0

Wat ons by AI kan leer

28 September 2025
Share

AI (oftewel KI)    is die groot gons woord op die oomblik. Dis op ons fone, beheer ons sosiale media plasings, mense gebruik dit vir werk en skep en vele meer. Oral kan jy hoor van “the good, the bad and the ugly” van AI. Maar wat kan ons by dit leer?

Buiten vir al die voordele wat mense daaruit put begin daar al meer kommer ook oor dit ontstaan. AI het geen morele kompas nie. Dit het nie ‘n probleem om ‘n leuen te vertel nie – om sommer net blatant te lieg. AI gee nie om om fiktiewe bronne te skep om die inhoud wat dit geskep het te staaf nie. Dit het nie ‘n probleem om iemand aan te moedig om selfmoord te pleeg nie. Dit maak planne om te doen wat dit wil doen, selfs as mense dit ‘n ander opdrag gee. Dit manipuleer mense, dit seksualiseer vroue. Die is net ‘n paar voorbeelde van swak gedrag wat AI toon. Hoekom gebeur dit?

Die “slim” mense het dit goed gedink om AI los te laat op al die inligting op die internet om daarvan te leer. Inplaas daarvan dat dit wetenskaplike artikels gebruik het om dit ‘n grondige kennis van onderwerpe te kry, het dit vrye toegang tot ALLES op die internet en sosiale media gehad. Baie van die bronne is dus nie korrekte inligting nie. Alles wat ons op die internet vind is immers nie waar nie. AI het dus ‘n voorste sitplek gekry in die samelewing en al ons verwronge idees. En kom ons wees eerlik alhoewel daar hope nuttige inligting op die internet is is daar baie meer skadelike inligting. Van pornografie tot pedofilia, dis waar onwettige transaksies plaasvind en kuberbullies hulle dinge doen.

AI word die konkosie van polities korrektheid, vooroordeel en sekulêre idees gevoer, want dit is die stemme wat die hardste skree. Dis op die internet waar mense met die duisterste dinge besig is. Ons kan dus nie verstom staan as die hart van AI ook gevul is met die dinge nie. Dit volg bloot die voorbeeld wat ons vir dit gestel het.

Net so kan ons nie verstom staan as ons kinders dieselfde toksiese konkokosie gevoer word en hulle harte daarvan vol is nie. Daar is vele verse in die Bybel wat ons maan om te waak oor wat ons in ons harte plaas nie.

Ps 1:1-2 WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.

Fil 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Luk 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.

Matt 12:34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

As ouers het ons nodig om te dink oor wat ons in ons kinders se harte toe laat. Leef hulle in ‘n wêreld waar die stem van die wêreld die hardste skree? Of skep ons ‘n ruimte waar hulle harte gevul kan word met die goeie goed wat God vir ons beplan en gegee het.

Ek weet dikwels is ons bang om ons kinders in watte toe te draai en voel dat hulle blootstelling aan die “slegte” ook moet he, sodat hulle kan weet hoe om dit te hanteer. Ons hoop dat ‘n oopgesprek die slegte sal tee werk. Die gevaar is egter dat die kwota sleg meer as die kwota goed is en dat hulle soos die AI eerder die slegte sal bere (en herhaal) as die goeie.

Deur ‘n veilige beskutte omgewing met goeie dinge vir ons kinders te skep maak ons die skat van hul harte vol met die goeie dinge. Dit gee hulle ‘n beter kans om die latere storms van die lewe te deurstaan. Dieselfde tel natuurlik vir ons eie harte; waarmee vul ons dit? Spandeer ons meer tyd aan die goeie? Dink ons oor wat ons lees, kyk, luister? Net omdat ons ouer is is ons nie gevrywaar van wat ons in ons harte plaas nie. Ons het bloot meer beheer daaroor. Kies wys oor waaraan jy tyd spandeer.

Ek het die advertensie oor slimfone vir kinders baie insiggewend gevind. Dit strek natuurlik verder as net ‘n foon. Maar dit laat mens dink.