Ons het ‘n paar lekker dinge gedoen die laaste week. Een hiervan was poffertjie verf soos Ellard dit noem. Of pop verf volgens Salomie (dit maak “pop-pop”). Ek het op die oulik resep afgekom. Natuurlik moes ons dit net probeer.
In hierdie huis is daar egter nie iets soos bruismeel nie, so ‘n ander plan moes gemaak word. Ek het dus sommer rog meel gebruik en 15ml kremetart en 7.5ml koeksoda met 2 koppies rog meel gemeng. Ek weet nie of dit is omdat ons rog ipv gewone meel gebruik het nie, maar ek moes heelwat meer water gebruik as volgens die resep.
Ons brousel het so gelyk vir elke kleur:
1 eetlepel “rog bruismeel” (soos hierbo verduidelik)
1 eetlepel sout
1 eetlepel water
‘n paar druppels voedselkleursel
Verf dan met oorpluisies en sit die voltooide prentjie in die mikrogolf vir 30 sekondes. En wa-la!
Die verf klink min, maar na 3 dae se verf is daar nog oor! Ek het gedink die verf sal nie meer lekker werk die volgende dag nie, maar blykbaar maak dit geen verskil nie.
Ellard is versot daarop om sy eie skeppings te maak. Karre (onderste 2 prente) en bome en gras (links bo) is op die oomblik sy gunsteling.
Salomie het nog nie mooi die selfvertroue om haar eie ding te doen nie. Sy wil hê ek moet ‘n prentjie teken en dan verf sy dit net. Ek vermoed dit is omdat sy nog nie die prente so mooi soos ouboet reg kry nie.
En natuurlik moes ek ook saam speel. Ek het sommer ‘n paar kaartjies gemaak vir die pret.
1 Response
[…] gemaak. Pop ‘n hartjie prentjie en ons bul ‘n penhouer. Dan was daar natuurlik ‘n poffertjie verf en ook sand (Sandart) prentjie. Ons het ‘n “Beste pappa in die wêreld” trofee gemaak. […]