0

Toe net die brood

31 January 2011
Share

Ellard het oor die vakansie begin hand uit ruk. Hy het die aller verskriklikste woede uitbarstings begin kry. Niemand kon met hom huis hou nie. Dit het net al erger en erger geraak. Ek het later net nie meer geweet wat om te doen nie. Die kleinste dingetjie kon hom so kwaad maak dat sy kop heeltemal uithaak vir ‘n halfuur en dan gil hy histeries en slaan en skop. Dis te verskriklik en ons moes 3/4 keer ‘n dag daardeur. (Carla het een beleef en sal weet wat ek bedoel.)

Genadiglik het Nadia met Lara hier kom speel die vorige week. En natuurlik moes ons toe weer deur een van die episodes gaan. Sy kon nie glo dis Ellard wat so kan te kere gaan nie. Gelukkig noem sy dit toe dat vriende van hulle se kinders sulke woede uitbarstings kry as hulle kos eet waarvoor hulle intolerant is. Ek kon dit nie glo nie, maar het besef dit het wel begin gebeur nadat ons die vakansie die koring-vrye dieet by die venster uit gegooi het. Dis darem erg om nooit ‘n broodjie of koekie te kan eet nie en as jy in elk geval gaan uitslaan en ‘n toe neus, sinus en hoes gaan kry van dit, kan jy dit ten minste ordentlik doen as jy die slag oortree. Moet sê ek het besef die dae van pret was getel. Ellard se bors het snags so toe getrek.

Ons het dus dadelik weer op die koring-vrye dieet gegaan. Dit het wel ‘n week geneem, maar Ellard is weer sy ou vrolike, maklike self. Ek kan dit nou nog nie glo nie. Ons het egter die naweek wegneem vis geëet en vanoggend het ons weer ‘n minder ernstige episode gehad. Nou weet ek ten minste koring is uit soos koekies in die weeshuis vir die knaap. As dit sy gemoedstoestand so gaan aantas en ons almal s’n in die proses, sal hy maar sonder die vreugde van die lekkernye moet gaan.