. Dit was ‘n lekker plak, draai en knoop aktiwiteit.
En amper vergeet ek. Ek het die orige gekleurde rys van ons “skud en vind” bottels in ‘n roomys bak gegooi en gemeng met vorm koppies. Dit is te heerlik vir hulle om in die rys te grawe vir spesifieke kleure en vorms. Die word dan in leë eierhouers gesorteer.
Onnodig om te sê my huis is die week gereeld met meel of rys bestrooi. Gelukkig is dit vinnig en maklik om op te suig.
1 Response
[…] Prinses Salomie ← Vinnige pret […]