28 September 2012
Share

IMG_9409

Dit is manlief se verjaarsdag maand. Ons 3 by die huis was dus die maand vreeslik besig om vir hom geskenkies te maak. Dit was soveel pret vir die 2 rakkers. Hulle het dit ongelooflik geniet om al die verrassings vir pappa te maak. En buiten vir ons knaap wat dit laat deur skemer het dat ons ‘n liedjie op die Glockenspiel oefen en ons pop wat 2 dae voor die groot dag laat glip het dat ons vir hom koekies gebak het, was hy salig onbewus van ons geknoei.

Ek dink hy het ernstig begin wonder wat ons deesdae gedoen het. Gewoonlik kan hulle nie wag om saans, as hy tuis kom, hulle skeppings van die dag vir hom te wys nie. Die maand was daar egter min daarvan. Al die skeppings was immers verrassings! En was hulle nou opgewonde oor die groot dag. Ons het al vir weke slapies afgetel.

IMG_9398

Ons was nogal bedrywig. Die 2 het wol skeppings vir hom gemaak. Pop ‘n hartjie prentjie en ons bul ‘n penhouer. Dan was daar natuurlik ‘n poffertjie verf en ook sand (Sandart) prentjie. Ons het ‘n “Beste pappa in die wêreld” trofee gemaak. Tonne koekies gebak, want my liewe man is altyd nog hol na aandete en opsoek na iets om aan te knaag.

IMG_9404 IMG_9408 IMG_9431  IMG_9319

Die heel lekkerste was egter om voetafdrukke te maak. Ons het die maansand gebruik om die afdrukke te maak. Daarna het ons gips (2 koppies gips gemeng met 1 koppie water) in die afdrukke gegooi. Natuurlik het die 2 self hulle “voete” geverf. Dit was so maklik. Ons gaan verseker nog handafdrukke ook maak, maar waarskynlik die keer in klei, aangesien dit meer detail wys.

IMG_9399

Al die geskenke het pappa vroegoggend in die bed ontvang, met ‘n kolwyntjie koekie met kersie.

Ons was ook hard aan die oefen. Bulletjie het “Veels geluk liewe pappa” elke dag op die Glockenspiel geoefen. Hy kom al baie mooi reg. Pop het weer ‘n gediggie geleer “Wippenoster” van Jaco Jacobs. Na werk, nog voor aandete, het hulle dus vir hom “konsert” gehou.

Manlief het egter ‘n probleem. Die bul het klaar besluit dat daar vir Mamma se verjaarsdag ook geskenke gemaak moet word volgende jaar. “Pappa kan ons in die aand help”.