Ek is steeds verbysterd dat Salomie oor 5 dae al 21 maande oud is. Daar het die laaste ruk ‘n woord ontploffing in die huis plaas gevind. Ek is so dankbaar dat ek op 16 maande en 50 woorde besluit het ek gaan nie meer al die nuwe woorde neer skryf nie. Ek sou lankal kop verloor het as ek moes aan hou.
Die laaste week of wat het haar hoeveelheid sinne van 2-3 woorde soos konyne geteel. Dis “mamma terug” (as sy wil hê ek moet terug kom), “kom mamma”, “my beurt”, “los uit”, “af klim”, “af sit” (dis nou die lig, waaier of liedjie) en haar gunsteling vraag: “maak jy?” en vele meer. Dis so heerlik om te verstaan wat sy deesdae wil hê.
Die beste is egter al die liedjies wat sy sing. Ek staan verstom oor hoe nootvas sy is en hoeveel woorde sy al onthou. As sy begin weet jy sommer dadelik wat sy sing. Enige iets van Hoe ry die boere tot God is groot, Oupa Danie het ‘n plaas tot haar gunsteling Asems en wasems (sy rits sommer die diere name af soos sy saam met die CD sing. Ek kan nie eers onthou watter diere volgende kom nie!)
Ja en Nee is ook ‘n ruk terug vervang met Uh en Uhuh en nou het ja sommer net “jip” geword. Waar sy die goed leer weet net sy. Maar dis vrek oulik. En sy’s vreeslik lief om Tressa te roep (veral wanneer sy besluit het Tressa moet iets kom eet), dan’s dit “tressa”of “tressie” of “linkie” of sommer net “woefie”. Hoe Tressa kophou weet net sy.
My grootste stryd is om Salomie deesdae aan te trek. Sy weet wat sy wil dra en dis 99% tyd ‘n “rokkie”. Al die oulike hempies en broekies lê en wag vir beter dae. En dan moet daar mos skoene ook by wees en darem ‘n ietsie mooi in die hare. Sy’s ‘n regte klein pop. En sy gaan pappa se sak nog ruk.