0

Diep dinge

16 February 2011
Share

Gisteraand wou Ellard maar net nie tot ruste kom nie. Teen 10 uur het ek en hy toe dik stukke gelê en praat in sy bed. Groot ding vir hom is dat hy nie alleen wil wees nie. Ek verduidelik toe dat hy nooit alleen is nie, God is altyd by hom. En God is so groot dat Hy oral is en dat Hy hom sal beskerm net soos Hy vir Dawid en Daniel beskerm het. Daarby is Sy engele ook nog oral om ons te beskerm.

Natuurlik begin ons toe praat oor engele wat groot is, groter as reuse (en glad nie klein soos in die storieboeke nie). Die knaap haak toe af, hulle is soos vlinders. Natuurlik wil ek toe weet of hy al een gesien het. Nee, antwoord hy, “maar as hy in die nag vlieg vlieg die engel saam met hom”.

Ek sal wat wil gee dat hy nou ouer raak en mooi kan begin verduidelik wat hy sien en droom.

Nie lank nie of die gesprek het gedraai na sy verjaarsdag. Hy het immers Franco se Lego lorrie gesien en hy wil nou bitter graag ook een hê. En moenie vir hom vertel hy moet eers 5 wees vir sulke moeilike Lego’s nie, nee, hy’s “laaank”. Die lysie het egter gou gegroei. Hy soek ‘n rooi en groen vinnige kar (soos sy groot oranje een nogal) en dan wag vir dit. Hy soek ‘n boetie pop soos Salomie se groot loop pop waarmee hy dokter-dokter kan speel. Hmm, daai een gaan lol. Seuntjie poppe is nou nie juis die in ding nie.

O, en ek moet net die byvoeg. Ons speel vanoggend in die parkie. Ellard deel ons so ewe mee van die glyplank af: “dis ‘n winderige dag”. Dit nou op een van die windstilste dae wat die kaap kan oplewer. Maar nie 2 ure later nie waai die wind ons amper weg. Interessante knaap om in die huis te hê.