Jaco het die kinders begin leer om “Askies mense” te sê deur met hulle te speel dat iemand ‘n wind breek of los. Ongelukkig het dit nou in ‘n baie snaakse speletjie ontaard waarin hulle maak of hulle winde los /breek en dan kyk wie kan eerste sê “Dit was jy” en dan moet daardie persoon “skies mense” antwoord.
Gister los Salomie ‘n wind en sê ewe mooi “windjie los”. Waarop ek toe vra: “wat sê mens” (bedoelende “Askies mense”). Haar antwoord was egter “was jy”. Duidelik werp die speletjie nie vrugte af nie, maar ek het gedink dis woes snaaks.
Met die warm weer hier is die kinders onmoontlik. Ek’s oortuig hulle ore het afgeval of is af gesit. Eergister is ek al skoon moedeloos. Ellard sê toe vir my: “Moenie hartseer of kwaad wees nie, mamma. Ons sal weer vir jou luister op ‘n ander dag”. Dis nou genoeg om enige mamma se moed vir die res van die dag te breek!
Ek moet net darem spog ook. Ellard vra nou al lank al om glad nie meer doek te dra. Ek’t bly sê hy moet eers droog opstaan in die oggend, maar dit wou net nie gebeur nie. Toe vra hy eergister weer en ek besluit kom ons probeer. Ek sal maar was as dit moet. En raai wat. Hy’t 2 droë nagte agter die rug. Hy staan self op met sy flits as hy in die nag moet gaan piepie. Ek is SO trots op hom.