Salomie begin nou so stelselmatig leer om te tel. Dis nogal ‘n storie as jy tweetalig groot word. Op die oomblik gaan die tellery so: “One, twee, dlie, vyf, agt, nege, tien!”. Dis te oulik.
Sy het ook al mooi geleer van mamma (rog) en pappa (koring) brood. Gister het sy so mooi vir pappa se brood gevra. “Brood pappa s’n blief”. En met blief hou sy altyd die twee handjies saam voor haar. Ek’s seker mense sal dink ek het haar leer bedel. Dit lyk so oulik.
Ongelukkig is ons nou in die myne, moenie en bang fase. Alles is hare en sy sê al te baie na my s’n “moenie”.
Daarby is sy vir alles bang. Of dit regtig bang is of net om aandag te kry sal niemand weet nie. Maar elke geluid of ding maak haar bang en dan wil sy opgetel word. En ergste is as dit slaap tyd is. Dan’s dit “kom mamma terug”. “Bang vir Neno” (Nemo), “bang vliegheig” of “bang vir koppie” (spinnekop).
Die ander aand is sy weer bang vir die spinnekop (waaroor sy net so terloops gek is). Jaco vertel toe vir haar dat sy nie hoef bang te wees nie, want Jesus is groter as die spinnekop. Hier op antwoord sy ewe: “Jip, God groot”. Nou hoe’s daai vir ‘n eerste geloofsbelydenis. Wys net mens is nooit te klein om aan en in Hom te glo nie.
Ag, dis pragtig! Geniet haar voluit! hulle word so gou groot